Skryf met jou tone in die sand
Ds Gert Victor - 8 November 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Skryf met jou tone in die sand
Sondag 8 November 2020 – Ds GD Victor
Skriflesing: Matteus 16:13-19
Vandag is “Belydenis-Sondag”. Dit is deel van ‘n lang tradisie wanneer jong gelowiges geleentheid het om belydenis te doen van hulle verhouding met Jesus Christus en hulle geloof in God. ‘n Dag vol waardering en dankbaarheid. Ons neem foto’s, hou erediens, en vier saam die nagmaal. Een van die jongmense word ook gedoop. Sommige familie en vriende kom van ver af om die geleentheid saam te vier. Almal wil graag hoor en sien hoe jongmense hulle geloof bely, en hoe elkeen die beloftes wat by hulle doop gemaak is nou hulle eie maak. Ons is almal opgewonde om te hoor hoe elkeen antwoord op Jesus se vraag : “Wie sê jy is Ek?” In ons harte antwoord die gemeente en elke gelowige wat teenwoordig is ook op hierdie vraag, ook met ons eie geloofsbelydenis.
Mense het allerhande opinies oor Jesus. Sommige sien Hom as die Messias wat Israel moes kom red. Ander volg Hom oor Sy krag en wonderwerke. Nóg ander sê Hy gaan ál ons probleme laat verdwyn – Hy is die Myprodol vir ons pyn. Die een wat ons wêreld kom red van alle moeilikheid – die groot Mr.Fix-it. Die een wat mense gesond maak en antwoorde het op alle soorte vrae. As jy op Google die woord “Jesus” intik kry jy ‘n hele paar miljoen antwoorde…
Hindu’s sê Hy is een van miljoene gode. Moslems sê Hy is die tweede grootste profeet maar nie god nie. Buddiste sê Hy is ‘n bonatuurlike wyse en heilige man. Volgens Jehova-getuies is Hy die aardsengel Michael. Vir báie mense is Jesus ‘n lang, lenige man met lang hare, ‘n baard en blou oë… ‘n goeie man… ‘n besondere leermeester.
Eendag het Jesus vir Sy volgelinge gevra : “Wie, sê die mense, is Ek?” Hulle het dieselfde soort antwoord gegee : “Johannes die Doper, Elia, Jeremia, of dalk een van die profete uit die ou tyd.” En toe sê Jesus : “Goed…ok…Ek hoor julle…maar kom ons vergeet nou eers wat die res van die wêreld en ander mense oor My sê. Ek wil weet wat júlle sê. Wie, sê júlle, is Ek?”
‘n Baie bekende wêreldleier het eenkeer ‘n ouetehuis besoek. Daar het hy baie vriendelik met al die inwoners gesêls, o.a met ou oom wat baie nuuskierig was en allerhande vrae gevra. Die president vra toe vir die oom : “Weet jy wie ek is?”… Die oom het glad nie geweet nie, en hy antwoord toe : “Nee ek weet nie, maar jy kan gerus by die ontvangs gaan vra, want as ons vergeet, dan vertel hulle vir ons wie ons is.” Ek onthou eenkeer by ‘n kamp moes die kinders hulleself voorstel. Ons het almal in so groot kring gesit, en toe dit so ‘n klein dogtertjie se beurt is het sy skamerig geantwoord : “oom dominee, wie is ek nouweer?” Dalk het die dissipels daardie dag so vir Jesus gesit en kyk, en ook gewonder : “Het U nou regtig vergeet wie U is?”
Ons moet baie vrae antwoord in die lewe, en baie keuses maak. Ons word deur mense en omstandighede gekonfronteer en uitgedaag. Die heel belangrikste vraag wat jy ooit gaan hoor is : “Wie is Jesus vir jou?”… dit is ook die belangrikste antwoord wat jy in jou lewe gee. Die keuse vir Jesus is die belangrikste keuse wat jy ooit sal maak. En ons antwoord nie net met ons mond nie… jy antwoord met jou héle lewe en met jou héle hart! … die antwoord is nie net woorde nie, maar ‘n getuienis van wat jy en ek glo en aanvaar as die waarheid. Die keuse vir Jesus is ‘n keuse en ‘n antwoord waarop jy jou hele lewe bou in hierdie wêreld.
Baie aangrypend is die plek waar Jesus hierdie vraag vir Sy volgelinge vra. v.13 – “toe hulle in die streke van Siserea-Filippi kom.” Siserea-Filippi is ‘n pragtige gebied in die Noorde van Israel naby berg Hermon. Dit het die mooiste natuur, met welige plantegroei en bruisende waterstrome. ‘n Idilliese romantiese omgewing. Máár Siserea-Filippi was ook op die grens van die heidense wêreld. Streng gesproke ‘n heidense stad waar mense nie die lewende God geken het nie. Die gebied was
bekend vir die aanbidding van afgode soos Baäl en Pan, en verskeie gode-tempels was ook daar. Dit was soos ‘n onheilige plesier-oord waar allerhande immorele en onsedelike sondes gepleeg is. Die gebied het bekend gestaan as die “poort vd hel (Hades)”… Sjoe julle!… en nou vat Jesus Sy volgelinge soontoe. Dis amper soos wanneer die dominees sou besluit om die kerkraad “Sin City” toe te vat vir ‘n spanbou-sessie, of om daar met ons jongmense te gaan kamp.
Wat beteken dit vir ons, en vir jou? Jou verhouding met Jesus, jou geloof, vat jou nie uít hierdie wêreld nie. Dit vra juís van jou ‘n antwoord en ‘n keuse vir Jesus ín hierdie wêreld waarvan jy en ek deel is.
Deur die eeue het Christene nogal ‘n hele paar simbole waarmee ons identifiseer. Die bekendste is seker die kruis. Daar is ook die alfa-omega simbool, die Christus-monogram, en nog ander. As iemand byvoorbeeld ‘n kruis dra kan jy vir die persoon vra “is jy ‘n Christen?”, of jy kan aanvaar dat hy/sy ‘n Christen is, omdat die kruis ‘n sekere betekenis het… ‘n Simbool wat egter nóg ouer is, en waarmee Christene hulleself sedert vroegste tye vereenselwig is die teken van die “vis”… Christene in die 2de eeu n.C (tyd van groot vervolging) het dit baie algemeen gebruik. Christen-gelowiges is letterlik gejag en doodgemaak omdat hulle Jesus bely het. Hulle is gedwing om in die geheim te lewe.
Vandág in Rome kan ‘n mens die katakombes besoek waar die Christene weggekruip het in ondergrondse bunkers en grotte om so aan die lewe te bly. En oral sien jy die teken van die “vis” uitgekerf in steenmure en klipvloere waar Christene geleef het. In die strate moes hulle versigtig wees wat hulle sê en doen. As ‘n Christen ‘n vreemdeling in die straat raakloop, en getwyfel het of die ander persoon ook ‘n Christen was, en te bang was om te vra, het hulle gewoonlik met hul voete ‘n bogie in die sand getrek en dan gekyk wat die ander persoon doen. As die ander persoon óók ‘n bogie trek wat die simbool voltooi om soos ‘n vis te lyk, dán het jy geweet jy is veilig en dat die ander persoon ook ‘n Christen is.
Hoekom ‘n “vis” as simbool? Die Griekse woord vir “vis” is die woord ΙXΘUΣ “ICHTHUS” … dit bestaan uit 5 letters wat ‘n akroniem vorm : I – verteenwoordig die naam Iesous (Jesus) ; CH – verteenwoordig Christos (Christus); TH staan vir Theos (God); U vir Uios (Seun); en S vir die woord Soter (Verlosser).
