Hoekom Leef Jy?

Ds Ulrich Ohlhoff - 12 Julie 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Hoekom leef jy? 

Sondag 12 Julie 2020

 

Verwelkoming 

Votum – Ek wil jou vanoggend net weer herinner in wie se Teenwoordigheid jy is wanneer jy na vanoggend se boodskap luister. En ek wil dit doen deur Psalm 86:8-15, ‘n gebed van Dawid vir ons voor te lees. 

Dit is die Skepper God, jou Skepper in wie se teenwoordigheid jy vanoggend stil word. Dit is die Een wat jou gevorm het, dit is die Een wat jou gered het uit die dood, dit is die Barmhartige en genadige God, lankmoedig en vol liefde. Die God wat jou lof verdien. Dit is die God in wie se teenwoordigheid jy vanoggend is, mag jy sy genade en liefde beleef.

Ons gaan vanoggend saamlees uit Matteus 5:17-48. Hierdie is ‘n gedeelte uit die bekende bergrede van Jesus. Die eerste preek wat ons van Jesus lees. In hierdie preek verkondig Hy die evangelie van die koninkryk van God en stel Sy dissipels bekend aan wat hierdie Koninkryk behels. Kom ons lees dit saam. 

Skriflesing Matteus 5:17-48 

Hoekom staan jy op in die oggend? Ek bedoel nou behalwe vir jou wekker wat afgaan of jy wat genoeg geslaap het. Wat maak dat jy uit die bed opstaan en met jou dag begin? Wat motiveer jou? Waarvoor leef jy? Wat dryf jou? 

My vermoede is dat as ons hierdie vrae ernstig opneem en eerlik antwoord baie mense antwoorde sal gee, soos want ek moet werk toe gaan. Ek moet geld verdien om vir my gesin te kan sorg. Ek het verantwoordelikhede wat ek moet nakom. Ek moet die kinders versorg en by die skool uitkry. Ek wil suksesvol wees, ek wil ryk word, ek wil goedkeuring kry of ek is bang vir wat gebeur as ek dit nie doen nie en alhoewel hierdie antwoorde waar is, en alhoewel dit tot ‘n mate goeie motiveerders is vir ons om op te staan, maar dit is nog nie werklike antwoorde vir iemand om voor te leef nie. Dit beantwoord nog nie die vraag oor die betekenis van die lewe nie? 

Inhoud 

As ons die eerste paar verse van vanoggend lees of hoor, dan is ons vir ‘n oomblik stomgeslaan, ons weet amper nie wat om daarmee te maak nie. Wat bedoel Jesus met die wet sal nie verval nie? Meeste van ons is immers geleer dat die wet nie meer ons lewe beheer nie. Is dit nie waarvan Paulus so gereeld in sy briewe skryf nie? Ons is mos vry! Hoe kan Jesus dan sê Hy het nie gekom om die wet ongeldig te maak nie? Is dit nie presies hoekom Hy gekom het nie? Om ons te red van die sonde en die wet? Om die houvas van die wet uit die weg te kry?

En wat bedoel Hy met ons getrouheid aan die wet moet meer inhou as die van die skrifgeleerdes en die Fariseërs? Ons almal weet immers net soos Jesus se dissipels dat die skrifgeleerdes en die Farriseërs baie getrou aan die wet was, hoe kan Jesus verwag ons moet nog meer getrou wees? Ons sal dit nooit regkry nie! Ons elkeen weet immers hoe sondig ons is. Wat het dan nou van die genade geword? Niemand sal tog die wet so getrou kan navolg nie. 

Dan kom Jesus egter en maak dit nog moeiliker. Want Hy neem ‘n paar wette wat ons almal ken, maar maak die wet nog moeiliker. Ons almal weet jy mag nie moord pleeg nie, maar Jesus kom en sê as jy net kwaad is vir jou broer is jy reeds skuldig en deur iemand slegte name te noem is reeds strafbaar. Hy doen dieselfde met egbreuk. Julle het gehoor julle mag nie egbreuk pleeg nie, maar ek sê vir julle elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer is alreeds skuldig, nog lank voor enige fisiese daad gedoen is. Jesus gaan nog verder en sê moet nie ‘n eed aflê nie, laat jou ja jou ja wees en jou nee nee. Dit is darem ongelooflike integriteit. Dan kom Jesus en raak nog meer radikaal, want waar die wet darem ruimte gehad het vir ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand kom sê Jesus draai die ander wang?  Ek wonder of van die dissipels nie tot hier geluister het en gesê het, nee dankie, hiervoor sien ek nie kans nie. Maar dan kom Jesus met nog ‘n wet, jy moet jou naaste liefhê en maak selfs hierdie wet nog moeiliker, jy moet jou vyande liefhê, want dan sal julle kinders van die Vader wees. 

