Verloën jouself

Ds Ulrich Ohlhoff - 31 Januarie 2021

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Verloën jouself

Ds Ulrich Ohlhoff

Skriflesing: Lukas 9:23-27

Stephan Joubert skryf ‘n week of wat gelede in Beeld: in Vandag se Goeie Nuus, die volgende artikel: Oppas vir 2021 se kamp-gevegte.

Ek lees vir ons ’n gedeelte daarvan voor. 

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk gaan mense in teenoorstaande kampe wees. Vanjaar moet jy of vír die inenting teen Covid-19 wees, of téén dit. Jy moet of vír diegene wees wat positief is oor SGV, of téén hulle. Jy moet vír Trump, Geloftedag, Kersfeesviering, aardverwarming, en sosiale media wees. Of téén dit alles! Jy moet glo alle groot korporasies, regerings, kerke, mediese navorsinginstitute is deel van n nuwe wêreldorde wat die mensdom eens en vir altyd wil beheer. Of jy moet daarteen wees. Diegene wat nie in 2021 sterk kant kies VIR of TEEN sulke groepe se idees nie, gaan as uitverkopers uitgekryt word.  

Dit is seker nie iets nuut nie, maar dit asof die spanning in elke debat net erger en erger word. Jy kan amper enige onderwerp vat en jy sal ’n argument kan uitlok in geselskap. Noem maar net ivermectin en jy sal sien mense sal met passie of vir of teen die middel wees. Mense is of nog passievolle ondersteuners van Suid-Afrikaanse sport of hulle is so kwaad oor alles dat hulle niks meer daarmee te doen wil hê nie. Dit kom op ’n manier daarop neer dat mense nog meer as ooit in kampe wil staan, of vir of teen iets. 

Vanoggend wil ek ook van jou vra om ’n keuse te maak, maar nie soos die van die huidige moderne konflikte nie. Ek wil jou vra om die enigste nodige keuse in jou lewe te maak en dat hierdie keuse dan alle ander keuses sal oorheers. Ek wil vanoggend eerlik wees oor hierdie keuse, dit is moeilik! Ek dink nie daar is vandag iets wat ons meer kan uitdaag as hierdie keuse nie. As jy hierdie keuse maak het dit enorme gevolge vir die res van jou lewe.  Kom ek lees dit vir ons voor soos Jesus dit verwoord het in Lukas 9:23-27. 

Die keuse wat jy vandag moet maak, is gaan jy Jesus volg of nie? Dit is eintlik die enigste keuse wat daar in hierdie lewe is wat gemaak moet word. Jesus het hierdie reg deur sy bediening baie duidelik gemaak. Ons lees in die bergrede hoe hy vir die mense wat na Hom luister sê daar is twee paaie, die smal en die breë weg, watter een kies jy? Hy sê daar is twee fondasies waarop jy jou lewe kan bou, die rots van geloof in Jesus of die wêreld van sand? Watter een kies jy? 

Gaan jy Jesus volg of nie? Indien jy wel Jesus wil volg lees ons vandag in vers 23 moet jy teen jouself kies, moet jy jouself verloën. 

Wat beteken dit om teen jouself te kies? Om jouself te verloën? Hierdie griekse woord wat hier gebruik word is dieselfde woord wat gebruik word wanneer Petrus ontken dat hy Jesus ken of enige verbintenis aan Hom het. Julle sal onthou hoe Petrus die volgende oor Jesus gesê het: Ek ken hom nie, ek was nooit saam met hom nie, man ek vloek sommer, want ek ken hom nie. Ons moet dieselfde doen, maar nie oor Jesus nie oor onsself. Om jouself te verloën is dus om jouself te ontken, om te maak asof jy geen verbintenis met jouself het nie, om teen jouself te kies. Dan kan jy Jesus volg.

Ek het al baie gewonder of ons in ’n moderne tyd nie maar dinge baie omgeruil het nie, ons aanbid God en leef in ’n verhouding met Hom, maar hoeveel gaan daaroor dat Hy ons lewe makliker moet maak? Ek lees dan ’n teks soos hierdie en wonder of ons nie die punt heeltemal mis sit nie? Jaco Strydom vra die vraag, wie is in diens van wie? Dit is asof ons wil hê Jesus moet ons volg na waarheen ons wil gaan en hy moet ons help om daaruit te kom.  

In vanoggend se gedeelte is dit duidelik dat as ons God kies, as ons Jesus wil volg, ons in diens van Hom is. Dan verloën ons onsself, ons gee ons eie begeertes, opinies, eggo, ideale en drome op, om Jesus te volg en Sy wil te laat realiseer, Hom te verheerlik en Hom te verhoog. Is ons daarmee besig? Of is ons maar eintlik nog besig met ons eie koninkryke? Wil ons maar nog ons eie lewe lei? Doen wat ons wil doen, besit wat ons wil hê, bereik wat ons graag wil?

Jesus maak dit baie duidelik as jy jou eie lewe wil behou, gaan jy dit verloor!Maar  as jy Jesus vertrou en besluit om jou lewe op te offer vir Hom, om teen jouself te kies, jouself te verloën, dan sal jy ware lewe vind. Dit klink kontrasterend en dit is dalk hoekom dit vir ons so moeilik is…maar dit is wat dit is. Ons kan nie dit verander nie. As ons sê ons is ernstig om Jesus te volg, ons is ernstig oor Sy Woord, dan moet ons mos hierdie ook ernstig opneem. 

