Die Heilige Gees

Ds Ulrich Ohlhoff - 15 November 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Die Heilige Gees 

Sondag 15 November 2020 – Ds Ulrich Ohlhoff 

Skriflesing: Galasiërs 5:13-26

 

Die afgelope week was ek in die oggendoordenkings besig om te fokus op wie God is. Ek het kortliks die drie persone waardeur God Hom aan ons geopenbaar het behandel, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees.  Maar in die week kry ek ’n boodskap met ’n navraag oor wat leer ons as NG kerk ons kinders oor die Heilige Gees. Nou weet meeste van julle natuurlik ook dat die NG-Kerk vir jare lank al gekritiseer word dat ons te min oor die Heilige Gees praat, daar is selfs grappies wat sê ons doen dit net een keer ’n jaar en dit is tydens pinkster. Dit is eter glad nie die geval nie en indien ons die gereformeerde teologie oor die Heilige Gees lees, leer en soos ek vandag vertel dan glo ek almal sal saamstem dat dit besonder goed en mooi is. Die probleem kom dalk in dat ons so baie oor die Heilige Gees geskryf en gedink het, maar dalk te min beleef het. Ons maak dalk nie genoeg van die praktyk nie. Dus wanneer ek vandag preek en dit geld eintlik maar vir enige preek, gaan dit nie help as jy dit net hoor, of net glo nie, jy moet dit ook beoefen.

Voor ek vandag op die Heilige Gees fokus wil ek egter iets baie duidelik maak en dit het te make met die eenheid van God. Ons aanbid een God en daarom elke keer wat daar na Jesus, die Vader of die Heilige Gees verwys word, weet ons dit is een God en die ander persone van die triniteit word geimpliseer.

Inhoud

  1. So wie is die Heilige Gees? Die Heilige Gees is God se Gees! Hierdie is duidelik van Genesis af waar ons lees die Gees van God het oor die water gesweef. Ons leer in die Belydenisgeskrifte dat die Heilige Gees uit die Vader en die Seun gaan en sodoende in ons en die wêreld werksaam is. Jesus het belowe dat Hy vir die Vader sal vra en die Vader sal Sy gees vir ons stuur. Miskien sukkel ons om die Heilige Gees te verstaan omdat van die drie persone, die mees misteriuese beelde in die Bybel gebruik word om die Heilige Gees te beskryf. Wind en vuur en die teenwoordigheid van ’n duif word gebruik om die Heilige Gees vir ons uit te beeld in die Bybel, maar ons hoef nie dit te abstrak te maak nie, want die duidelikste waar ons die Heilige Gees sien is in ons medegelowiges.
  2. Hoe ontvang ek die Heilige Gees? Indien jy in Jesus glo en Hom as verlosser aanneem het jy die Heilige Gees. Dit is een God, ons kan nie God wil skei nie!! Kan jy sê: Jesus is Here? Die Bybel sê jy kan dit net doen as jy die Heilige Gees het! 1 Kor 12:3 “Niemand kan sê Jesus is die Here nie, behalwe deur die Heilige Gees”. 1 Johannes 4:2 “Hieraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is.” So niemand moet asb ooit vir jou vertel dat jy eers iets anders moet doen om die Heilige Gees te ontvang nie, of jy moet eers ’n spesifieke gawe kan doen wat bewys dat die Gees in jou is nie. Dit is nonsens. Maar wat ons dalk wel so bietjie vanoggend op moet stilstaan is die volheid an die Heilige Gees. Ons lees in verskeie gedeeltes in die Bybel dat iemand vol van die Heilige Gees was. Dit kan dan klink asof jy net half met die Gees vervul kan wees, maar dit is nie die bedoeling. As die Gees in jou is, dan is Hy volledig en volkome in jou! Daarom ook dat Paulus dit vir ons duidelik maak dat ons liggame ’n tempel van die Gees is.

MAAR hoeveel beheer gee jy vir die Heilige Gees? Want dit is eintlik die essensie waaroor alles gaan en wat bepaal hoe ons in ons lewens prakties die Heilige Gees beleef of nie. Daarom is vanoggend se sleutelvers vers 16 wat sê: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheer word” en daarmee saam vers 25 “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal .” En dit is wanner ons ons aandag meer op die praktiese van die Heilige Gees fokus dat ons begin verstaan wat die rol van die Heilige Gees is.

  1. Wat is die rol van die Heilige Gees? En alhoewel daar eintlik te veel rolle is om vandag almal in besonderhede te bespreek, soos die Heilige Gees wat in Johannes 14 en 16 as vertrooster, raadgewer, ons voorspraak wat ons lei in die waarheid uitgebeeld word. In Romeine 8 wat sê die Heilige Gees pleit namens ons. Verskeie tekste wat dit vir ons baie duidelik maak dat ons aan Christus verbind is deur die Heilige Gees. Elkeen van hierdie aspekte kan ’n aparte preek word, maar vandag wil ek fokus op die twee belangrikste aspekte rakende die rol van die Heilige Gees.

Die eerste die Heiligmaking van elke gelowige en die tweede is die opbou en uitbou van God se Koninkryk.

Die Heiligmaking van elke gelowige vind plaas deur die sondige natuur te verwyder en te vervang met die vrug van die Gees. En ongelukkig hier speel ek en jy ’n groot rol, ons kan of hierdie proses maklik en vinnig laat plaasvind, of ons kan die werking van die Heilige Gees teenstaan soos die tessalonisense gemaak het in hoofstuk 5:19. Daarom ook dat Galasiërs 5 vanoggend vir ons herhinner dat ons ons lewe deur die Gees moet laat beheer. Met ander woorde ons moet beheer van ons lewe aan die Gees oorgee, elke dag elke oomblik. Ons moet deur die Gees gelei word. En dit is hier waar ons of “voller” van die Heilige Gees kan wees of nie. Dit is deur die hoeveelheid wat ons oorgee aan die Gees wat maak dat Hy voller in ons lewens funksioneer of dan nie. Galasiërs maak dit vanoggend vir ons duidelik dat ons menslike natuur in stryd is met die Gees. Die menslike natuur is sondig en begeer net wat sleg is. Daarom wil die Gees ons daarvan verlos. Moet my vanoggend asb nie verkeerd verstaan nie, ons is reeds ten volle vrygespreek deur die kruisiging en opstanding van Jesus (wat ook deur die Gees so bewerk is), maar ons word eers finaal van ons sondige natuur vrygemaak, losgemaak deur die Gees toe te laat om dit uit ons lewens te verwyder. Dit is waaroor die heiligmakingsproses gaan. En dan is dit so wonderlik, want die Gees vervang ons sondige natuur met Sy vrug. Die vrug van die Gees daarteenoor is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Sien jy hierdie vrug in jou lewe? In ander se lewe of nie? Dit is soos ek vroeër genoem het juis deur hierdie vrug in mense se lewens wat ons die werk van die Gees die duidelikste op aarde sien. Ek het al telkemale gesê die grootste wonderwerke wat ons vandag beleef is nie een of ander bonatuurlike genesing van siektes, of iets anders nie, maar harde mense wat vol van sonde is en dan deur die Heilige Gees omgedop word om ’n liefdevolle, vriendelike en aangename mens te word.

Elke gelowige moet vrug dra, anders moet ons erken ons staan die werk van die Heilige Gees teë. Hoe lyk jou lewe? Sien jy en sien ander die vrug? Indien nie kom vandag tot bekering en gee beheer van jou lewe aan die Gees oor.

Die tweede baie belangrike rol van die Heilige Gees is om ons as mense te lei om die gemeente en die Koninkryk van God op en uit te bou. Hierdie gebeur deur die gawes van die Gees wat Hy aan elkeen gee soos Hy wil (1 Kor 12:11) en wat Hy gee tot voordeel van almal! Nou is dit dalk so dat ons in die gereformeerde kringe meer kan maak van die gawes van die Gees. Ons moet mekaar aanmoedig en ons moet die Heilige Gees vra en toestemming gee om Sy gawes deur ons te laat gebruik. Maar ons iets mooi verstaan. ’n Gawe van die Gees bly altyd presies dit. ’n Gawe van die Gees. Dit is nooit myne nie. Dit is altyd aan my gegee om ander op te bou en die Koninkryk uit te bou. Ons moet verstaan dat elkeen van ons ’n rol het om te vervul in die gemeente en in God se Koninkryk en ons weet dat die Heilige Gees ons toerus om hierdie rol te kan vervul. Vir party het Hy die gawe gegee om te kan preek, vir ander om musiek te maak, vir ander om te dien, vir ander om te bid, vir ander spesiale geloof , vir ander om te onderrig en so kan ons aangaan, want die Bybel noem ’n klomp gawes. Wat belangrik is vir vanoggend is, is die vraag of jou lewe deur die Gees beheer word. Want indien dit wel deur die Gees beheer word, sal jy in die eerste plek God se vrug dra, maar in die tweede plek sal die Gees op verskillende plekke en tye Sy gawes deur jou gebruik om die koninkryk uit te bou. Dit beteken dat enige gawe op enige gegewe tyd of plek deur die Gees aan jou gegee kan word, maar dan moet jy toelaat dat die Gees in beheer van jou lewe is.

Laat jou lewe deur die Gees beheer word ! Amen.

EREDIENSE

Nuutste Preke

Verloën jouself

Verloën jouself

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …