Geesvervuld in Wysheid
Ds Gert Victor - Pinkster - 25 Mei 2020
DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Pinkster 2020 – Geesvervuld in Wysheid
Skriflesing: Efesiërs 5:15-17
Paulus praat ernstig met Christus-volgelinge oor hulle lewe voor God. In hoofstuk 4 sê hy dit is ‘n nederige, afhanklike, afgesonderde lewe, ‘n ánders as die wêreld lewe voor God. ‘n Lewe in liefde. ‘n Omgee-lewe in die lig i.p.v. die duisternis.
Hier in v.15-17 sê hy : “lewe verstandig en met wysheid.” Wysheid is kennis van dit wat waar en reg is, en om dan ook te doen wat reg is, en om regverdig te leef. Om agter te kom wat reg is en dan daarvolgens op te tree. Dit beteken dat wysheid ook direk te doen het met waarheid.
In die Bybel beteken dit om die wil van God in Sy Woord te ontdek en die begeerte te hê om dit uit te leef. Paulus sê dus hier – Wees gehoorsaam aan die Here se Woord in jou daaglikse lewe. Hóór Sy stem in Sy Woord en leef Sy Woord prakties uit in dit wat jy doen. Dit is Bybelse en Goddelike wysheid.
En vanaand kan ons weet God se Woord is ‘n doelmatige Woord. Dit help jou om koers te hou. v.15 – “Wees baie versigtig hoe julle lewe.” Wysheid beteken om versigtig en fyn ingestel en sensitief te wees in die manier hoe ons lewe… Soos iemand wat hoog in die lug op ‘n styfgespande kabel loop. Jy is fyn en presies ingestel en gefokus op wáár jy elke keer jou voet neersit. Die kleinste afwyking misrekening kan jou baie seer laat val en selfs jou dood beteken.
Volgelinge van Christus moet fyn let op elke tree wat hulle in die wêreld gee. Anders beland jy in die valstrik van die vyand. 1 Petrus 5:8 sê die vyand wag dat ons ‘n voet verkeerd sit. Hy stel strikke en vertel leuens om ons verhouding met God te vertroebel. Daarom, wees baie versigtig, leef soos verstandige mense, soos mense met wysheid wat vashou aan die waarheid.
Die wêreld leef onverstandig en strompel rond in die donker, en gee nie om waar hulle die volgende voet neersit nie. Maar kinders van God is anders. Volgelinge van Christus is gered tot die ware lewe, en het die Gees van God, en die lig van die Woord van God. Jy hoef nie rond te strompel soos ‘n blinde nie. God wil jou toerus om presies te sien en te weet waarheen jy op pad is in jou geestelike lewe. Jy kan elke tree gee presies waar God wil hê jy dit moet gee, en dit bring jou ook nader aan Hóm.
Hoor ‘n bietjie wat skryf Johannes vir Christene oor die waarheid in 1 Joh 2:20 – “Julle is deur die Gees gesalf en julle ken almal die waarheid. Ek skryf vir julle juis omdat julle die waarheid ken, en omdat julle weet dat daar geen leuen uit die waarheid voortkom nie”… en v.27 – “Die Gees waarmee julle gesalf is bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Die Gees van Christus leer julle álles, en wat Hy julle leer is die waarheid en geen leuen nie. Soos Hy julle geleer het moet julle in die Seun bly.” Hoor ons dit mooi… Christus-volgelinge kan presies weet waarheen hulle op pad is.
Die Gees van God gee ook onderskeidingsvermoeë. v.16 – “maak die beste gebruik van elke geleentheid” – “koop die tyd uit.” In Paulus se tyd het dit verwys na die loskoop van ‘n slaaf sodat die slaaf vry kon wees. Daar is ook ‘n spreekwoord wat sê “tyd is duur”… veral in die moderne wêreld waarin ons leef. Tyd is geld. Groot mpy’e en besighede en die ekonomie verloor waarde as tyd nie reg benut word nie. Ons praat ook van “verspeelde tyd.”
So moet Christus-volgelinge die tyd wat ons hier op aarde het gebruik (klein venstertjie van tyd) om God te dien. 1 Pet 1:17 – “Aangesien julle Hom as Vader aanroep – lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.”
Die antieke Griekse god Cyrus (Kairos) was die God van “tyd en geleenthede” Hy is uitgebeeld as ‘n aantreklike jong man wat nooit oud word nie. Aan sy voete was daar vlerke. Aan sy voorkop ‘n lang lok hare, en sy agterkop was kaal. Volgens legendes is daar vir hom gevra : “Wie is jy?”, waarop hy geant-woord het : “My naam is geleentheid. Ek het vlerke aan my voete sodat ek vinnig en geruisloos kan wegvlieg. Ek het ‘n lang lok aan my voorkop sodat mense my kan aangryp as ek naby is. En my agterkop is kaal sodat niemand my kan kry as ek eers verby is nie.”
