Lig in die Donker
Ds Gert Victor - 21 Maart 20201. Skriflesing
Johannes 8:12 – ‘n Ander keer het Jesus vir die mense gesê : “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat ware lewe gee.” Die Boodskap weergawe – Jesus praat toe verder met die mense : “wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir menseop geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doenom God tevrede te stel.”
2. Woordverkondiging
Die skrywer en filosoof Rudyard Kipling vertel ‘n interressante storie in een van sy boeke… Honderde eeue gelede het mense aanspraak gemaak dat hulle ook ‘n soort god is. Die ander gode het glad nie daarvan gehou nie . Hulle het saamgesweer en besluit om die mense se godheid te steel, en om dit weg te steek waar mense dit nooit weer sou kry nie… dit was egter nie so maklik nie, want – steek hulle dit iewers op aarde weg sou die mense nooit rus voor hulle dit opspoor nie… – steek hulle dit in die hemele weg sou mense ‘n manier vind om dit terug te kry… Een van die slim gode sê toe hy het plan. Hy vat toe die klein flikkerende liggie van die mense se godheid en vou dit toe in sy groot hand. Toe hy sy hand oopmaak is die liggie weg. Hy sê toe vir die ander gode : “Ek het die liggie gesit waar mense nooit daarna sal soek nie… Ek het dit binne-in hulleself weggesteek!”
Is die mens sy eie lig? Is ons ons eie ligbron?
Tydens die Jode se jaarlikse loofhutte-fees in Jerusalem het “lig” ‘n belangrike simboliese betekenis gehad. In die besigste deel van die tempelterrein, waar die meeste mense bymekaargekom het, was 4 groot goue kandelare. By hierdie kandelare het die feesgangers duisende fakkels aangesteek, en dit in die stad ingedra sodat die stad helder verlig was. In die lig van die kandelare het die Jode dan fees gevier en terug gedink aan die geskiedenis….. hoe die Here hulle uit Egipte gered het, hulle deur die woestyn gelei en in die beloofde land gebring het. Tussen hulle en Egiptenare was ‘n muur van vuur, en in die woestyn elke nag ‘n vuurkolom van lig om hulle te lei. Die vuur/lig by die huttefees het hulle ook herinner aan die profete se voorspellings oor die Messias wat sou kom om Israel te verlos. Dit het hulle ook herinner aan bekende liedere en gebede in bv. die Psalms waarin God en Sy teenwoordigheid beskryf word as ‘n lig.
Daarom… toe Jesus by hierdie belangrike fees begin preek, en Hy sê : “Ek is die lig vir die wêreld”, het die Jode waarskynlik geweet Hy verwys na Homself as die verwagte Messias, en natuurlik het hulle glad nie daarvan gehou nie. In werklikheid sê Jesus hier : “Ek alleen is die lig vir die hele wêreld”… Nét Hý is die lig, niemand ánders nie, en Hy verlig die hele skepping en die ganse kosmos. Hy staan téénoor álle ánder vorme van lig wat voorgee om waarheid en lewe en verlossing te bring… ook téénoor die selfgewaande mensgemaakte goddelikheid wat ons laat dink ons kan ons eie lig wees. Om jouself te ontdek moet jy die ware lig ontdek – Jesus is die ware lig! Hy is die sin van die lewe. As jy Hom volg sal jy weet waarheen jy op pad is. As jy aan Hom vashou sal Hy jou help om sin te maak uit die chaos van hierdie wêreld.
Niemand van ons hou regtig van die donker nie. Donker bring onsekerheid. In die donker kan mens seerkry. Donker is beperkend. Daar lê allerhande bedreigings vir jou en loer in die donker. En nie énige lig is noodwendig ‘n antwoord teen die donker nie. ‘n Flitslig, ofkers, of lantern in my hand beteken niks as ek nie weet waarheen ek daarmee op pad is nie. Dit kan my inteendeel net nóg meer verwar. Daarom is wat ons nodig het ‘n lig buíte ons sélf wat nie afhanklik is van óns emosies, wispelturigheid, vrese en verwardheid nie… ‘n lig wat ons verlig, en nader trek, ons lei, en vir ons rigting gee.
In Jesus se lig kom ons tot die lig. Ons oë gaan oop. Ons ontdek wie ons regtig is. In Sy lig sien ons ons sonde en swakheid, ons onvermoeë en broosheid, ons eie harte en motiewe. In Sy lig ontdek ons daar is hoop en ‘n ánder soort lewe. By Hom ontdek ons die liefde van God vir ons. In Jesus se lig word ons blootgelê en bevry. Dis ‘n lig wat só óp ons en déur ons skyn dat dit ons verlos en verander.
Ons wêreld is op die oomblik in die greep van die nag. Selfs ons heel beste liggies is pure donker. Ons is van nature sku vir God se lig. Ons het die duisternis meer lief as die lig. Die sonde maak ons soos nagdiertjies wat met glimmende ogies haastig wegskarrel vir die geringste teken van lig. Ons hou nie uit met die lig nie.
Maar die Lig hou uit met óns. Joh 1:5 – “Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Deur al die eeue storm donker magte af op die lig en probeer dit uitdoof. Ook geslepe godsdienstige magte (mense wat nie weet wat hulle doen nie), magte met fariseër-togas aan en met wetboeke in die hand… mense met groot klippe wat die lig wil doodgooi… mense met swaarde, spiese, stokke en swepe… mense wat spoeg op die lig. Aan die kruis lyk dit of hulle dit regkry. 3 ure lank hou die son op skyn. Dit lyk of die lig ingesluk word deur die nag. Asof die ligskakelaar van die heelal afgesit word. Dit word só donker dat dit Jesus laat roep : “…waarom het U my verlaat!?” Asof God vir Sy eie Seun wou sê : “fluit-fluit jou liggie is uit!”
