ABBA Vader
Ds Ulrich Ohlhoff - 21 Junie 2020 (Vadersdag)DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
ABBA Vader!
Skriflesing: Romeine 8:1-17
Wat is die een herhinnering van jou pa wat jou altyd sal bybly? Dalk ‘n gesprek, iets wat hy gesê het of iets wat julle saam gedoen het? Dalk is daar te veel om iets spesifiek uit te sonder. Ek glo vir meeste is dit vandag goeie en lekker herinneringe. Ek weet egter daar is mense wat vandag luister wat nie ‘n goeie herhinnering het nie, of selfs geen herhinnering van hulle pa het nie.
Navorsing die afgelope dekade het uitgewys dat afwesige of onbetrokke pa’s ‘n wêreldwye probleem is. Volgens ‘n Suid-Afrikaanse studie van 2017 word 65% kinders in Suid-Afrika groot sonder die teenwoordigheid van ‘n pa. Hiermee saam weet ons dat baie mense groot word en nie noodwendig selfs met die teenwoordigheid van ‘n pa in die huis ‘n goeie verhouding met hulle pa’s het nie. Die lewe gebeur en daar ontstaan konflik en verhoudings kry seer. Uiteindelik sit ons met ‘n land vol vaderlose mense! Hierdie het ongelukkig ‘n deurlopende negatiewe effek op ons samelewing:
Navorsing toon dat kinders wat sonder ‘n pa groot word of ‘n slegte verhouding met hulle pa het, meer geneig is om risiko gedrag te toon (drank, dwelms en losbandigheid), sielkundige probleme te ontwikkel, swakker op skool te presteer, by misdaad betrokke te raak en uiteindelik onstabiele lewens te lei.
Daarom wil ek vandag dankie sê vir pa’s wat betrokke is in hulle kinders se lewens en moeite doen om kinders met liefde groot te maak. Hou so aan! Ek wil ook daar waar verhoudings nie reg is nie jou aanmoedig om moeite te doen om die verhoudinge te herstel.
Ongelukkig sit ons steeds met ‘n wêreldwye probleem en miskien is dit tyd dat ons as gelowiges opstaan en die goeie nuus wat ons ken met die wêreld deel.
Die goeie nuus dat geen persoon sonder ‘n pa hoef te leef nie. Dat daar ‘n God is wat elke mens lief het en elke mens sy kind wil maak. Ons lees dat hierdie God ‘n belofte gemaak het in 2 Kor “Dan sal ek julle aaneem en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees”. Hierdie belofte het waar geword met die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Jesus wat vir ons die Vader kom wys het, ons kom leer het om in ‘n verhouding met Hom te leef, om tot Hom te bid as ONS VADER, wat die weg na die Vader toe oopgemaak het, deur sy sterwe en opstanding, en uiteindelik soos ons vanoggend gelees het in Romeine 8 ons SY GEES gegee het wat ons in staat stel om soos Jesus uit te roep Abba, Vader.
Hierdie woord is ‘n Aramese woord en die Afrikaans wat dit as Vader vertaal dra nie die volle bedoeling oor nie. Die rede daarvoor is dat Vader tot ‘n groot mate ‘n formele woord is en nie werklik ‘n liefdevolle verhouding beskryf nie. Abba is ‘n woord wat beter as pappa vertaal sal woord. Dit is ‘n woord wat gebruik was in ‘n intieme, liefdevolle verhouding tussen ‘n pa en ‘n kind. Dit is ‘n woord wat gebruik is deur ‘n kind wat weet sy Pa is lief vir hom. Pappa, of soos my seuntjie onlangs besluit het, Papi, dra die liefde van die verhouding in die woord oor.
Die wonderlike nuus van die evangelie van Jesus is dat God mense, ook my en jou, uitnooi om Sy kind te word!! Om in ‘n liefdevolle, intieme verhouding met Hom te leef.
Hoe gebeur dit? Hoe word jy sy kind?
Ons weet uit ons eie aardse lewens dat daar basies twee manier is, hoe iemand ‘n kind van iemand word. Of jy word as kind gebore of jy word as kind aangeneem. Die Bybel gebruik beide terme wanneer daar gepraat word van ons wat as mense kinders van God word, maar dit is net metafore, want ons word kinders van God deur te glo. As ons glo ontvang ons die Heilige Gees wat ons tot kinders van God maak en daarom is Romeine 8 duidelik dat almal wat hulle deur die Gees laat lei, kinders van God is!!
Hoe laat jy jou deur die Gees lei? Jy glo in Jesus Christus wat mens geword het om hierdie uitnodiging aan die mensdom te kom rig. Wat Gesterf het, maar die dood oorwin het, sodat ons weg na die Vader toe oop is. Jy laat toe dat die Gees jou ‘n kind van God maak en jou die gees van ‘n kind gee. Dit is nie toevallig dat Jesus gesê het, elkeen moet soos ‘n kind word nie, want elkeen van ons moet letterlik ‘n kind van God word! ‘n Kind vertrou sy lewe oor aan sy ouers en net so moet ek en jy beheer oorgee aan God, deur die Gees te vertrou om ons in ons lewe te lei. Indien ons hierdie gees het, het identiteit ontwikkel kan ons as kind van God leef.
