Dankbaar met my hele lewe
Ds Ulrich Ohlhoff - 6 September 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Dankbaar met my hele lewe
Sondag 6 September 2020
Skriflesing: 2 Korintiërs 5:11-21
Ons het die afgelope paar weke die voorreg gehad om opnuut oor dankbaarheid te preek, te luister en te beleef. Ons het ontdek dat ons dankbaar kan wees vir ons verlossing, vir die feit dat ons gered is van ons gebroke lewe. Ons is dankbaar dat God ons versorg, vir ons voorsien in ons behoeftes, ons is dankbaar dat ons medegelowiges het en saam die kerk van Christus kan wees, mekaar kan ondersteun en saam die Here kan loof. Ons is dankbaar vir die skepping en die voorreg om daarin te kan leef en daarvoor verantwoordelik te kan wees.
Nadat ons tot kennis van die waarheid aangaande God se VERLOSSING, VOORSIENIGHEID & SKEPPINGSKRAG gekom het is ál wat oorbly dank in ons harte!
Ek hoop en glo dat elkeen die afgelope paar weke werklik ‘n dankbaarheid in jou hart beleef het en dat elkeen wat vandag hier is ten minste dankbaar is vir die feit dat jy hier kan sit. Ons sluit vandag ons reeks oor dankbaarheid af en daar is werklik net een manier om dit te doen. Om die vraag te antwoord as ons so dankbaar is oor wie God is en wat Hy alles vir ons doen, hoe lyk ons lewe?
Hoe lyk ‘n lewe van totale dankbaarheid?
Die antwoord vind ons vandag in 2 Kor 5:15, “en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”
Elke gelowige behoort hierdie vers uit jou kop te ken en dit sommer elke dag vir jouself te sê, want ‘n lewe van dankbaarheid is ‘n lewe wat vir God geleef word en nie meer vir jouself nie. Dit is hoe ons, ons dankbaarheid wys. Om die lewe wat Hy vir ons gegee het, aan Hom te wy, om Hom te verheerlik. Ons het die afgelope week met die oggendoordenkings ook hieroor nagedink. Romeine 12 wat sê ons moet ons lewe as ‘n offer vir die Here leef. Kor wat sê alles wat ons doen moet God verheerlik. Dit is ‘n lewe van dankbaarheid. ‘n Nuwe lewe, waar ons nie meer aan onsself nie, maar aan Christus behoort en vir Hom leef (vers 17).
Ek wil jou dus vandag vra om eerlik na jou eie lewe te kyk en vir jouself te vra
vir wie leef jy?
Vir wat leef jy?
Waaraan spandeer jy meeste van jou tyd?
Waaraan spandeer jy meeste van jou geld?
Hoe tree jy op teenoor ander mense?
Is jy met jou hele lewe diensbaar, dankbaar teenoor God?
Leef jy jou dankbaarheid of is dit eintlik maar net iets wat jy teoreties bely? Sien want natuurlik is die eerste en maklikste stap om met ons mond dankie te sê. Die Here te loof en te prys, maar ware dankbaarheid kan nie net met ons mond gesê word nie, dit moet ook in ons dade reflekteer.
Daarom wil ek vandag hê jy moet hierdie vrae vir jouself antwoord terwyl ek praat en ek gaan ‘n paar praktiese dinge aanraak om jou te help hiermee.
Die belangrikste vraag wat jy vir jouself moet kan antwoord is hoekom? Hoekom doen jy wat jy doen?
Dit klink dalk ekstreem as ons praat van jou hele lewe moet aan God gewy wees en alles wat jy doen moet wees om God te verheerlik. Prakties kan ons mos onmiddelik sê, ek moet tog werk, eet en slaap. En ja natuurlik moet jy werk sodat jy geld het en kan eet, maar is dit al waarvoor jy leef? Is dit regtig wat jou motiveer om te leef? Ons as gelowiges moet gemotiveer word om vir God te leef. Met ander woorde my werk, eet en slaap word middele en ruimtes waarbinne ek God kan verheerlik en dien. Dit is ruimtes waar ek my dankbaarheid teenoor God kan wys en uitleef.
Daarom prioritiseer ‘n Dankbare lewe, God en God se Koninkryk bo alles. Jou tyd, jou geld, jou besittings, jou doen en late, jou werk word alles uit dankbaarheid in diens van God gestel.