Ek onthou hoe ek as kind saam met ‘n toergroep in die Sudwala grotte in is. In een van die groot grotkamers het hulle op ‘n stadium skielik al die ligte afgesit. Dit was pik-pikswart donkerder as die donkerste nagdonker. ‘n Donker wat jou na jou asem laat snak. Benoud donker. Jou oë kan dit net nie gewoond raak nie. Vir ‘n minuut het ons net daar gestaan, geskok, verstom en bang. En toe skakel die gids ‘n klein liggie aan, en skielik besef almal hoe belangrik lig regtig is. Dit is hoe dit is om sonder Christus te wees. Dis om totaal verlore te wees. Om rond te strompel sonder uitkoms, sonder rigting, sonder hoop, en sonder vrede.
Lig was belangrik vir die Jode. Die geskiedenis het hulle herinner hoe God se vuurkolom die volk deur die woestyn gelei het. Dit het hulle kamp verlig, en vir hulle veiligheid verseker, maar dit het hulle ook gelei na waar hulle moes wees. Dit was hulle rigting-aanwyser. Hulle kon nie die vuurkolom gebruik om hulle eie pad te maak nie. Hulle het dit gevolg waarheen dit hulle ookal gestuur het. Dit was ‘n ligbron buite hulleself…
En nou kom sê die Here : “Wie my volg sal nie in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat ware lewe gee”… So is Jesus en Sy Evangelie nie ‘n lig wat jy gebruik vir jou eie motiewe, of om jou eie pad en roete uit te werk nie. Jy volg Hom in Sy voetspore. Jy loop waar Hy jou lei. Jy luister na Sy stem, en soek na Sy wil, en jy vra heeltyd die vraag : “wat sal Jesus doen?”
En nou kom sê die Here : “Wie my volg sal nie in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat ware lewe gee”… So is Jesus en Sy Evangelie nie ‘n lig wat jy gebruik vir jou eie motiewe, of om jou eie pad en roete uit te werk nie. Jy volg Hom in Sy voetspore. Jy loop waar Hy jou lei. Jy luister na Sy stem, en soek na Sy wil, en jy vra heeltyd die vraag : “wat sal Jesus doen?”
In 1969 ontwikkel die wetenskaplike William Boyle en sy kollegas ‘n nuwe konsep wat bekend gestaan het as ‘n “elektroniese oog”. Hulle gebruik o.a. hulle kennis van die beweging en aard van lig om die s.g. CCD tegnologie te ontwikkel wat later in digitale kameras en slimfone gebruik sou word. Dit was ‘n revolusionêre nuwe konsep wat die wêreld van fotografie ingrypend verander het. Ligbeelde kon nou elektronies i.p.v. op film vasgelê word. Vir die eerste keer kon hierdie nuwe tegnologie bv. in die Hubble teleskoop gebruik word om die oppervlak van die planeet Mars te bestudeer…… Eendag ‘n hele paar jaar ná dié revolusionêre ontwikkeling loop William Boyle in ‘n kettingwinkel in om ‘n nuwe digitale kamera te koop. Die verkoopsman het eers probeer om die funksies en tegnologie van dié wonderlike kamera te verduidelik, maar toe dink hy by homself dis heeltemaal te tegnies en ingewikkeld vir sy klant. Boyle was effens gefrustreerd met die houding van die verkoopsman, en sê : “Jy hoef nie te verduidelik nie, ek het dit ontwerp.”Die verkoopsman was uit die veld geslaan en kon dit eers glo toe hy op die Internet sien dat Boyle wel die ontwerper was… In 2009 is die Nobelprys vir Fisika aan William Boyle toegeken, en word daar na hom en sy kollegas verwys as “Meesters van Lig.”
Soms wil ons ook met God maak soos daardie verkoopsman met Boyle. Ons wil vir God vertel hoe die lewe werk of hoe ons dink dit moet werk. Dit terwyl ons net aan Hom gehoorsaam moet bly, en in Sy lig moet lewe.
Mag Hy ons deur Sy Gees help om in donker tye aan Hom te bly vashou. Om nie onsself te vertrou nie, maar aan Christus se voorbeeld getrou te bly. Hy is die Bron van ware lig. God is die Meester van Lig! By Hom kan jy lewe. Saam met Hom is daar vir jou hoop en ‘n toekoms. By Hom alleen is ware genesing, verlossing en oorwinning. Net Hy kan Sy skepping werklik gesond maak… fisies en geestelik. Daarvoor moet ons bid. Nooi hom opnuut in jou leefruimte is. Wees sensitief vir Sy glans en bewus van Sy teenwoordigheid. By Hom is ware lewe, en dié lewe is die lig vir die mensdom. Ook vir jou. Vertrou hom, die Bron van Lig. Hy alleen herstel.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Vrede waar geloof vrees verdryf
Wat beteken “vrede” regtig? Vrede is nié ‘n oppervlakkige gemoedelikheid of welwillendheid ter wille van die vrede nie.
Wat die meeste saak maak vir God
Die afgelope week gesêls ons by ‘n geleentheid oor die jaar wat byna verby is. In baie opsigte was dit ‘n uitdagende jaar, en vir baie mense ‘n moeilike tyd.
Die Heilige Gees
Die afgelope week was ek in die oggendoordenkings besig om te fokus op wie God is. Ek het kortliks die drie persone waardeur God Hom aan ons geopenbaar…


