Agter Maskers en Afskortings

Ds Gert Victor - 26 April 2020

AGTER MASKERS EN AFSKORTINGS 

Skriflesing : Openbaring 1 : 11-6, 9-13, 17-18 

Ons wêreld het dramaties verander. Wie sou kon droom dat ons mekaar in die Supermark van agter gesigmaskers en deur glas-afskortings sou groet, met ‘n botteltjie handreiniger as ekstra troos in jou baadjiesak. Ons beleef mekaar se onsekere liggaamstaal, sien die wyfeling in mekaar se oë, hoor dit in mekaar se stemme.

Vir meeste mense het ‘n paar vierkante meter ‘n nuwe lewensruimte geword. Daar is onsekerheid in ons wêreld, en dit raak elke lewensterrein… die ekonomie, die politiek, gesondheidsisteme, ons beweging en funksionering,  en selfs ook godsdiens en die manier hoe ons kerk is. 

Ook is daar geweldige implikasies op sosiaal-maatskaplike vlak. Mense is honger en dors, bekommerd en bang. Baie mense voel ons is letterlik en figuurlik gedoem tot maskers en afskortings. Dit is hoe ons wêreld, dorpe en stede nou lyk. Dinge kan waarskynlik nooit weer wees soos dit was nie. En die vraag wat baie vra is : Waar is God as die wêreld so lyk? 

Dit bring ons by die boek Openbaring. Ons kan maklik voel dat Openbaring ‘n vreemde boek is, dat ons nie mooi weet hoe om dit te verstaan nie. Selfs die ou kerkvaders soos Luther e.a het nogal geworstel met hierdie interressante boek. 

Die eenvoudige antwoord is dat Openbaring ‘n brief is wat geskryf is vir alle Christene van alle tye, en dat dit gaan oor Christus en die kerk. Dis in werklikheid ‘n brief van Christus aan die kerk. En dit gaan oor die vraag : Wat moet volgelinge van Jesus en gemeentes doen in hierdie moeilike en deurmekaar tye waarin ons leef?  

Johannes begin die brief in die Naam an die Vader, Seun en Heilige Gees. Hy groet die gemeentes en gelowiges vir wie hy skryf in die Naam van die Drie-enige God. Dis ‘n tema wat deur die hele boek loop. Openbaring wil ons laat verstaan dat hierdie Drie-enige God groter en magtiger as al die keisers, konings en magte van die wêreld. Hierdie God wil Sy volgelinge, die kerk, toerus en help in ons roeping in die wêreld. 

Aan die een kant praat Openbaring oor God, en aan die ander kant oor die wêreld en ons lewe in die wêreld. In Johannes se tyd het mense geleef asof alles in die wêreld in orde is. Daar was sogenaamde vrede, maar dit was ‘n brose vrede. In werklikheid was dit deurmekaar en droewige tye. Onder die dun nerfie van s.g. vrede was daar chaos, onmenslikheid en onreg. Christene is vervolg en veroordeel oor hulle geloof. 

In die middel van die boek beskryf Johannes ontstellende tonele in die natuur en die skepping. Tonele wat getuig van ‘n aarde wat ly en swaarkry. Daarom wil Openbaring ons help om nie vas te kyk in ‘n wêreld waar dit lýk asof alles in orde is nie. Want dit is ‘n vals werklikheid. Ons moet dieper kyk en ontdek die wêreld is glad nie so gesond en in orde soos wat ons dalk op die oog-af dink nie. 

Vandag is Christene, volgelinge van Jesus, of dan die kerk deel van die chaos en ellende rondom ons. Ons leef in hierdie skepping en op hierdie aarde, en die lyding rondom ons tref ons ook. Maar die Here gee die versekering dat Hy Sy kerk bewaar. Ons kan weet dat die kerk deel is van die simboliese 144 000 wat Hy in Sy hand vashou. 

En daarom het ons hoop. Openbaring is ‘n boodskap van hoop vir God se kinders. En daar is spesifieke dinge waarop ons hoop gebou is. Ons het ‘n nuwe toekoms. God is met ons op pad na ‘n nuwe stad. Dit moet ons elke dag inspireer vir die pad wat ons nou nog moet stap. 

Hier aan die begin van die brief hoor ons van 7 stede in Klein-Asië, waar daar 7 gemeentes was. In elke stad ‘n gemeente van Christus-volgelinge. En nou skryf Johannes hierdie brief aan hierdie 7 gemeentes oor hulle lewe en werk in die stede waar hulle geleef en gebly het. T.s.v die chaos in die wêreld het God die stede en gemeentes lief, en wil Hy juis vir die gelowiges hoop en moed gee om die Evangelie uit te leef sodat mense gered kan word. 

Elke gemeente (Christen-gelowiges) word dus ook draers van hoop vir elke stad waarvan hulle deel is. Die Here het ‘n duidelike plan met Sy volgelinge, met jou en my. Die kerk is nou priesters in diens van God. Hy wil deur ons by die stad en die wêreld uitkom. Volgelinge van Christus is God se plan. Die kerk en gemeentes is God se plan. En die Here versorg Sy volgelinge en Sy  gemeentes. 

As Christene sukkel ons dikwels om ons plek in die wêreld reg te verstaan. Ons wonder baiekeer oor ons roeping. Openbaring wil ons help om te verstaan wie God is, wie ons is, hoe die wêreld lyk, en wat God se plan is met Sy volgelinge hier op aarde. 

En die heeltyd herinner Openbaring ons dat Christus die Bron van ons hoop is. Hy staan tussen die 7 lampe. Hy is by Sy gemeentes in die wêreld en in die stede waar Hy hulle geplant het. Ja Hy is teenwoordig ook agter en te midde van gesigmaskers en glas-afskortings en handreinigers en menslike onsekerhede. Dit is Sy stad, en Sy dorp, en Sy gemeente, en Sy wêreld.

Nog steeds is dit syne. Hy is ons hoop. Al sukkel ons so maklik. Al is ons kragteloos in onsself. Al is ons lomp. Al struikel ons gereeld. Al maak ons só baie foute. Ja, al kry ons dit dikwels so moeilik reg om lig te wees. Hy is by ons, tussen, ons, en saam met ons. Hý is ons Lig. 

Die Here gee nooit moed op met Sy kerk en ook nie met Sy wêreld nie. Die kerk behoort aan Hom. Hy het duur daarvoor betaal. En Hy het ‘n plan met Sy kerk in die wêreld. Juis ook in die tyd waarin jy en ek nóu lewe. Die geskiedenis is in Sy hand, verlede, hede en toekoms. Hy hou Sy kinders vas. God kan nie ingeperk word nie. Hy is nie onder “lockdown” nie. Hy is teenwoordig en besig, soos altyd, ook in en deur Sy Christus-volgelinge. 

Volgelinge van Jesus… moenie moed verloor nie! God het julle lief. Hy verlos julle. Hy het julle Sy Koninkryk gemaak. Ja, Hy het ‘n plan met jou. Ná die hemelvaart is Christus nie weg nie. Hy is tussen Sy gemeentes. Hy is by ons. Hy, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Hy hou die sleutels in Sy hand. Hy is die antwoord op al ons vrae.

 

Lees gerus die volgende aangrypende weergawe van Openbaring 1 vanuit “die Boodskap” :

Daar is baie dinge wat mense nie weet nie. Net God weet dit. Jesus Christus het egter die gordyn kom wegtrek sodat mense wat Hom dien ook party van daardie goddelike dinge kan leer ken. Daarvan vertel hierdie brief.

“Gelukkig is almal wat hierdie goddelike woorde hoor en dit ernstig opneem, want daar is nie meer baie tyd oor nie.

Ek groet julle met die wens dat God vir julle alles sal gee wat julle nodig het, of julle dit verdien of nie.

Mag julle lewe van God se vrede oorloop. Dit is die God wat nou by ons is, wat nog altyd daar was en ook in die toekoms saam met ons sal wees.

Hy is die Een by wie alles begin en waar alles ook eindig. Hy is tegelyk soos die A en die Z van die alfabet. Hy is nou by ons soos Hy in die verlede by ons was. Hy stap ook saam met ons die toekoms tegemoet. Niemand of niks kan naastenby by Hom kers vashou nie, want Hy het mag en gesag oor alles.

Toe ek Hom sien, het ek so klein gevoel voor sy grootheid dat ek net daar voor Hom neergesak het. So magteloos soos die kleinste wurmpie het ek voor Hom bly lê. Hy kon met my maak wat Hy wou. Maar toe voel ek sy sterk regterhand op my en hoor Hom met my praat: “Moenie bang wees nie. Ek was voor die skepping al daar. En wanneer alles tot ’n einde kom, sal Ek nog daar wees. Ek is die Een wat leef, maar ook lewe kan gee. Ek leef: nie net nou nie, maar vir ewig en altyd. Ek het die sleutels wat die deur na die dood oop- en toesluit.”

‘n Paar jaar gelede besoek ‘n vooraanstaande ryk Kaapse sakeman ‘n groep graad 6 leerlinge op die Kaapse vlakte. Voor hom sit 59 graad 6’e. Wat kon hy sê om hulle te inspireer? Die meeste van die kinders sou waarskynlik voor graad10 al die skool verlaat. Die sakeman het gewonder hoe kan hy hulle net sover kry om vir hom te kyk… Toe skuif hy sy notas eenkant toe, en besluit om uit sy hart met hulle te praat : “Bly id skool!” het hy hulle aangemoedig. “Hou moed, en hou aan studeer, en ek sal betaal vir elkeen van julle se naskoolse opleiding”… Op daardie oomblik het al daardie kinders se lewens verander. Vir die eerste keer het hulle hoop gehad. Iets om na uit te sien. Iets wat vir hulle gewag het. Ses jaar later het 90 persent van hulle matriek voltooi. En die sakeman het sy belofte nagekom.

Onthou – Die Here hou die sleutels in Sy hand. Hy is by jou. Hy het ‘n plan met jou. Hou moed en hou aan glo.

EREDIENSE

Nuutste Preke

Hoekom leef jy?

Hoekom leef jy?

Hoekom staan jy op in die oggend? Ek bedoel nou behalwe vir jou wekker wat afgaan of jy wat genoeg geslaap het.

Om glad nie, óf verkeerd te bid…

Om glad nie, óf verkeerd te bid…

Elektroniese Oorbetalings: NG Kerk Harrismith ABSA (334633). Tjekrek. Nr. 910580019Om glad nie, óf verkeerd te bid... Skriflesing: Jakobus 4:2-3 Vanoggend wil ek graag iets oor gebed sê… want; gebed is in die eerste plek ‘n Bybelse; Goddelike OPDRAG… as ek vir Paulus...

Meer as ‘n Suigstokkie-Storie

Meer as ‘n Suigstokkie-Storie

Droom jy nog? Tydens die Covit19 inperking sê baie mense dat hulle skielik weer droom, of ten minste baie meer bewus is van hulle drome.