As die vervolgde Christene dan daar in die heidense stad Rome, in die vreemde Griekse wêreld en in moeilike uitdagende tye hulleself moes identifiseer het hulle dit met hierdie “vis”-simbool gedoen, en met die belydenis : “Jesus is die Christus die Seun van God ons Verlosser.”
“Wie sê julle is Ek?” – Die boodskap is baie eenvoudig… Jesus het dit gesê. Die Bybel sê dit. Die engele sê dit. Petrus en die dissipels sê dit. Miljoene gelowiges deur die eeue sê dit. En jý sê dit hopelik ook vandag met jou hele hart :
“U is die Christus, die Seun van die lewende God”… Ons glo in Hóm, en wie in Hom glo sal nooit verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê. Daar is nêrens in hierdie lewe, of in die wêreld, ‘n groter anker en troos as om te weet Jesus is die Christus en jou Verlosser nie.
Wat is die kerk? Dit is nie ‘n gebou, ‘n organisasie, ‘n struktuur of ‘n klomp mense wat bymekaarkom en erediens hou nie. Die kerk van Jesus Christus is mense wie se hart en lewe aan Jesus behoort en wat Hom volg omdat hulle glo Hy is die Christus.
Wat is ‘n Christen? Iemand wat kerk toe kom? …nie noodwendig nie. ‘n Christen is iemand wat glo Jesus is die ewige Koning, die Seun van die lewende God.
Kom ons vra vir oulaas die vraag : “Wie is Jesus vir jou?” Dit maak nie saak wat die wêreld of ander mense sê of doen nie. Wat sê jy? Wat antwoord jy met jou lewe vandag voor die Heilige God?
Daarom – Moenie net kerk toe kom nie… kom na Jesus toe. Moenie net wil “hoor” van Jesus nie… kies en besluit om in Hom te glo, en om Hom te dien met jou hele lewe. Hy is die Redder waarna die wêreld deur ál die eeue soek. As jy Hóm het, het jy álles.
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Hoor wat sê Jesus vir Petrus na hierdie belydenis daardie dag by die heidense wêreld-sentrum van Siserea-Filippi. “Gelukkig (geseënd) is jy Simon seun van Johannes. Dit is nie ‘n mens wat jou dit laat sê nie, maar My Vader in die hemel.” Dit is aangrypend. Ons kan nie uit ons eie glo en bely nie. Ons is swak mensekinders. God se genade en krag maak dit vir ons moontlik.
En toe sê Jesus verder “Jy is Petrus, en op die rots (van jou belydenis) sal Ek my kerk bou, en die magte van die hel (Hades) sal dit nie oorweldig nie. Ek gee vir jou die sleutels van die koninkryk van die hemel” Hierdie belydenis * is soos ‘n sleutel wat die lewe wat God vir ons gee oopsluit. Op aarde en in die hemel. Ons sluit dit ook vir mekaar en vir ander mense oop of toe. Hierdie belydenis sê ook die koninkryk waaraan jy en ek behoort is nie ‘n aardse of wêreldse koninkryk nie. As Jesus-volgeling behoort jy aan die Koninkryk van die hemel, die Koninkryk van God waar Christus as Oorwinnaar-Koning regeer.
Die boodskap is : Gaan skryf met jou tone in die sand! … in die “sand” van jou omgewing, jou vriendekring, jou gesin en familie, jou skool of werkplek, jou gemeente en kerk… dit beteken : Gaan leef altyd en in alles soos iemand wat weet, en elke dag onthou : “Jesus is die Christus, die Seun van die lewende God, Hy is my Verlosser.” Niks kan jou uit Sy hande ruk nie!
EREDIENSE
Nuutste Preke
Verloën jouself
Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …
Tussen-tyd-mense roep Maranatha!
Ds Gert preek uit Matteus 34:36-44
Bedaar en erken dat Ek God is
Ds Ulrich preek uit Psalm 46 en Handelinge 7:54-60
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy