Die krag wat die wêreld op sy knieë dwing

Ds Gert Victor - 13 September 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Die krag wat die wêreld op sy knieë dwing 

Sondag 13 September 2020 – Ds GD Victor

 

Skriflesing: 1 Johannes 5:1-5

 

‘n Pa het eenkeer sy seuntjie na ‘n pretpark toe gevat vir sy verjaardag. Die seuntjie kon 6 maatjies kies om saam te gaan. By die pretpark koop die pa ‘n rol kaartjies en by elke aktiwiteit skeur hy 7 kaartjies af en gee dit vir die kids. Toe hulle by die groot wiel kom is daar skielik nog ‘n 8ste seuntjie by, en ewe kordaat hou hy ook sy hand uit vir ‘n kaartjie. Die pa vra toe : “nou wie is jy jong?” en die seuntjie antwoord opgewonde : “Ek is Bennie oom!”, en weer vra die pa : “Nou wie is jy Bennie, en waar kom jy vandaan?” En klein Bennie sê : “ek is jou seun se nuwe vriend. Hy het gesê jy sal vir my ‘n kaartjie gee.” Die pa het nie 2 keer gedink nie. Hy het    dadelik die kaartjie gegee omdat die outjie na hom gekom het as ‘n vriend van sy seun.

Dalk het jy al gewonder hoe kan jy sinvol leef in hierdie wêreld van ons, en in jou persoonlike omstandighede. Johannes sê deur in Jesus te glo, en Sy voorbeeld van gehoorsaamheid te volg, en ‘n verhouding te hê met die Seun van God. So kan jy die wêreld op sy knieë dwing…

Deur die eeue is volgelinge van Jesus verskillende name genoem. Eers is daar gepraat van die Christene (mense van Christus of Christus-volgelinge). Daar is ook verwys na die dissipels of leerlinge van Christus. Paulus praat in sy briewe van die “heiliges” (mense wat vir God afgesonder is)… ook genoem gelowiges, en geliefdes, en kinders van God. Elkeen van hierdie name beskryf ‘n spesifieke kenmerk van mense wat Jesus volg.

Johannes gebruik hier 3 keer die woord “oorwin/oorwinning” om daarmee te sê ‘n volgeling van  Jesus Christus is ook ‘n oorwinnaar. Waarskynlik is dit (vir jou niks nuuts nie) ‘n beskrywing wat ons al baie gehoor het. In Openbaring 12:11 lees ons van die “gelowiges wat die duiwel en die boosheid in die wêreld oorwin deur die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig.” Die bekende Romeine 8:37 sê “in alles in hierdie wêreld is ons meer as oorwinnaars deur die liefde van Christus.”  En Paulus in 1 Korinthiërs 15:57 – “ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”

En die interressante is dat letterlik óral word die woord “oorwinnaar/oorwinning” gebruik i.v.m. die wêreld (dit wat ons in hierdie wêreld beleef), en i.v.m. geloof. Kom ons kyk weer na v.4&5 – “want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”

Wat is die implikasie hiervan vir ons vandag? Wat beteken dit om ‘n oorwinnaar te wees in die besondere tyd waarin jy en ek vandag leef? En hoe ervaar ons hierdie oorwinning in ons lewens? Ons kry die antwoord in hierdie verse :

  1. ‘n Oorwinnaar sien die hindernis (struikelblokke) raak. ‘n Oorwinnaar is nie iemand wat sonder teenkanting en probleme deur die lewe gaan nie. Die woord “oorwinnaar/oorwinning” veronderstel ‘n hindernis wat oorkom moet word. Iets staan in jou pad en jy moet dit oorbrug. ‘n Oorwinnaar besef daar is elke dag uitdagings wat aangepak en afgehandel moet word. En die oorwinning het nie net te doen met die uitdagings rondom jou nie, maar ook met die gesindheid en toewyding binne-in jou. Daarom begin die oorwinning in jou hart, en die Gees van God wil dit vir jou gee.

Die vraag is hoe reageer ons as Christene in hierdie wêreld en voor die hindernisse van die wêreld? Johannes herhaal dit 3x… Hy sê ons probleem is die “wêreld”… die duiwel en sy planne… die sonde en sy juk… die pyn van lyding en ellende… die fokus op gemak en plesier, op sensualiteit, wins en mag… die “wêreld” is alles wat in opposisie is met God en Sy wil.

Die wêreld wil ons op ander goed laat fokus as op die eer van die Here. Dit wil God se waarde sisteme deurmekaarkrap. Dit wil ons kompromieë laat tref oor reg en verkeerd. Dit wil ons afhanklikheid van God en Sy Woord afwater. Die wêreld wil jou en my in sy eie vorm “in-mold” en ons van God vervreem. Dit wil ons laat vergeet wie ons is, en aan wie ons behoort, en wat ons voorregte as kinders van die Here is. Kortom… die wêreld wil ons laat twyfel. Soms wil dit jou oortuig dat ‘n hindernis te groot en onoorkombaar is, óf die wêreld sê : “hier is ‘n makliker alternatiewe roete – volg dit”… óf dit sit juis hindernisse in ons pad om ons te laat struikel.

Dit laat my sommer dink aan die storie wat ek vroeër in lockdown gebruik het van die seuntjie wat by ‘n krieketwedstryd sit. Sy span is besig om te kolf, en op ‘n stadium is hulle 180 vir 6. Een van die toeskouers sê toe vir die seuntjie : “Jong, lyk my jou ouens gaan die game verloor – hulle sukkel maar ‘n bietjie.” En die seuntjie antwoord : “Neee wat! Ons het dan nog nie eers begin boul nie!” Ons teks sê daar is struikelblokke rondom ons. Baie dinge waarmee ons stoei, en baie uitdagings om elke dag te oorwin. Ons as Christene moet dit raaksien en erken vir wat dit is.