En dit is met hierdie sin dat iets dalk begin sin maak. As Jesus kom en sê ek het nie gekom om die wet ongeldig te maak nie, maar om dit sy volle betekenis te laat kry, dan moet ons vra wat is die betekenis en bedoeling van die wet. Jesus antwoord self hierdie vraag in Matteus 22 en sluit by wat Hy hier sê aan. Liefde. Liefde vir God en liefde vir jou medemens, in die woorde van Matteus 5, selfs jou vyande, ja alle mense.  En hierdie wet, die wet van liefde sal nooit ongeldig gemaak word nie, want dit is ook die wet van die Koninkryk. Die bedoeling van die wet was nog altyd en sal altyd liefde wees. En daarom is dit eintlik maklik om meer getrou aan die wet te wees as die Skrifgeleerdes en die Fariseërs.

Ja die Farriseërs was baie getrou aan die wet, die skrifgeleerdes het elke wet deeglik geken en verstaan, maar nie een van die partye het die hart van die wet verstaan of toegepas nie. Hulle het die uiterlike van die wet nagekom, maar daar was niks wat hulle intern gemotiveer het nie. Hulle het nie die wet toegepas omdat hulle lief was vir God of vir hulle medemens nie. Hulle het die wet toegepas omdat hulle gedink het, dit is die beste ding om te doen. Dit is maar die regte ding om te doen. 

Ongelukkig het hulle in die proses swaar laste op mense gelê en sodoende die hele hart van die wet, die liefde in die agtergrond ingeskuif. En met hierdie uitsprake kom wys Jesus uit hoe mens die uiterlike van die wet kan toepas, sonder om die hart daarvan te verstaan. Iemand kan iemand anders nie doodmaak nie, want hulle weet dit is verkeerd en die wet keer hulle om dit te doen, maar dit beteken nie hulle het die ander persoon lief nie. As jy werklik vir iemand lief is, sal dit jou selfs keer om kwaad te bly, en te skel. Die wet kan jou dalk keer om nie egbreuk te pleeg nie, maar dit is nie ware liefde wat sal keer dat jy nie in jou binneste begeer nie, dit is net ware liefde wat sal maak dat jy kan vergewe en nie vergeld nie, wat kan maak dat jy alle mense, selfs jou vyande kan liefhê. 

En skielik sien ons dan dat hierdie tog in die prentjie van die Bybel inpas. Jesus weerspreek nie hier enige iets wat ons elders lees nie, want alles kom terug na die liefde toe. 

Paulus skryf byvoorbeeld in Galasiërs 5 en sê die wet het niks teen die vrug van die Gees nie, want die vrug van die Gees begin met liefde. Die vrug van die Gees leer ons om die wet se hart te leef en nie die uiterlike daarvan na te volg nie. En Wanneer Paulus hierdie skryf weet ons hy weet waarvan hy praat. Hy wat self ‘n Farriseër was, wat self die wet geken het en daarvolgens probeer leef het, maar wie se lewe verander het deur die ontdekking van Jesus se liefde. Hy wat op die damaskuspad Jesus self ontmoet het en wat Jesus hierna met passie en liefde gedien het. 

Daar is baie lewenswette vandag, redes hoekom mense opstaan en dinge doen. Daar is baie lewensfilosofieë om te volg en te gebruik, maar ware lewe sal eers gevind word as jy die hart van die wet, die liefde in jou lewe ontdek en as jy dit ontdek verander alles, want dan leef jy vir net een rede. Dit word die dryfkrag agter alles wat jy doen, dit word die rede hoekom jy opstaan, hoekom jy leef, hoekom jy werk, hoe jou verhoudinge lyk. Dit is ‘n vervulde lewe, ‘n meer gefokusde lewe, ‘n gelukkiger lewe. 

