Geesvervulde Weerstand
Ds Gert Victor - Pinkster - 29 Mei 2020
DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Pinkster 2020 – Geesvervulde Weerstand
Skriflesing: Efesiërs 6:10-12
Paulus begin hierdie gedeelte in vers 10 met die woord “uiteindelik!” In werklikheid is dit ‘n uitroep waarmee hy bedoel : “die uiteinde van alles, of die slotsom van alles.” Hy daag sy lesers en vir jou en my uit om te besef dat hulle en ons in ‘n geestelike oorlog is, en in hierdie oorlog moet ons in die regte posisie wees, die regte strategie volg, die regte geestelike uniform dra, weet wie die vyand is waarmee ons te doen het, en ons moet die regte Here vertrou.
Ons besef dit nie noodwendig nie, maar jy en ek is heeltyd in ‘n geestelike oorlog gewikkel. Oral rondom ons is die satan en sy handlangers besig, en doen hulle alles in hulle vermoeë om God se werk in die wêreld te ondermyn. Hy doen alles wat hy kan om Christus-volgelinge te ontmoedig… alles wat hy kan om die liggaam van Christus, die kerk, te verhinder. Hy wil toesien dat God se kinders misluk in ons roeping om vir God te leef en om Hom te verheerlik.
Voor ons is ‘n sterk vyand en ons veg werklike gevegte. En die koste en gevolge van ‘n nederlaag is baie groter as wat ons ooit sal besef. Aan die ánder kant is die heerlikheid van die oorwinning nóg méér wonderlik as wat ons ooit sal kan dink. In hierdie paar verse wil Paulus ons help en toerus en aanmoedig om die geveg van die lewe suksesvol aan te pak.
v.10 sê mooi duidelik waar ons krag vandaan kom – “soek julle krag in die Here en in Sy groot mag”… “vind jou sterkte in die Here en in Sy geweldige krag.”
Die probleem is dat nie een van ons in onsself enige geestelike krag het wat voldoende is vir die geestelike gevegte waarvoor ons te staan kom nie. Ons is swak, brose, feilbare, dwase skepsels, en dikwels is ons aan die verloorkant van die lewe se konflikte. Jy kan net oorwinning behaal deur ware geestelike krag. En dit lê by iemand buite ons self – “vind jou krag en sterkte in die Here!…word versterk in die Here!” Soos iemand wat letterlik uit ‘n sterfbed uit opstaan na ‘n ernstige dodelike siekte. Iemand wat absoluut tot die dood toe swak is, en dan versterk word tot die lewe.
Ons is swak skepsels… emosioneel swak, swak in ons denke, geestelik swak, en wanneer dit kom by sonde en versoekings en om ons “eie ek” in toom te hou. Jy het iemand nodig om jou te help. Die krag wat jy nodig het om in die geestelike gevegte van die lewe te oorwin gaan nooit uit jouself kom nie. Dit kan net van God af kom, deur ‘n lewende verhouding met Jesus Christus. Soos wat ons Jesus vertrou om ons deur Sy kruis en opstanding te red, moet ons Hom ook vertrou vir die geestelike krag wat ons elkeen van dag-tot-dag só nodig het.
“Vind jou krag in die Here, en in Sy geweldige groot mag.” As ek self teen satan en sy magte gaan probeer opstaan gaan ek misluk. As ek Christus se geweldige groot mag vertrou, my eie swakheid bely, en aan Hom vashou, is ek ‘n oorwinnaar. Rom 8:37 – “ons is méér as oorwinnaars deur Hóm wat ons liefhet.”
Paulus herinner heeltyd daaraan dat Christus-volgelinge één is met Hom. Sy lewe word jou lewe, Sy waarheid, Sy wil, Sy krag, Sy sterkte… dit word alles joune deur Hom wat jou liefhet.
Één ding moet ons altyd onthou… toe Christus aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het, het Hy die satan en sy magte oorwin. Dit beteken die oorlog is reeds verby. Christus is die oorwinnaar. Daarom veg jy nie vír oorwinning nie, maar vanuít oorwinning… nie óm te wen nie, maar ómdát Hy reeds die stryd gewen hét. Ons kan in en vanuit Sy oorwinning leef in die dag-tot-dag gevegte van die lewe. Jy leef en veg nie soos ‘n verloorder nie, maar soos ‘n wenner.
Daarom sê Paulus “soek julle krag in die Here en in Sy groot mag.” Ons geestelike krag is ín Hóm, en ons kry dit deur ín ‘n geloofsverhouding met Hom te wees. Hy is die Bron van ons sterkte.
Filippense 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
2 Korinthiërs 2:14 – “Aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in Sy triomftog omdat ons één is met Christus.”
1 Korinthiërs 15:57 – “Ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”
In vers 11 verwys Paulus na “die listige aanslae van die duiwel”… dit sê iets van wie die duiwel is en hoe hy opereer. Hy is God se vyand en staan teen alles waarvoor God staan. Hy doen alles in sy vermoeë om te vernietig wat God tot stand bring. Hy is slinks, ervare en magtig. Vir eeue probeer hy God se kinders aanval en verlei, sedert die tyd van Adam en Eva. Hy het lewenslange ondervinding en weet presies wat hy doen. Ons gee aan hom geen erkenning of eer nie, maar ons moet weet wat hy doen en waartoe hy in staat is.
Paulus verwys na sy “listige aanslae” en gebruik die Griekse woord “methodos”/metodes… Die duiwel gebruik skelm, listige metodes en truuks, skelmstreke en plannetjies om God se kinders te verlei. Hy is soos ‘n luiperd of leeu wat sy prooi stadig en skelm bekruip en dan skielik toeslaan wanneer jy dit die minste verwag.
“Trek die volle wapenrusting van God aan”… God het ‘n wapenrusting tot jou beskikking. ‘n Volledige uitrusting (wat beteken dat dit uit meer as een deel bestaan) En ons moet dit aantrek. God rus jou toe vir die geestelike stryd wat jy moet baklei. Hierdie wapen-uitrusting bestaan uit waarheid as gordel, reg-verdiging as borsharnas, die Evangelie van vrede as skoene, geloof as skild, verlossing as helm, en die Woord as swaard… Dit is tot elke Christus-volgeling se beskikking sodat ons elke oomblik in Sy oorwinning kan lewe.
Elke deel van hierdie uitrusting is nodig in ons geestelike stryd. Jy kan nie net 1 of 2 stukke dra en verwag om staande te bly nie. En as Paulus sê “trek dit aan” bedoel hy dat as jy dit eers een keer aan het jy dit nooit weer uittrek nie! Dan dra jy dit heeltyd, want die stryd eindig nooit. Jy verdedig elke dag jou geestelike vesting in hierdie oorwinning-stryd.
Só het God ons toegerus met alles wat nodig is om staande te bly. Dit is vir jou en my om te besluit of ons die uitrusting gaan aantrek, of nie, of dit deel van ons elkedagse lewe gaan wees, of nie. As jy kies om dit nié aan te trek nie is jy soos iemand wat kies om Covit19 sonder ‘n masker en sanitasie en beskerming aan te pak. Dan het jy net jouself om te blameer as jy val in die gevegte van die lewe.
“Sodat julle op julle pos kan bly staan”… Paulus gebruik hier ‘n militêre term wat beteken om ‘n kritiese posisie te behou (soos om ‘n belangrike vesting te beskerm) wanneer die vyand aanval. Ons sien daarin die prentjie van ‘n soldaat wat weier om een duim toe te gee aan die vyand… nie die prentjie van ‘n soldaat wat aanval nie, maar wat die grondgebied verdedig en beskerm wat alreeds verower is.
Wat is die duiwel se strategie? Hy probeer in die hande kry wat God reeds vir ons gegee het. Hy soek jou sekerhede, jou geloof en belydenis, ons kerke en families en gesinne, jou huwelik en kinders, jou geesteskrag, ja alles wat jy in Christus het.
In Matteus 4 probeer die duiwel Jesus versoek. Hy gebruik die aanval-strategie en konfronteer die Here. En wat doen Jesus? Hy bly staan by die Woord van God en weier om toe te gee. Só gee Hy vir jou en my dieselfde krag om staande te bly. In Openbaring 2:25 sê Jesus vir die gemeente in Tiatira – “Hou net vas aan wat julle het todat Ek kom!” Ons kan dit nie self doen nie. Die Heilige Gees maak dit vir ons moontlik om vas te hou.
v.12 – “ons stryd is nie teen vlees en bloed nie”… die woord “stryd” verwys na die antieke gevegte wat in die Romeinse arenas plaasgevind het. Wanneer 2 teëstanders mekaar só ontmoet het, het hulle nie meegeding vir ‘n prys nie – dit was ‘n bloedgeveg vir lewe en dood. Só is jy en ek letterlik in ‘n geveg betrokke waarin die vyand alles in sy vermoeë doen om jou te probeer vernietig. Daarin het jy die krag van God nodig om staande te bly.
Hierdie vers sê ook wie ons vyand níe is nie… Jou vyand is nooit ‘n ander mens nie. Mense maak ons seer, mense lieg en bedrieg mekaar, en kom jou te na. Maar dit maak nie van hulle die vyand nie. Een van die grootste truuks van die duiwel is om jou te laat fokus op ander mense, op dit wat mense doen of nie doen nie. En die oomblik as jy hierdie lokaas van die duiwel vat verloor jy jou fokus op die Here Jesus Christus en op die wil van God. As ons met mekaar baklei vat die duiwel wat hy wil hê omdat ons dan ons posisie prysgee om teen Hom staande te bly. As jy baklei gee jy jou posisie van liefde en genade prys. Dan trek jy God se wapenrusting uit en tree op in jou eie vlees. Dan maak jy staat op jou eie krag. Dan tree jy op asof die Evangelie ‘n leuen is. Dan verloor jy heelpad en satan is die wenner.
Wie is ons vyand? Die duiwel en sy geestelike trawante, níe direk ánder mense nie! En hy doen alles wat hy kan om God se eer en Koninkryk te ondermyn. Die Woord sê satan is die god van hierdie wêreld, maar hy moet buig voor die God van die heelal.
1 Joh 4:4 – “Julle behoort aan God en het die vals profete klaar oorwin, omdat Hy wat in julle is groter is as die duiwel wat in die wêreld is.”
2 Kor 4:4 – “die ongelowiges se verstand is deur die god van hierdie wêreld verblind, sodat hulle die lig van die Evangelie nie kan sien nie.”
Satan het ‘n groot koninkryk… maar die Koninkryk van God is ewig.
In die verhaal van die sondeval aan die begin van die Bybel sien ons wat die duiwel se strategie is. Hy probeer ons mislei oor die gevolge van sonde. Hy wil ons laat twyfel oor die Woord van God. Hy mislei ons deur ons te laat wonder of God regtig goed is. Hy wil ons laat dink ons kan ons eie verlossing bewerk. 1 Petrus 5:8 sê die vyand is slinks, slim, skelm en kragtig, en hy sal jou vernietig as hy die kans kry. Wat maak ons dan met só ‘n vyand?. “Wees sterk in die Here!”
Laat die Gees van God jou vervul!
Leef Geesvervuld in die lig van Sy teenwoordigheid.
Leef met die wysheid van Sy Woord as roetekaart.
Leef die Geesbeheerde Lewe.
Leef in aanbidding en met lof voor Hom.
Leef met Geesvervulde onderdanigheid.
Leef Begeesterd en bied Geesvervuld weerstand.
Mag God jou seën en lei deur Sy Gees!
EREDIENSE
Nuutste Preke
Om Christus te Ken
Wat is jy bereid om te doen vir iets wat baie waardevol is? Dit hang natuurlik af wat dit is…
Die Weg
In die vroeë 60’ jare ontstaan een van die grootste en bekendste bewegings in Amerika. Die hippie beweging.
Die krag wat die wêreld op sy knieë dwing
‘n Pa het eenkeer sy seuntjie na ‘n pretpark toe gevat vir sy verjaardag. Die seuntjie kon 6 maatjies kies om saam te gaan.
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