Om ons ‘n gees van ‘n kind te gee, wat soos hulle pa’s wil wees. As jy ‘n kind van God word, word jy deel van sy huishouding en net soos enige huishouding bepaalde maniere het om iets te doen, het God se huishouding ook ‘n bepaalde manier om te leef. Die Heilige Gees is vir ons gegee om ons hiermee te help. Dit is om soos ‘n kind te doen wat jou pa doen.
Jan-Ulrich (my seuntjie) is veral nou op die stadium. Hy wil alles doen soos ek dit doen. Hy probeer sê wat ek sê (ek moet dus al hoe meer versigtig wees met wat ek sê…hehe).
As ek grassny wil hy grassny, as ek foto’s neem wil hy foto’s neem, as ek hardloop wil hy saam hardloop. Dit is wat dit beteken om deur die Gees beheer te word, om toe te laat dat ons soos ‘n kind is wat doen wat ons Pa doen, wat sê wat ons Pa sê.
Opgesom is die manier van leef in God se huishouding, liefde. God is liefde, God spreek liefde, God bewys liefde. Net so behoort ons toe te laat dat ons deur die Gees gelei word om meer liefdevol te word, meer met liefde te praat en meer en meer liefde aan ander te bewys. God het ons uiteindelik geskep om na Sy beeld te wees en te leef. Hy is ‘n liefdevolle Vader en hier op vadersdag kan ons dit vier en bly wees dat dit is Wie Hy vir ons is, maar ons moet ook daarna streef om soos Hy te wees. Vir pa’s beteken dit vandag om veral in jou lewe en huisgesin die beeld van ‘n liefdevole Vader aan jou gesin oor te dra, maar dit geld vir alle gelowiges. Ons kan as kinders van God die beeld van Sy liefde vir hierdie wêreld dra, maar dan moet ons uit ons nuwe identiteit as geliefde kind van God leef. Omdat ons Pa ons lief het, leef ons met liefde.
Die uitnodiging van God as Vader is ‘n besonders uitnodiging wat oop is vir almal. Daar waar jy vanoggend is, God wil vir jou ‘n pa wees. Maak nie saak of jy ‘n biologiese pa het of nie. Hy wil vir jou sorg, Hy wil vir jou lief wees, Hy wil vir jou sê jy is goed genoeg vir Hom, Hy wil jou leer om die beste moontlike mens te wees, Hy is jou Skepper, Hy ken jou, Hy wil vir jou ‘n pa wees. Al wat jy moet doen is om die uitnodiging vanoggend te aanvaar en Sy kind te word.
Ek weet dit is dalk nie vir almal so maklik nie, dalk is dit vir jou moeilik om vandag God as Vader te sien en te aanvaar, omdat jy net te veel seergemaak is deur jou eie pa. Die beeld van God as Vader is vir jou moeilik omdat jy ‘n verwronge beeld van ‘n vader het. Ek wil jou egter vra om vandag God ‘n kans te gee en te bid dat dat God die letsels van ‘n verdraaide vaderbeeld vir jou sal kom genees en Hom as Vader vir jou sal openbaar, sodat jy sy kind kan wees en HY vir jou ‘n Pa kan wees.
Die Heilige Gees sal jou dan tot kind van God maak. Dan kan jy weet God sê vir jou jy is Sy geliefde kind. Jy kry ‘n nuwe identiteit, ‘n nuwe lewe. Jy hoef nie meer in jou ou lewe te leef nie. Jy is nou deel van SY huisgesin. Jy kan nou in jou nuwe identiteit leef, jy kan as geliefde kind van God leef!
Ons gemeente se visie, wat toepaslik is vir alle gelowiges verwoord hierdie so mooi. Ons is ‘n huisgesin van liefde, wat liefde in die wêreld uitdra!!
Mag jy vandag geliefd wees deur God ons Vader en mag jy hierdie liefde aan almal rondom jou uistraal, soos jy daarna streef om soos jou PA te wees!
EREDIENSE
Nuutste Preke
Dankbaar met my hele lewe
Ons het die afgelope paar weke die voorreg gehad om opnuut oor dankbaarheid te preek, te luister en te beleef.
Dankbaar oor die Skepping
Daar is onlangs ‘n studie gedoen oor die geloofsoortuigings van jong studente. Van die vrae wat hulle moes antwoord het gegaan oor die verhouding tussen geloof en wetenskap.
Dankbaar vir die Kerk
Ons is besig met ‘n paar temas oor “dankbaarheid”, en vandag staan ons stil by die gedagte “om dankbaar te wees oor die kerk.”
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