Geleenthede kom soms 1 keer in ‘n leeftyd en is dikwels vinnig verby. Só is die lewe in God se waarheid, en ‘n lewe van wysheid ‘n geleentheid. Jakobus 4:14 – “ons weet nie eers hoe ons lewe môre sal wees nie… ons is elkeen maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer-weer verdwyn.” Job 14:1 – “Die mens se lewe is kort; soos ‘n blom wat oopgaan en dan verlep; soos ‘n skaduwee wat verbygaan en nie stilstaan nie.” Daarom… Gryp elke geleentheid om God te dien. Die geleentheid om te bid, om Hom te verheerlik, om die Evangelie te deel en te groei in heiligheid. Lees die Bybel. Doen goed aan ander mense. Gee om vir ander. Eer God elke minuut in alles
Die vraag vanaand is “As jou lewe die dag op aarde eindig, watter soort testament gaan jy nalaat? Die uitkoop van tyd beteken ook om te sorg dat tyd nie verlore gaan nie. Ons is almal slawe vd tyd. Ons kan staan en kyk hoe die tyd vir ewig verbyvlieg en weghardloop, of ons kan die tyd uitkoop en dit laat tel t.w.v. die eer en die Koninkryk van God.
v.17 – “moenie onverstandig wees nie, probeer verstaan wat die wil van God is.” Paulus verwys hier na iemand wat dink hy is slim, maar glad nie so slim is nie. Letterlik sê hy : “moenie dom en ongeërg wees nie. Moenie deur die wêreld hardloop soos ‘n idioot nie.”
As ons nie versigtig is nie beland ons maklik in die sleurstroom van besig-wees. Ons dagboeke kan vol goeie dinge wees. Ons hardloop van een aktiwiteit na die ander. Dit wat regtig saak maak mis ons so maklik. God het jou nie geskep en gered om so gejaagd te lewe nie. Kalenders, slimfone, fitbits, eposse en skedules is nie veronderstel om ons lewens so te beheer dat ons nie meer tyd het om die skeppende en herskeppende God te ervaar nie.
Paulus se raad is dat jy en ek sal stilstaan en probeer verstaan wat God se wil is. En God se wil kry ons die heel duidelikste in Sy geskrewe Woord, en in Sy vleesgeworde Woord Jesus Christus. Pas die spoed van jou lewe aan om Sy Woord te leer ken, om daaroor te mediteer en om dit te verstaan. Maak tyd vir die ewige waarheid en wysheid van die Woord voordat die lewe soos sand deur jou vingers gly.
Dit sal dwaas wees om jou kinders skool toe te stuur om hulle te laat leer, maar jy maak nie tyd om hulle die waarhede te leer in die boek geskryf deur die Skepper van die heelal nie. Dit sal hartseer wees as jy jou kinders Universiteit toe stuur om onderrig te word in menslike waarhede, en hulle verlaat jou huis ongeërg oor die Wysheid van die Almagtige.
As ons God se Woord hoor, hoor ons vir God self. Sy Woord is foutloos, ewig, geïnspireer en kos vir die siel. Daarom moet ons dit so gereeld as moontlik lees. As jy vanaand ‘n Bybel het, en as jy kan lees, het jy geen verskoning om ongeërg te wees oor die Woord nie. Waarskynlik is dit die rede vir die probleme in ons wêreld. Dat diegene wat weet wat Goddelike wysheid en waarheid is nie daarvolgens lewe nie. In God se Woord is daar vrede en hoop en krag. As jy daaraan vashou sal jy weet hoe om in die wêreld te leef en wat om te doen. Dit sal jou help om nie geestelik afgestomp en dwaas te wees nie. Dit sal jou oë oopmaak om die strategie van die vyand raak te sien en regte keuses te maak
As jy ‘n Bybel het… lees dit, leer dit, wees lief daarvoor en lewe dit!
Dit sal jou help om lig te wees in ‘n donker wêreld, en om die lewe aan te gryp as ‘n geleentheid om God te eer en te dien.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Dankbaar met my hele lewe
Ons het die afgelope paar weke die voorreg gehad om opnuut oor dankbaarheid te preek, te luister en te beleef.
Dankbaar oor die Skepping
Daar is onlangs ‘n studie gedoen oor die geloofsoortuigings van jong studente. Van die vrae wat hulle moes antwoord het gegaan oor die verhouding tussen geloof en wetenskap.
Dankbaar vir die Kerk
Ons is besig met ‘n paar temas oor “dankbaarheid”, en vandag staan ons stil by die gedagte “om dankbaar te wees oor die kerk.”
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