Dit klink dalk baie vreemd, maar miskien moet ek dit soos volg verduidelik.

Verbeel jou vir ’n oomblik jy erf ’n plaas, al wat jy moet doen is om voor ’n regter te verskyn en te bevestig dat jy is wie jy is. Dit is mos maklik nê? Om dan te gaan sê nee ek is nie hierdie persoon nie klink soos maligheid. Jy ontken dus jouself en die reg tot die plaas daarmee saam. Maar kom ons sê jy het nie geweet dat die regter ’n bymotief gehad het om jou te laat bevestig dat jy is wie jy is nie. Nou dat jy dit bevestig het is daar ’n saak teen jou en hy kan ju skuldig bevind en so beland jy in die tronk. 

Nou dit is amper wat Jesus in hierdie gedeelte kom sê; Hy sê ons moet maak asof ons nie is wie ons is nie, ons moet onsself ontken, maar alhoewel dit aanvanklik dan lyk asof ons ons lewe verloor, ons dit juis dan sal vind. 

Ek en jy is in ons sondes vasgevang, ons lewens sal op die dood uitloop, maar indien ons ons onself ontken, onsself verloën, ons lewe opgee, die een wat tot die dood lei, dan kan ons ’n nuwe lewe leef, een wat nie tot die dood lei nie, maar tot die ewige lewe. 

Sien want ons weet verlossing begin die dag wanneer ons Jesus kies en aanneem, maar dit is nie waar dit stop nie. As ons Jesus aanneem, moet ons ook sy voorbeeld van leef begin volg, moet ons in ’n proses van heiligmaking in gaan, om al meer na sy beeld gevorm te word. Hoe doen ons dit prakties dag tot dag, terwyl ons nog op aarde is? Jy ontken jouself elke dag en stel Jesus eerste. Jy dwing jouself om jou identiteit in Jesus te vind en nie in jouself nie. Om jouself te verloën is om wanneer iemand vra ken jy vir Ulrich te sê nee ek ken hom nie. As iemand vra wat wil Ulrich hê, ek het geen idee nie, ek weet nie wat Ulrich wil hê nie, ek weet net wat Jesus wil hê!Wat gebeur dan? Jy begin al jou begeertes, wat dikwels jou lei tot sonde, voor God neerlê en jy begin om diensbaar Jesus te verheerlik. En so sterf die sonde in jou lewe uit en begin jy al meer soos Jesus leef. 

Leanord Sweet het aan die begin van die jaar sy nuwejaarsvoorneme soos volg verwoord: 

“This year I want to be more like Jesus: Hang out with sinners, upset religious people, tell stories that make people think, choose unpopular friends, be kind, loving and merciful and finally take naps on boats.” 

Ek dink dit is so goeie opsomming van vandag se boodskap. As ons Jesus wil kies en Jesus wil volg, beteken dit ons gaan anders moet leef as wat ons nou dink…ons gaan dinge doen, wat nie sin maak nie, ons gaan mense kwaad maak, ons gaan ongemaklik moet raak en darem natuurlik gaan ons lekker op sterkfontein dam op bote kan gaan slaap…dit is net ’n grappie. 

Maar op ’n ernstige noot, ek en jy moet erens in ons lewens kies. Die jaar, met al sy uitdagings gaan waarskynlik die keuse meer as ooit op jou pad dwing. En jy moet besluit hoe jy wil reageer en wat jy wil doen?

Wil jy nie dalk ook meer soos Jesus wees nie? Wil jy nie dalk ook Sy kant kies nie? Dit wil vir my voorkom asof Jesus sê indien ons wel dit doen, indien ons wel Hom kies, indien ons ons aardse lewe prysgee, onsself verloën en Sy voorbeeld navolg, dan sal ons die heerlikheid van Sy Koninkryk in ons lewens begin sien, sal ons ’n lewe wat werklik die moeite werd is om te leef begin leef en dan sal God se Koninkryk kom.  EK hoop en bid dit vir elkeen.

Ek nooi ook weer elke lidmaat uit om hierdie week saam met my in die oggende verder na te dink oor wat dit beteken om Jesus se te volg. Hoe lyk dit prakties en waarmee moet ons besig wees.

Amen. 

Opsomming van boodskap – Die weg tot die Koninkryk –

 

Stap 1 – Ontken jouself.

Stap 2 – Volg Jesus

Stap 3 – Word gevorm om meer soos Jesus te wees, deur jouself weer en weer te ontken.

Stap 4 – Hoe meer jy soos Jesus leef, hoe meer sal Sy koninkryk in jou lewe sigbaar word en hoe meer sal jy Hom verheerlik sien..

EREDIENSE

Nuutste Preke

Vrede waar geloof vrees verdryf

Vrede waar geloof vrees verdryf

Wat beteken “vrede” regtig? Vrede is nié ‘n oppervlakkige gemoedelikheid of welwillendheid ter wille van die vrede nie.