Om glad nie, óf verkeerd te bid...
Ds Org van der Watt - 5 Julie 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Om glad nie, óf verkeerd te bid…
Skriflesing: Jakobus 4:2-3
Vanoggend wil ek graag iets oor gebed sê… want; gebed is in die eerste plek ‘n Bybelse; Goddelike OPDRAG… as ek vir Paulus en die ander Apostels reg verstaan is gebed ook veronderstel om ‘n ononderbroke geloofsoefening te wees in die lewe van die Kinders van God… Gebed is onlosmaakbaar deel van ons geloofslewe!
Hierdie duur les het ek geleer eers nadat ek baie dinge in my bediening uit eie krag probeer aanpak het… En menslik is ons maar almal; want kort kort betrap ek myself date k weereens iets aanpak voordat ek dit eers deurgebeid het en by die voete van die Here gaan neerlê het…
Jy sien; deur die Kruisdood van ons Here Jesus Christus het elkeen wat in Hom glo en die genade wat hy bied aanneem en jou eie gemaak het, die groot voorreg om met vrymoedigheid na God te gaan (Hebreërs 10).
Vanoggend wil ek hê ons moet ‘n gedeelte uit die brief van die Apostel Jakobus saamlees – Jakobus 4. Nou; Jakobus se hele brief, br + sr; gaan eintlik daaroor dat ‘n gelowige – ‘n ware kind van God – aan sy dade en leefwyse uitgeken moet word! In hoofstuk 2 verduidelik hy só mooi dat geloof sonder dade wat daarby pas dood is! En vandaaraf vloei alles waaroor hy dan in die res van die brief skrywe…
In hierdie gedeelte wat ons vanoggend gaan saamlees probeer Jakobus die vroeë kerk – die gelowiges wat ongeveer hier aan die begin van die 2de eeu nC geleef het – waarsku teen die sonde van begeerte en dan verduidelik hy dat dit as gevolg van hulle liefde vir die wêreld en sy dinge is – aardse goed – dat hulle nie in vrede met mekaar kan saamleef nie… omdat selfsug en gierigheid dinge is wat nie pas by kinders van die Here nie…
En dan; interresant genoeg, sê Jakobus in dieselfde gedeelte ‘n paar belangrike goed oor GEBED…
Hy skryf hier dat die mense nie bid nie – hulle skuldig maak aan die sonde van biddeloosheid… en verder wys hy hulle daarop dat wanneer hulle wél bid, hulle nie ontvang nie, omdat hulle VERKEERD bid!!!
Dis asof Jakobus – sonder om doekies om te draai – vir hulle dit kom duidelik maak dat hulle sonde van hebsug en selfsug wat aangevuur word deur hulle sondige begeertes; uiteindelik in wese ook hulle gebedslewe vergiftig…
Omdat hulle verlei word deur hulle eie vleeslike en materiële begeertes (1:14) en omdat hulle as gevolg daarvan nie die duiwel met al sy versoekings teëstaan nie (4:7); ly hulle gebedslewe uiteindelik daaronder! Want; jy sien – deur al hierdie dinge mis hulle uiteindelik die ware doel en aard van die gebed… en ek dink dat dit in baie opsigte ook vandag met baie gelowiges die geval is…
Kom ons hoor wat skrywe Jakobus vir ons hier…
Epiklesegebed & Skriflesing : Jakobus 4:1-6
Broers en susters; dit wat Jakobus hier oor gebed skrywe is eintlik baie voor die hand liggend en eenvoudig: “Wie nie vra nie – óf hulle wat verkeerd vra – sal nie ontvang nie…!?” En Jakobus is nie hier besig met ‘n leer wat hyself uitgedink het nie… Hy verduidelik eintlik een van die mees fundamentele Koningkryksbeginsels op ‘n baie reguit en eenvoudige manier…
Nou; biddeloosheid is iets waaraan meer gelowiges ly as wat ons mag dink… dit het ek noual in die skammele 8 jaar van my bediening meer as een keer besef! En die redes hiervoor is natuurlik baie…
Dit kan wees dat mense waarskynlik onder een of ander wanpersepsie verkeer dat God in hierdie wêreld Sy spesiale voorbidders uitgekies het wat voorkeurbehandeling geniet as dit kom by gebedsbeantwoording en dat die bidwerk maar liewer in hulle bekwame hande gelos moet word…
…in die hande van die Angus Buchans onder ons… want; ek bid darem nie so goed en mooi soos daai ou nie… máár; dit kan hoegenaamd mos nie só wees nie; broers en susters!
Want; skryf die Hebreërskrywer; deur die bloed van die Here Jesus Christus het elkeen wat glo nou vrye toegang tot God die Vader en kan ons met vrymoedigheid tot Hom nader!
Dit kan natuurlik ook wees dat mense nie tot bid oorgaan nie, omdat hulle gedurig in vertwyfeling val… Hulle glo waarskynlik in God en weet dat Hy daar is, maar vir een of ander duistere rede bestaan daar vir hulle ‘n onoorbrugbare kloof tussen hulle en God… vir baie mense is Hy hierdie vêraf Opperwese wat bemoei is met die onderhouding van die heelal en gevolglik te GROOT en te VêR is om te luister na wat ‘ek’ tesê het…???
Maar dan wonder ek maar net wat maak ons dan met ‘n teks soos Ps. 8:5 wat sê: “Want is die mens dat U aan Hom dink…die mensekind dat U nah om sou omsien…?”
Broers en susters; in die Here Jesus Christus het God naby aan ons gekom en kan ons dit maar waag om te bid!
By ander gelowiges hoor ek weer dat hulle gebed êrens langs die pad verloor het… ophou bid het vir een of ander rede… In baie ekstreme gevalle hoor mens dat iemand gebed ‘afgesweer’ het! Omdat hulle eens op ‘n tyd gevoel het dat hulle tevergeefs bid… dat hulle gebed op niks uitgeloop het en hulle smeekgebede op dowe ore geval het…? Mense wat geestelik terleurgestel staan voor God… en gevolglik nou onder die vals indruk verkeer dat God nie hoor nie…?
Sonder om geloofsonderskeidend te gaan besin oor die rede vir hierdie waarskynlik onbeantwoorde gebede… sonder om vir een oomblik te dink dat dit wat afgebid is, dalk nie deel was van God se wil vir hulle lewe nie… hoe moeilik en swaar dit in baie gevalle ookal mag wees…? (Professor in “God’s not Dead!”).
Máár; die rede waarom die mense aan wie Jakobus skrywe nie gebid het nie; was waarskynlik vanweë hulle vertroue in aardse; verganklike dinge… Ons kry dit vandag nog… Mense wat sê: “Ons het nie vir God nodig nie! Ons het geld, mag, status, rykdom… dit wat ek soek en graag wil hê, kry ek op my eie en met gemak…
…al beteken dit dan dat in sommige gevalle op ander moet trap om dit te bekom! Dit gaan met ons goed…!?” Só asof gebed net daar is vir die wat weerloos en hulpeloos is…
Máár; hoe dit ookal sy en wat ookal mense se redes en verskonings is waarom hulle nie in gebed tot God nader nie – punt is; skryf Jakobus: “Wie nie vra nie, ontvang nie…” In Matt. 7:7 sê Jesus: “Vra en vir julle sal gegee word, soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word.” In Joh. 14:13-14 sê Hy: “Wat julle ookal in my Naam vra sal Ek doen… As julle My iets in My Naam vra sal Ek dit doen!”
Dawid bid vir beskerming, vergifnis en leiding… Salomo bid vir wysheid… Paulus bid vir die verkondiging van die Evangelie… Jesus bid vir baie dinge… en Jesus bid gedurig – vir allerlei dinge! (gaan lees maar weer mooi die Evangelies deur!). En hierdie mense; lees ons; het baie van God ontvang en is uiteindelik kragtig deur Hom gebruik; want hulle het dit van Hom gevra! En dit was in lyn met Sy soewereine WIL! Dit is uiteindelik die goue spelreël as dit kom by gebed…
En dit bring my by die 2de ding wat Jakobus hier oor gebed leer… Hy verduidelik dat gelowiges inderdaad ook verkeerd kan bid! Hy skryf: “As julle wél bid; ontvang julle ook nie, omdat julle verkeerd bid! Julle wil net julle eie selfsugtige begeertes – ook deur die gebed – bevredig hê!”
Nou; let op br + sr – ‘verkeerd bid’ het absoluut NIKS temake met ‘mooi’ en ‘goed geformuleerde’; ‘uitgebreide gebede’ nie… oor die gebruik van die regte woorde wat God sal behaag nie! Dit gaan hoegenaamd nie oor die lengte van jou gebed en hoe goed jy jouself voor God kan uitdruk nie… want; jy sien; die Gees tree vir ons in met versugtinge wat nie in mensetaal uitgedruk kan word nie (Rom.8)… God ken jou hart en weet wat jy wil vra…
Só; ek wil nie hê julle moet nou na vanoggend hierdie versie verkeerd verstaan en as ‘n verdere verskoning gebruik om nie te bid nie…
Die verkeerdheid óf aanvaarbaarheid van jou gebed voor God lê in die motief waarmee jy dit doen!
Jakobus wil hiermee sê dat sy toehoorders slegs gebid het om hulle eie selfsugtige begeertes en daarom nie ontvang het nie…
Jy sien; dis daardie kinderlik opregte gebede wat ek dink eerder beantwoord sal word… ‘n gebed wat uit afhanklikheid en nederigheid gebore word en voor God gebid word…
Agter die mooi lang uitgebreide en goed geformuleerde gebede skuil daar dikwels die motief van manupilasie – hierdie gedagte dat ek God kan oorhaal om in beweging te kom as ek hierdie lieflike gebed tot Hom rig! Maar; ons almal weet wat Jesus ook hieroor tesê gehad het… (Matt.6)
Jy sien; daarom dink ek dat dit ook nie soseer gaan oor waarvóór jy bid nie – máár, eerder oor die rede waarom jy van God vra wat jy vra? Wat wil jy daardeur bereik? En sal dit tot Sy eer strek? Is dit in lyn met Sy wil?
Dis die vrae wat ons onsself moet afvra, broers en susters!
Jakobus probeer hier aan sy lesers verduidelik dat wanneer hulle wél bid, hulle die gawe van gebed nie moet misbruik om hulle eie selfsugtige begeertes te bevredig nie! Die woord wat hier met selfsug vertaal word kan ook vertaal word met welluste of plesiersug… en só is di took maar dikwels met ons..? Ons bid dikwels vir ‘n beter, gemakliker lewe – eerders as om net vir ons daaglikse brood te bid soos wat Jesus ons geleer het.
Eintlik probeer Jakobus vir hulle sê dat hulle nie moet toelaat dat hulle vleeslike begeertes hulle verstaan van Gebed en Wie God is moet vertroebel nie…
Die Romeinse filosoof Plinius (en dit is nogal ironies dat ‘n heiden ons dalk iets van gebed kan leer) – máár Plinius het geskryf dat mense van sy tyd die ore van die gode misbruik het…
En só vermaan Jakobus dan ook die kinders van God wat tot Hom bid; om nie van gebed ‘n goedkoop handeling te maak nie… om dit nie te stroop van alle diepte en opregtheid nie.
Jy sien, broers en susters; as ons selfsugtig bid, kan ons dit maar netsowel los… Want; dan bid ons verkeerd – en; só skryf Jakobus; ontvang ons ook nie…
Wat ons van God vra; soos ek reeds genoem het; behoort mos in die eerste plek gevra te word met die oog daarop om die Here beter te leer ken en dien…Om Sy saak in hierdie wêreld te bevorder! Om sélf beter aan Hom gehoorsaam te lewe…
Vir Jakobus (en vir al die ander Bybelskrywers) hou gebed onlosmaakbaar verband met die EER van God! Moet dit; in die eerste plek gebruik word om in voeling te kom met God se wil en uiteindelik – in die eerste plek daarna te vra! Jou eie wil prys te gee en te bid: “Laat U wil geskied!” Om uiteindelik te bid vir die dinge wat ewigheidswaarde dra! Dat die werk wat God in elkeen van ons begin het, end uit gevoer sal word en Sy doel daarmee volbring sal word!
Ek sluit af.
Ek dink nie Jakobus is teen gebed wat geskoei is op persoonlike behoeftes en bevrediging nie… want; só leer die Prediker: ook dit is ‘n gawe uit Godshand… Maar; dit is egter eers wanneer ons ons eie selfsugtige begeertes opsy skuif en ons gedagtes rig op dit wat daarbo is en dit uiteindelik al hoe meer van God begin afbid; dat GEBED in ons lewens weer sal begin sin maak…
Dit is wanner jy bid vir die koms van Sy Koninkryk en dat Sy wil geskied, dat jy opnuut sal leer dat gebed wél verhoor word en dat God in oorvloed voorsien – dikwels vêr bo dit wat ons mag bid of dink (Ef.3:20)…
Amen
EREDIENSE
Nuutste Preke
Verloën jouself
Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …
Tussen-tyd-mense roep Maranatha!
Ds Gert preek uit Matteus 34:36-44
Bedaar en erken dat Ek God is
Ds Ulrich preek uit Psalm 46 en Handelinge 7:54-60
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