  1. ‘n Oorwinnaar ontdek en weet daar is ‘n belofte. Johannes herhaal dit dat ‘n Christen die wêreld kan oorwin. God belowe dit in Sy Woord. Die donker wêreld hoef jou nie te vernietig nie. Jy hoef nie deur sonde in die verleentheid te kom nie. Swaarkry en siekte, en verliese en probleme hoef nie te veel te word vir jou nie. Jy hoef nie in versoeking te kom nie. Jy kán oorwin. God wil dit vir jou gee. Kom ons dink aan wat ons die afgelope tyd beleef. Die Corona virus, inperkings, ekonomiese insinking, rassespanning, gendergeweld, korrupsie, mediese uitdagings, kwessies oor geslag/seksualiteit…

My gebed is dat ons oorwinning óór en ín dit bó álles ‘n geestelike oorwinning sal wees… en dat jy nie kompromieë met enigiets of enigiemand sal tref ter wille van gewildheid of oorlewing of enige ander menslike of wêreldse rede nie.

Dalk voel jy soms soos ‘n Comrades atleet wat teen Polly Shorts wil handdoek ingooi. Hierdie jaar het só ánders verloop as wat ons 6 maande gelede gedink het. Dis alles soos ‘n vuishou in die maag. Die wind is so bietjie uit ons seile. Één ding kan jy onthou (en dit is die belofte) – God staan nie verleë en ontnugter voor enigiets wat in die wêreld en in jou lewe gebeur nie.

Josef was in die put, sy lewe was ‘n redelike disaster – God het hom gehelp… Die Hebreërs was slawe (by meer as een geleentheid) – God het hulle verlos… Dawid is oorweldig deur die  skuld van sy sonde – God het hom vergewe… Daniël sit in die leeukuil en Jona in die vis – God laat hulle behoue bly… Jesus was in die graf – God het Hom opgewek. Dis God se belofte vir jou vandag. Jy kan in effek net oorwin deur Sy krag.

‘n Jong man is eenkeer na ongeluk verlam. Terwyl hy in sy rolstoel sit, vra hy vir sy vriend : “Dink jy ek het ‘n toekoms?” Die vriend antwoord : “As paalspringatleet defnitief níe, maar as mens verséker!” Elke kind van God kan dit vandag weet, en jou verhouding met Jesus maak dit moontlik om dit ook te glo. Daar is oorwinning by die Here.

  1. ‘n Oorwinnaar aanvaar die Antwoord. Johannes sê : “die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal is deur ons geloof.” Dis die antwoord waarna jy soek. As Jesus deel is van jou lewe kan jy glo jy kán. Die lewe is eintlik gebou op geloof. Ons funksioneer elke dag in geloof. Jy koop ‘n blikkie ingemaakte vis, en eet dit in geloof dat jy nie in die hospitaal gaan beland nie. Jy sit agteroor in ‘n vliegtuig in vertroue en geloof dat ou wat stuurstokke vashou weet wat hy doen. Jy gaan sien ‘n spesialis wie se naam jy nie kan uitspreek nie. Hy gee vir jou ‘n voorskrif wat jy nie kan lees nie. Jy vat dit vir ‘n apteker wat jy dalk nie ken nie. Hy gee vir jou medisyne wat jy nie verstaan nie. En jy gebruik dit, en doen dit alles, in geloof.

Ons kan daaroor wonder… is dit nou geloof, of vertroue, dalk instink, of naïwiteit? …die feit is jy en ek is vandag hier… daar is uitdagings waarmee ons te doen kry… en ons kan dit hanteer omdat ons geanker is met dieper wortels wat nie sommernet losgeruk kan word nie.

Johannes praat van ander soort geloof. “Die een wat die wêreld oorwin is hy/sy wat glo dat Jesus die Seun van God is.” Jesus-volgelinge stel hulle vertroue in Sy Gees en volg Sy voorbeeld. Glo in Hom. Praat met Hom. Loop saam met Hom. Wees gehoorsaam aan Sy Woorde. Só ‘n geloof is die sleutel wat die wêreld oorwin.

David Livingston het groot sendingwerk in Afrika gedoen. Op ‘n keer is hy terug London toe om ‘n toekenning te ontvang. Voor ‘n groot skare is vir hom gevra hoe bly hy staande in die donker kontinent van Afrika waar hy teenstand kry van ongelowiges, en te doen kry met siektes en gevare wat hom bedreig… Hy het daar voor die wêreld Sy verslete Bybel oopgemaak by Jesus se woorde : “Kyk, Ek is by julle, al die dae, tot die voleinding van die wêreld!” Geloof laat ons onthou God is by ons elke tree van die pad. Die belofte van Sy teenwoordigheid gee aan ons die oorwinning.

1 Johannes 4:4 – “Julle behoort aan God, liewe kinders. Hy wat in julle is, is groter as hy wat in die wêreld is.”

Openbaring 11:15 sê daar kom ‘n tyd in die nabye toekoms “wanneer die trompet sal blaas, en stemme hard sal uitroep : ‘Die Koningskap oor die wêreld behoort aan ons  Here en Sy Gesalfde, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”

Intussen kan ons as oorwinnaars leef soos mense wat glo en weet niks kan ons uit Sy hand ruk nie. Jy kan na God toe kom as vriend van Sy Seun. En so kan jou lewe in hiérdie wêreld, én in die wêreld wat kom, sin maak en betekenis hê. Net die dinge van God is permanent en ewig… die ander goeters is alles tydelik.  Amen.  Dit is die Woord van die Here!

EREDIENSE

Nuutste Preke

Verloën jouself

Verloën jouself

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …