As daar geen Paasfees was nie

Ds Org van der Watt - 11 April 2020 (Paasfees Sondag)

Tema: “As daar geen Paasfees was nie..?”

Ds. Org van der Watt

 

Teks: 1 Kor. 15:12-20

Die ou mense, broers en susters, het altyd gesê: “As is verbrande hout…” En alhoewel ons dit weet en al te goed besef; Hoeveel keer hoor ons nie ander mense sê óf betrap ons onsself dat ons sê: “As ek maar net dit of dat gedoen het…?”

So; asof ons ons lewens probeer her-uitlê om te sien of ons nie dalk die noodlot kon vryspring as ons dit of dat gedoen het nie…om te sien of ons lewens nie beter of makliker sou gewees het nie… soms aaklige gedagtes, broers en susters,  waarmee ons onsself straf… maar as, broers en susters, is verbrande hout… dis water onder deur die brug…

Maar; ek dink nie daar is ‘n verskrikliker ‘as’ as die ‘as’ wat Paulus in die teks van 1 Kor. 15:14 vir ons uitlig, wanneer hy sê: “…as Christus nie opgewek is nie…” Daar is aaklige ss’se in die lewe, maar vir ‘n gelowige is die mees neerdrukkendste van hulle almal; om te dink hoe dinge sou lyk en wees “…as daar geen Paasfees was nie – met ander woorde, as ons Here Jesus Christus nie uit die dood uit opgewek is nie…!”

En wanneer Paulus hierdie vreeslike aanname maak, doen hy ook baie moeite om vir ons uit te lig hoe neerdrukkend en verrykend die gevolge van só ‘n gedagte kan wees…

Want hy sê: “As Christus nie uit die dood uit opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud…” Hy praat natuurlik hier van homself en die ander apostels wat hulle beywer het vir die verkondiging van die evangelie… Diegene wat deur allerhande beproewings gegaan het terwille van dit wat hulle geglo het en ook verkondig het…

En alhoewel Paulus retoriek in hierdie teks groot waarde gehad het om twyfelende mense weer opnuut te oortuig… Is hierdie “sê nou maar” gedagte wat hy hier inslaan vandag sêlfs van nog meer waarde!!!

Want, as gevolg van hierdie manne, wat oog en oor getuies van Christus se opstanding en vleesike verskyning aan hulle was, het die ecclesia Christi – Die Kerk van Christus – tot stand gekom!

‘n Geloofsgemeenskap wat al vir meer as 2000 jaar bestaan!!! Vir meer as 2000 jaar is daar gelowiges wat hulle beywer en toewy aan hierdie kerk – omdat dit daar is waar hulle ‘n belewenis en ontmoeting met die opgestane Here Jesus Christus het!!!

Maar, as Christus nie uit die dood uit opgewek is nie – As sy liggaam dan nou weggesteek is, soos sommiges beweer, en as Sy verskyning aan talle mense daardie Sondag-oggend ‘n hallusinasie van hulle verbeelding was – dan is die prediking in ons kerke en die maak van hierdie video-boodskap tervergeefs en sonder inhoud! Leeg en ongeldig!

Dan het al die miljoene teoloë en predikers van die afgelope 2000 jaar hulself beywer vir ‘n fabel. Dan het die martelare van ons geloof – en glo my, daar was baie – deur die eeue heen terwille van ‘n leun op brandstapels gebrand en aan die galg gehang!!! Dan is die miljarde der miljarde rande wat aan kerkgeboue, opleiding en amptenare spandeer is tevergeefs!

In die tweede instansie sê Paulus: “As Christus nie uit die dood uit opgewek is nie, dan is ons geloof ook sonder inhoud en tevergeefs…” Want as ons nie in die opstanding van Christus glo nie en dat ons daardeur saam met Hom die oorwinning oor sonde en die magte van hierdie wêreld behaal het nie… Waarin glo ons dan!? Hoekom glo ons dan!?

As die opstanding van Christus nie waar is nie – As die graf nie leeg is nie – Dan is ons geloof sonder inhou en tevergeefs! As dit nie gebeur het nie, is ons dwase mense wat onsself, 2000 jaar ná die valse uitlatings, steeds laat meesleur om te glo in ‘n mooi storie – ‘n Sprokie oor ‘n man wat wonderwerke gedoen het, uiteindelik daarvoor gely het en gesterf het en wat weer uit die dood uit opgestaan het!!!

As die opstanding ‘n fabel is… ‘n Wensdenkery… dan is ons vertroue in God, elke liewe gebed wat ons in geloof gebid het, al ons hoop, ons verlange na die wederkoms van ons Here… Sinloos en tevergeefs!!!

Laastens sê Paulus ook: “As die opstanding van Christus nie waar is nie, dan was hy, die apostels en almal wat na hulle daaroor getuig het – leunaars… Dan het hulle ‘n vals getuienis (téén en óór God) afgelê, omdat hulle téén God in getuig het, deur te verkondig dat Hy Sy Seun, Jesus Christus, uit die dood uit opgewek het!!!”

Met ander woorde, broers en susters, ons lewer nie ‘n foutiewe getuienis nie – ons verkondig nie ‘n halwe waarheid nie… Paulus maak dit nog sterker deur te meen dat ons dan ‘n VALS getuienis beet het!!! Dat iemand ons ongelukkig om die bos gelei het om deel te wees van ‘n leun…

En het u nou al gedink met watter swaar gemoed Paulus al hierdie uitlatings gemaak het… Hy, wat ‘n trotse beyweraar vir die geloof was… Wat gesê het: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie!” Wat gesê het: “My lewe is Christus, selfs die dood is ‘n wins!!!” Wat sy roeping as apostel hoog geag het. Hy wat een van die gootste ambassadeurs vir Christus was!

En; as gevolg van sy vurigheid daarvoor het hy ‘n angswekkende ervarings deurgemaak… Die inwoners van Listra het hom met klippe bestook… In Ikonium is hy tot in die afgrond toe beledig… In Filippi is hy gemartel en gegesel…In Seserea is hy in die tronk gesmyt!!!

Maar, as die gebeure van Paasfees nie die waarheid is nie, broers en susters, was dit alles tevergeefs en word Paulus bewys as ‘n leunaar wat miljoene der miljoene mense vir meer as 2000 jaar lank om die bos gelei het!!!

As Paasfees nie ‘n werklikheid is nie, dan het die dood ‘n angel en dan is die graf die oorwinnaar!!! Dan is dit soos Paulus in vers 17 sê: “Ons geloof is dan waardeloos en is ons steeds gevangenisse van ons sondes! Dan is ons die bejammeringswaardigste van almal…” 

Maar; nou, nadat Paulus al hierdie verskriklike “sê nou maar” gedagtes aan die Korintiërs meegedeel het… Nadat hy vir hulle uitgelig het wat die gevolge sou wees AS Christus nie uit die dood uit opgewek is nie, en homself – soos ek vanoggend – gemartel het deur al hierdie voorbeelde oor sy lippe te bring terwille van ‘n kragdadige oortuigings-retoriek… Kom hy in vers 20 en stel homself en die gemeente net weer opnuut gerus van die feit dat Christus wel uit die dood opgewek is en inderdaad die oorwinning behaal het!!!

En dit is wat ons vandag vier, broers en susters! Dit is wat ons vandag opnuut verkondig en bely! Dit is waaraan ons vandag moet vashou! Dit is die waarheid wat ons vandag moet vrymaak van al die aaklige ass’se en sê nou maar’s van hierdie lewe!!!

 

Want Christus het gely… Hy is veroordeel en in ons plek aan die kruis gehang, ja! Hy het ook gesterf vir al ons oortrdings! Hy is begrawe en Hy het ter helle neergedaal!

Maar; dit is nie daar waar die verlossingswerk van God ophou nie, broers en susters! Christus is ook opgewek en het inderdaad op die derde dag weer opgestaan uit die dode! Hy sit aan die regterhand van die Vader vanwaar Hy regeer en waar Hy vir ons plek voorberei! Vanwaar Hy sal kom om ons te haal en na ons ewige tuiste by die Vader sal neem!

Daarom durf ons nie vanoggend sê “Maar wat as Christus nie uit die dood opgewek is nie…” Ons sê eerder vanoggend vir mekaar “Juis omdat Christus uit die dood opgewek is, vier ons die fees en word die boodskap opnuut verkondig. Versterk ons opnuut ons geloof daarin!!!”

Die graf is leeg; broers en susters! Die klip is weggerol! Die doeke is opgevou en die dood is oorwin…!!! En daarom kan ons ook vanoggend saam met Paulus en die kerk van alle tye bely dat ons glo in die opstanding van die vlees… die vergewing van sondes en ‘n ewige lewe van oorwinning en vreugde!!!

Amen!

 

Belydenis van Nicéa

Gebed

EREDIENSE

Nuutste Preke

Om Christus te Ken

Om Christus te Ken

Wat is jy bereid om te doen vir iets wat baie waardevol is? Dit hang natuurlik af wat dit is…

Die Weg

Die Weg

In die vroeë 60’ jare ontstaan een van die grootste en bekendste bewegings in Amerika. Die hippie beweging.