Tyd
As jy vanoggend kyk hoe jy jou eie tyd spandeer, waaraan spandeer jy dit? Hoeveeel van jou tyd word aan stiltetyd gewy? Hoeveel tyd mors jy op onbelangrikhede? Hoeveel tyd werk jy? Eet jy? Kyk jy tv? Spandeer jy op jou foon? Aan huiswerk? Verstaan my vanoggend asb reg ek bedoel nie al wat ons moet doen is om te sit en te bid nie, maar meeste van ons, se tyd is waarskynlik uit balans en meeste van ons kan waarskynlik meer tyd aan ons verhouding met God spandeer as wat ons doen. Ons moet dit ‘n direkte prioriteit maak. Hiermee saam kan ons ook indirek al ons tyd aan God spandeer indien ons dit regkry om deur ons werk, ontspanning en ons hele lewe hom te verheerlik.
Jou werk
Daarom moet jy vandag vir jouself vra of jou werk God se koninkryk dien en indien nie, moet jy aanpassings maak om dit te begin doen. Die eerte stap is in hoe jy jou werk doen. Die Nuwe Testament briewe leer ons op meer as een plek dat ons nie meer vir mense werk nie, maar vir God. Ef 6:7 sê dat al is iemand ‘n slaaf hulle, hulle werk so moet doen asof dit vir God is en nie vir hulle eienaars nie. Martin Luther het gesê dat ‘n skoenmaker God verheerlik, nie deur kruise op sy skoene aan te bring nie, maar om die beste moontlike skoen te maak. Hierdie beginsel geld vir enige werk. ‘n Boer kan die beste moontlike boer wees, wat volhoubaar die omgewing oppas en sodoende sy plig om na die skepping om te sien na te kom. Om daar waar jy in vergaderinge kom, met kliënte werk altyd die Lig en liefde van God uitstraal sodat mense dit deur jou werk kan sien. Die punt bly dat prakties dit nie noodwendig so belagrik is oor presies wat jy doen in jou werk nie, maar dat jy die beginsels van om God se koninkryk deur jou werk te prioritiseer wel elke dag in jou gedagtes sal hou.
Geld
Een van die maklikste maniere om vir jouself te toets of jy God se Koninkryk prioritiseer is om na jou finansies te kyk. Ek weet mense raak baie vinnig ongemaklik as iemand oor geld begin preek en dit is nie iets wat ons baie doen nie, maar dit is iets wat elke nou en dan noodsaaklik is. Jesus het byvoorbeeld meer oor geld gepraat en mense daarteen gewaarsku as wat Hy oor die hel gepraat het. Mammon kan ‘n baie gevaarlike strik vir mense word en kan baie maklik veroorsaak dat ons nie meer God se koninkryk prioritiseer nie, maar eintlik ons lewe aan geld begin wy. Hiermee sê ek nie iemand mag nie geld hê nie, of kan nie ryk wees nie. Daarmee saam moet almal tog vir hulleself en hulle gesinne kan sorg, maar geld moet nie jou lewe beheer nie. Ons moet altyd onthou dat God vir ons sorg en daarom gee ons uit dankbaarheid ook van dit wat ons kry weg. Die maklikste ding om te doen om te keer dat geld ooit jou lewe beheer is om dit weg te gee!! Wend ‘n gedeelte van jou finansies aan ter wille van die Koninkryk van God. En dan is dit belangrik dat ek vanoggend hier stilstaan en ons gemeente bedank wat in die laaste paar maande regtig mooi vir die gemeente se finansies gesorg het en getrou inbetalings gemaak het. Dit maak my trots om te weet dat alhoewel ek hierdie vanoggend aanraak dit voorkom asof hierdie nie ‘n probleem in ons gemeente is nie! Dankie daarvoor!
‘n Dankbare lewe is gehoorsaam aan God.
Die volgende punt wat ek vanoggend wil aanraak oor ‘n dankbare lewe is gehoorsaamheid. ‘n Dankbare lewe is gehoorsaam aan God. Ons het vanoggend gelees dat ons vrygespreek is en dat ons oortredinge nie teen ons gereken word nie. Indien ons werklik hieroor dankbaar is, kies ons om nie langer in sonde te leef nie. Gal 5:13 sê vir ons ons is vrygespreek en tot vryheid geroep. Met ander woorde jy kan doen net wat jy wil (moet nou nie vanoggend net hierdie deel hoor nie en sê die Ds het gesê ons kan doen wat ons wil nie). Ja ons kan, maar ons kies dan om in gehoorsaamheid aan God te leef, om nie die vryheid te misbruik nie. Ons kies om uit dankbaarheid gehoorsaam aan God te leef. Dit is dus goed om vanoggend na jou lewe te kyk en vir jouself af te vra of jy regtig gehoorsaam aan God leef? Soek jy Sy wil? Gehoorsaam jy sy gebooie?
‘n Dankbare lewe word teenoor my medemense getoon. Nog ‘n maklike manier om te sien of jy regtig ‘n dankbare reaksie op alles wat God vir jou gedoen het leef is om te kyk hoe jy ander mense behandel. Elkeen van ons behoort almal met die liefde wat ons van God gekry het teenoor ons medemense te leef. Daarom sê vers 16 dat ons niemand meer volgens menslike maatstaf beoordeel nie. Ons beoordeel almal volgens God se liefde en tree met God se liefde teenoor almal op. ‘n Dankbare lewe prakties geleef is diensbare liefde teenoor my naaste. Sien mense dit raak in hoe jy hulle behandel?
‘n Dankbare lewe word met ander gedeel
Die laaste punt wat ek vanoggend wil aanraak. ‘n Punt wat ek ook vrydag oggend met die oggend oordenkings aangeraak het is die feit dat ‘n dankbare lewe die goeie nuus van die evangelie met ander deel. Vers 18 sê dat God hierdie bediening van die versoening aan ons toevertrou is om met almal te deel. Dat elkeen van ons as gesante van God moet optree en ons moet mense namens Christus smeek om met God te versoen (vers 20). As jy regtig dankbaar is oor jou redding kan jy dit nie vir jouself hou nie. Dit is mos vanselfsprekend. As ek vandag byvoorbeeld die teenmiddel vir die corona virus hier in my sak gehad het en iemand wat ek ken raak siek, gaan ek stilbly of gaan ek onmiddel vertel en sê ek het ‘n pil wat jou gesond kan maak? Natuurlik sal ons nie stilbly nie! Hoekom bly ons dan stil as dit kom die evangelie wat mense se lewens vir ewig kan red? Ek is al hoe meer oortuig dat ons so vinnig as moontlik op ‘n plek moet kom waar elke gelowige hierdie taak opneem en uitvoer. Dit is nie net die predikant, kategeet of evangelis se werk nie. Dit is elkeen wat dankbaar is dat hulle gered is se werk om te vertel dat hulle gered is en ander vertel hoe hulle gered kan word. Waar deel jy die goeie nuus? Met wie is jy in gesprek? Moet nie bang wees nie, vertrou die Here. Bid daaroor en Hy sal jou die woorde gee.
ń Lewe van TOTALE DAKBAARHEID is uiteindelik ál wat God van ons verwag. ń Dankbaarheid wat vloei uit jou Liefde en eerbied vir God en jou liefde en agting vir jou medemens (Matt. 22:34-40). Die Heidelbergse kategismus help ons verder hiermee deur te se ons lewe van dankbaarheid behoort gekenmerk te word deur GEHOORSAAMHEID, TOEWYDING en DIENSBAARHEID.
Die ou Gereformeerde Kerkvaders het ons geleer: “Soli Deo Gloria!” Aan God alleen die eer – ń Lewe gewy in dankbaarheid teenoor en eerbied vír God!
Omdat God in Christus Jesus ALLES gegee het en 100% opgeoffer het sodat ons die LEWE – en dít in oorvloed – kan hê; behoort dit in ons ń diepe dankbaarheid los te maak.
Ons is dankbaar oor alles wat God vir ons gedoen het. Kom ons gaan leef as dankbare diensknegte en wy ons hele lewe uit dankbaarheid aan God.
Amen.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Verloën jouself
Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …
Tussen-tyd-mense roep Maranatha!
Ds Gert preek uit Matteus 34:36-44
Bedaar en erken dat Ek God is
Ds Ulrich preek uit Psalm 46 en Handelinge 7:54-60
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