As jy nie in die liefde van God leef nie, dan gaan jy werk toe, want jy moet geld verdien, jy staan op en kom jou verantwoordelikhede na, soos die Farisieërs en skrifgeleerdes ‘n klomp wette nagekom het. Maar as jy in God se liefde leef, word jou werk meer as net ‘n werk, jy doen dit vir God, nie net vir mense nie. Jy bring liefde na jou werksplek toe, jy straal God uit daar waar jy is. Jou kwaliteit van jou werk gaan verhoog, want jy doen dit nie meer net vir ‘n salaris nie, maar omdat jy vir God jou beste wil gee. Jy is nie meer net opsoek na Sukses of roem nie. Jy is op soek na die verheerliking van God. Jou verhoudinge begin anders lyk en funksioneer, want skielik gaan dit nie meer oor my en my behoeftes nie, maar hoe ek werklik die ander persoon kan liefhê. 

Liefde behoort die rede te wees hoekom elke mens elke oggend wakker word, opstaan en gaan leef. Liefde wat deur ons as gelowiges ervaar is met Jesus wat ons kom red het. Dit behoort ons elke dag te motiveer, te dryf en die rede te wees vir alles wat ons doen. 

Voor jy iets doen kan jy vir jouself afvra is wat ek nou gaan doen in lyn met liefde vir God? Indien nie, moet dit nie doen nie. 

Baie mense het al die vraag gevra; wat is die doel van die lewe? Wat is die roeping in my lewe? En eintlik is dit vir almal dieselfde. Jy is geskep in liefde om in ‘n liefdevolle verhouding met God te leef. Dit moet die bron van jou lewe wees. Wat daaruit vloei kan vir almal anders lyk, een persoon kan boer en ‘n ander kan ‘n dokter wees, iemand kan ‘n onderwyser wees en iemand anders ‘n rekenmeester, maar in alle gevalle moet die motivering om in die oggend op te staan dieselfde wees. Dit moet God se liefde wees. Liefde wat jy daar waar jy beweeg aan die wêreld wil oordra. Ek wil jou vanoggend net weer herhinner aan hierdie liefde. Liefde wat jou so liefgehad het dat Jesus verneder was tot aan die kruis, maar dit het Hy gedoen sodat jy kan lewe. Wil jy nie vanoggend net weer besef dit is al wat daar regtig voor is om te leef nie. Dit moet die bron wees waaruit jy alles doen. Om God te eer vir die liefde wat Hy aan jou bewys het, deur Hom terug lief te hê. En om Hom lief te hê is om jou medemens lief te hê. Onthou maar wat Jesus in Matteus 25 gesê het. Vir sover julle dit aan een van die geringstes doen het julle dit ook aan My gedoen. 

Ek wil graag vandag se boodskap nog meer prakties maak en ek wil dit graag aan die hand van ‘n gesprek wat ek hierdie week gehad het.

‘n Vriend van my, wat tans in Europa werk bel my en sê vir my hulle het besluit om terug te kom Suid-Afrika toe. Ek sê vir hom dit is baie goeie nuus en ek is baie bly om dit te hoor, maar hoekom het hulle dit besluit? Hy antwoord en sê eerstens wil hulle graag hulle kinders in Suid-Afrika grootmaak. Ek sê toe besef hy dit is een van die redes hoekom meeste mense Suid-Afrika verlaat? Hulle sien nie ‘n toekoms vir hulle kinders nie. Hy lag en sê ja hy besef dit, maar hulle wil ook terugkom want hulle familie en vriende is hier en hulle wil graag weer in daardie verhoudinge belê, maar sê hy daar is ook nog ‘n rede en dit is dat hulle voel die Here kan hulle hier gebruik om ‘n ekonomiese bydrae te lewer, hier hulle kennis te deel en hier hulle sosiale verpligting teenoor die land na te kom. Ek luister na hom en besef dit is vandag se preek. Wat maak dat iemand die veiligheid en sekuriteit van europa verlaat, ‘n beter salaris prysgee, ‘n beter toekoms in die oë van die wêreld om hier in Suid-Afrika te wees. Iemand wat nie deur iets anders as God se liefde gedryf word nie. Iemand wat deel wil wees van God se Koninkryk en God se liefde met hierdie wêreld wil deel. Hiermee sê ek nie dit is geldig vir alle mense nie, soos vroeër genoem, dit kan prakties anders vir elke persoon lyk, maar die hart daarvan sal altyd dieselfde wees. Om op die Liefde van God te reageer, deur God en sy skepping lief te hê. 

Gebed 

EREDIENSE

Nuutste Preke

Om Christus te Ken

Om Christus te Ken

Wat is jy bereid om te doen vir iets wat baie waardevol is? Dit hang natuurlik af wat dit is…

Die Weg

Die Weg

In die vroeë 60’ jare ontstaan een van die grootste en bekendste bewegings in Amerika. Die hippie beweging.