Hemelvaart

Ds Ulrich Ohlhoff - 21 Mei 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Hemelvaart

 

Skriflesing Handelinge 1:1-11

 

Inleiding

 

Hulle sê enige goeie storie het n begin, n agtergrond vir die storie, n ontwikkeling van die storielyn, n opbou tot n klimaks, die klimaks self en n einde.

Die beste storie van alle tye, die goeie nuus vir hierdie wêreld, is die storie van Jesus. ‘n Ware verhaal, wat beslis aan al die vereistes van ‘n goeie storie voldoen.

Ek dink wel ons sukkel partykeer om hierdie verhaal se klimaks en einde reg te verstaan en oor te vertel. Waar is die klimaks van Jesus se storie vir jou? 

Ek dink meeste mense dink onmiddelik aan die kruisiging, en dit is beslis deel van die klimaks, maar dit is net die begin van die klimaks. Dit is ook net die begin van die goeie nuus, Jesus wat in jou en my plek sterf, sodat ons nie asgevolg van ons sondes die straf moet dra nie. 

Maar die storie eindig nog nie daar nie, daar is nog ‘n draai of twee wat ons nie sien kom het nie. Byvoorbeeld dat Jesus op die derde dag opstaan en die dood oorwin, hoe ongelooflik is dit vir ‘n klimaks? 

En as ons nie hierdie deel by vertel nie, is dit nie die volledige goeie nuus nie. Hierdie gebeurtenis is so belangrik want ons weet ons lewe, omdat Jesus lewe. Hy het die ewige lewe moontlik gemaak deur die dood te oorwin! Daarom vier ons paasfees!

Maar die storie is nog nie klaar nie, die storie eindig nie hier nie, die storie het nog ‘n draai of twee om te maak. Jesus verskyn aan mense en leer hulle verder oor die Koningkryk van God en dan gebeur die hemelvaart. Dit is wat ons vandag vier.

Indien ons nie hierdie gebeurtenis met net soveel erns, soos Jesus se geboorte, lewe, kruisiging en opstanding, opneem nie, mis ons ‘n deel van die goeie nuus, mis ons ‘n belangrike deel van Jesus se storie. Die hemelvaart en pinksterfees (wat ons van sondag af vier) is eintlik nog deel van die klimaks van Jesus se storie. Hierdie is net so belangrik soos Jesus se kruisiging en opstanding, want sonder dit is God se plan nie voltooi nie. 

So wat gebeur met Jesus se hemelvaart? Ek dink baie van ons dink, dit is waar Jesus weggegaan het hemel toe en op ‘n manier voel dit nie soos goeie nuus nie en daarom vier ons dit dalk nie met soveel vreugde nie. Maar dan mis ons die goeie nuus van Hemelvaart. 

Jesus het terwyl Hy nog geleef het vir ons die hemelvaart verduidelik. Hy het gesê Hy moet gaan om vir ons plek gereed te maak. Hy het ook gesê Hy moet gaan, sodat die Heilige Gees uitgestort kan word. Dit is dus wat met hemelvaart en pinkster gebeur. Met Hemelvaart vaar Jesus as mens op en word in God opgeneem. So word die Seun van die Mens deel van die Vader! 

Met Pinksterfees word die Heilge Gees uitgestort en begin in mense leef en so word God een met mense. Hoor hoe beskryf Jesus hierdie aan die dissipels wanneer Hy hulle daarvoor voorberei. 

Ons lees dit in Johannes 14:18-20. “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog net ‘n klein rukkie, en dan sien die wêreld my nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in MY en EK in julle.” 

Jesus het ongelooflike baie met die dissipels oor die eenheid van God en mense gepraat. Dit word ‘n werklikheid met hemelvaart en pinkster en ons moet hierdie klimaks van Jesus se storie vier, bly wees en ter harte neem. God leef in ons! God leef in jou! God is een met jou! Dit is eintlik ‘n gedagte te oorweldigend vir ons menslikheid, maar seker van die beste nuus wat ons ooit kan ontvang. God wil in jou leef en een met jou wees. Ons moet dit egter toelaat. Ons moet beheer aan die Heilige Gees oorgee. Ek het ‘n prentjie so rukkie gelede gesien, wat sê baie van ons wil Moses vra hoe was dit die Rooi see te skei, of vir Daniël hoe was dit in die leeukuil en hulle gaan reageer en vra dit is nie so belangrik nie, hoe was dit om met die Heilige Gees in jou te leef? 

Jesus gee vir ons twee beloftes voor Hy gaan.

  1. Hy sal ons nie alleen los nie, maar gee vir ons die Heilige Gees.
  2. Hy sal weer terug kom! 

Hy moet nou egter gaan om vir ons plek gereed te maak by Hom! Hierdie gee ons hoop, dit gee ons iets om na uit te sien. Dit help ons om te weet waarheen ons op pad is en dit help ons om met vrede hier en nou te kan leef. 

Daarmee saam het Hy vir ons ‘n opdrag gee, versprei hierdie goeie nuus, die volle goeie nuus aan die wêreld. Gaan na elke nasie, doop hulle en leer hulle alles wat ek julle geleer het. Ek gaan om vir julle plek gereed te maak, en julle moet weer die plek hier voorberei vir my om terug te kom. 

Hierdie gee ons ‘n doel. Iets om voor te werk. Ons is hier met ‘n opdrag van God en moet dit tot die beste van ons vermoëns uitvoer. Dit gee ons iets om voor te leef. Selfs wanneer hierdie soos ‘n moeilike taak klink het ons goeie nuus. Ons is nie alleen agter gelaat nie, maar ons het die Heilge Gees om ons hiermee te help. Ons gaan juis tydens pinkster weer hoor wat beteken dit om geesvervuld te leef. Vir nou wil ek jou weereens uitnooi om in gebed jouself ontvanklik te maak vir die Heilige Gees. Om tydens hierdie pinkster tyd weer opnuut uit te sien na ons toekoms saam God in Sy koninkryk en om nou alreeds te help bou aan hierdie Koninkryk deur geesvervuld te leef. 

Amen. 

Seën. 

EREDIENSE

Nuutste Preke

Dankbaar met my hele lewe

Dankbaar met my hele lewe

Ons het die afgelope paar weke die voorreg gehad om opnuut oor dankbaarheid te preek, te luister en te beleef.

Dankbaar oor die Skepping

Dankbaar oor die Skepping

Daar is onlangs ‘n studie gedoen oor die geloofsoortuigings van jong studente. Van die vrae wat hulle moes antwoord het gegaan oor die verhouding tussen geloof en wetenskap.

Dankbaar vir die Kerk

Dankbaar vir die Kerk

Ons is besig met ‘n paar temas oor “dankbaarheid”, en vandag staan ons stil by die gedagte “om dankbaar te wees oor die kerk.”