Geesvervulde Lewe

Ds Gert Victor - Pinkster - 26 Mei 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Pinkster 2020 – Geesvervulde Lewe

 

 

 

Skriflesing: Efesiërs 5:18

 

Paulus se hoofdoel is om Christus-volgelinge aan te moedig om anders te wees omdat hulle in ‘n verhouding is met die Here Jesus Christus. Hy herinner ons dat ‘n mens dood is in jou sonde en oortredings tot die Here jou kry en deur Sy genade red. Hy verander ons ou Adam-karakter in ‘n Jesus-karakter, en elkeen wat in Christus is sal vir ewig saam met Hom in die hemel lewe.

Wanneer Christus ‘n mens red, maak Hy jou ook deel van die gebou wat Hy in die wêreld oprig, wat bekend staan as die “kerk”. Deur die wedergeboorte neem God mense in Sy familie aan as Sy kinders, en maak Hy ons deel van die liggaam van Christus.

Dit is die ongelooflike wat God vir mense doen. Hy red ons van sonde en verander ons in nuwe skepsels. Hy maak ons deel van Christus se liggaam , en Hy laat ons op aarde leef om lig te wees vir ‘n wêreld wat vasgevang is in die donker.

2 Korinthiërs 5:19 – “God het deur Christus die wêreld met Homself versoen, en aan Christus-volgelinge die boodskap van versoening toevertrou. Ons tree op as gestuurdes van Christus, en ons smeek julle namens Christus : Aanvaar die versoening met God, wat Hy bewerk het.”

Filippense 2:14-16 – “Doen alles sonder kla of teëpraat. Bly bó álle verdenking onberispelike kinders van God tussen ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die Woord van die lewe uit te dra. Dan sal daar op die dag wanneer Christus kom rede wees om trots te wees op julle.”

Hoe gaan ons dit regkry? Om sout en lig te wees en om God se plan vir ons lewe en vir die wêreld uit te leef? Nét op één manier…deur die krag van die Heilige Gees! Wanneer God mense red gee Hy hulle Sy Gees, sodat ons Geesvervuld vir Hom kan lewe.

En nou sê Paulus hier in v.18 – om Geesvervuld te lewe moet ons toelaat dat die Gees ons vul. Dis so eenvoudig soos dit… Hoe gebeur dit en wat beteken dit?

*… deur oorgawe. v.18 – “laat die Gees julle vervul.” Dit is ‘n opdrag – “word vervul met die Hgees.” En nou weet ons ons kan dit nie sélf doen nie. Jy kan nie jouself vul met die Gees van God nie. Hoe gebeur dit dan? Paulus se bedoeling hier is dat God jou sal vul, maar net as jy jouself aan Hom oorgee. Maak jouself oop. Stel jouself beskikbaar, sodat Hy jou kan volmaak.

*… deur bereidheid/gewilligheid. As ons hier hoor “laat die Gees julle vervul” is dit nie opsioneel nie. Jy is of vervul met die Gees, of jy is buite God se wil. Dit is ‘n opdrag van God, net soos dit ‘n opdrag is om nie te steel nie/ lieg/ begeer… God verwag dit van Sy kinders. Daarom moet ek bereid wees om God te gehoorsaam as Hy sê : “laat die Gees jou vervul.”

*… deur die oorgee van beheer. Paulus gebruik ‘n intressante beeld of vergelyking. Hy vergelyk ‘n mens wat onder invloed van alkohol is en iemand wat onder invloed van die Heilige Gees is. Jy kom onder invloed van alkohol wanneer jy jou lewe daardeur laat beheer. Jy maak ‘n doelbewuste keuse om te drink. En as alkohol eers ‘n voet in die deur kry neem dit maklik beheer oor van alles… Paulus sê so kom jy onder invloed en beheer van die Gees van God deur die beheer van jou lewe aan Hom oor te gee.

Dink vir oomblik oor hierdie beeld en sien die prentjie in jou kop… hoe alkohol ‘n mens se lewe oorneem… dit beheer die manier hoe iemand praat, dink, loop, optree, sien, hoor en reageer. Dit neem só beheer dat die persoon selfs baie dae nie kan onthou wat hy/sy die vorige dag gedoen het nie. Alkohol maak alle inhibisies los. Dit laat weerstand verbrokkel. Dit neutraliseer die vermoeë om te onderskei tussen reg en verkeerd. Dit lei tot oormaat en oordaad, tot buitensporigheid en uitspattigheid.

Spreuke 23:29ev verduidelik mooi wat met ‘n alkoholverslaafde gebeur…

Die Woord sê ‘n mens wat homself oorgee aan die beheer van die Gees van die Lewende God ervaar dat die Gees Sy lewe só infiltreer en oorneem op ‘n oordadige, buitensporige, uitbundige manier. Die Gees begin beheer hoe jy dink, praat, loop, optree, sien, hoor en reageer. Wanneer die Gees oorneem word die vrugte van Sy beheer geproduseer en sigbaar. Die verskil tussen ‘n lewe in die vlees en ‘n lewe in die Gees sien ons duidelik in Galasiërs 5:16-23… Alkohol het ‘n oormaat onheiligheid tot gevolg. Die Gees van God het ‘n oormaat heiligheid tot gevolg. Dit beinvloed elke aspek, elke saak, elke verhouding en elke besluit in jou lewe.

Van Efesiërs 5:19 – 6:19 verduidelik Paulus hoe die Heilige Gees verskillende terreine van ‘n mens se lewe beinvloed en verander. Hy maak ons meer toegewyd in ons aanbidding van God, meer toegewyd in ons huwelike , meer toegewyde ouers en kinders, beter werkgewers en -nemers, beter soldate in ons geestelike stryd, Hy waarborg meer oorwinnings in die gevegte van die lewe, Hy maak van ons meer effektiewe bidders en voorbidders!!

Wanneer die Gees van God in beheer is van jou lewe sal Christus meer sigbaar wees in jou. Jy sal weet wat Jesus sou doen en Sy voorbeeld volg. Dit is immers God se plan met jou en my dat ons meer soos Jesus sal word. En die Heilige Gees in jou sal jou daarmee help as jy die beheer gewillig aan Hom oorgee.

Galasiërs 2:20 – “ek is saam met Xtus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Xtus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier leef, leef ek in die geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê.”

Die groot vraag is – “wie se slaaf is jy? watter soort gees beheer en energeer jou lewe?” Hierdie “vervulling” met die Heilige Gees beteken totale en volledige beheer. Hy vul jou so volledig dat daar nie plek is vir enige ander gees, of vir die eie “ek” nie. Hý is op só ‘n manier in jou lewe teenwoordig dat jy weet dis nie meer jy wat vir jouself lewe nie, maar jy lewe vir en deur Hóm wat nou in jou is.

*… Geesvervuldheid beteken sekerheid en konstantheid. Letterlik sê v.18 – “Laat julle voortdurend en volledig vervul met die Gees”… elke oomblik van elke dag van jou lewe. Dit klink na ‘n “tall order” want ons is mense. So maklik leef ons die een oomblik geesvervuld en die volgende oomblik vir die “eie ek”. Ons sien dit by Petrus… hoe hy die een oomblik Sy liefde vir die Here verklaar en die volgende oomblik struikel hy. Een oomblik komplimenteer die Here hom oor sy geloof en sy geestelike insig, en die volgende oomblik hoor ons : “gaan weg agter my satan!” Ons probleem is dat ons soos bekers is wat lek. Dis ‘n konstante stryd en uitdaging om vol te bly van die Heilige Gees.

Daarom moet ons elke dag, in ons menslike swakheid, afhanklik bly voor God en bely dat ons nie self kan nie. Galasiërs 5:17 – “Wat ons sondige natuur begeer is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil is in stryd met wat ons sondige natuur begeer.” Daarom sê v.16 – “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.”

Laat die Gees jou vervul! Dit sal elke deel van jou lewe verander… jou huis en werk, jou kerk, jou verhoudinge en huwelik, gesin, land en wêreld. Bely jou afhanklikheid en menslike onvermoeë voor die Here. Erken dat jy Sy Gees nodig het. Deur Hom ín jou sal jou lewe en omgewing nuut word.

 

EREDIENSE

Nuutste Preke

Dankbaar met my hele lewe

Dankbaar met my hele lewe

Ons het die afgelope paar weke die voorreg gehad om opnuut oor dankbaarheid te preek, te luister en te beleef.

Dankbaar oor die Skepping

Dankbaar oor die Skepping

Daar is onlangs ‘n studie gedoen oor die geloofsoortuigings van jong studente. Van die vrae wat hulle moes antwoord het gegaan oor die verhouding tussen geloof en wetenskap.

Dankbaar vir die Kerk

Dankbaar vir die Kerk

Ons is besig met ‘n paar temas oor “dankbaarheid”, en vandag staan ons stil by die gedagte “om dankbaar te wees oor die kerk.”