Onselfsugtige Weerlose Lewe

Ds Gert Victor - 4 Oktober 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Onselfsugtige Weerlose Lewe

Sondag 4 Oktober 2020 – Ds GD Victor

 

Skriflesing: 2 Korintiërs 12:7b-10 en Filippense 2:5-8

 

Kom ons dink vir ‘n paar oomblikke oor weerloosheid. Hoe sou jy weerloosheid beskryf, en hoe dink jy daaroor? Die Engelse woord is “vulnerability”… ‘n algemene definisie sê dit is “om naak (ook letterlik sonder klere) en sonder verdediging aan jou vyande oorgelewer te wees” – fisies en/of emosioneel. Om magteloos, kragteloos, swak, onveilig en onbeskermd te wees of te voel.”
Ons kan nie ons eie weerloosheid ontken nie. Die covit19-situasie het dit in ‘n groot mate na die oppervlak gebring. Daar is weerloosheid op elke vlak van die lewe. Dink byvoorbeeld aan die ekonomiese en politieke klimaat waarin ons onsself bevind en wat die impak daarvan is op ons daaglikse lewe. Dink aan die hartseer, armoede, siekte en verliese wat baie mense weerloos laat. Die brose veiligheidsituasie op plase en in landelike gebiede. Die weerloosheid en broosheid van die natuur. Ook die swak dienslewering en verval in infrastruktuur en watter effek dit op menselewens het. Korrupsie ten koste van weerlose mense en hoe dit ons almal raak. Die weerloosheid van bejaardes, kinders, vroue, gestremdes, en die randfigure van die samelewing. Daar is baie sulke voorbeelde, en baie voorbeelde in jou persoonlike lewe en omstandighede.
Die Bybel is ‘n boek vol verhale van menslike weerloosheid. Van die begin van die skepping af sien ons dit in die verhaal van Adam en Eva se sondenaaktheid voor die Skepper. Abel se weerloosheid voor Kain. Noag en sy gesin. Abraham en Isak op pad na die offer-altaar. Moses en die Israeliete in Egipte en in die woestyn. Israel in Ballingskap. Dawid in die Psalms. Job. Elia onder die besembos. Jona in die Vis. Daniël in die leeukuil. Die dissipels op die stormsee. Die skares mense agter Jesus aan op soek na brood en genesing. Die stryd van die apostels en die vroeë kerk … Kom ons dink mooi daaroor – om te lewe is om weerloos te wees.
Wat maak ons met ons eie broosheid, en met die broosheid en verwonding rondom ons?
Kyk gerus na die volgende 2 skilderye :
1) Rembrandt v Rijn het “Learning to walk” in 1645 geskilder. ‘n Eenvoudige skildery van letterlik net ‘n paar rooi krytstrepe. Hierin sien ons die 3 lewensfases van die mens… van kind, tot middeljarige, tot bejaarde. 2 vroue is besig om ‘n kind te leer loop. Dit spreek van omgee, deernis, hulpverlening, sorg, versigtigheid, betrokkenheid en weerloosheid.
2) Pablo Picasso noem sy skildery “First Steps”. Hy het die werk voltooi in Mei 1943 tydens die 2de Wêreldoorlog en die Duitse inval in Parys. ‘n Volwassene help ‘n kind of gestremde om te loop. Waarskynlik word eerste treë gegee. Weer kry ons hierin die gedagte van weerloosheid, afhanklikheid, hulpverlening, en mense wat mekaar nodig het. Die skildery spreek die gebrokenheid wat die oorlog meebring aan, maar ook die hoop en waagmoed wat met ‘n nuwe toekoms gepaard gaan.
Albei skilderye wat waarskynlik iets uitbeeld van menslike weerloosheid.
Wat wil die Here hê moet ons hoor? Ons kan nie van weerloosheid, lyding en gebrokenheid wegstap en die wonde van ons samelewing ignoreer nie. Om dit te ignoreer sal wees om jousélf, jou eie menswees, jou verantwdelikhede en die lewe te ignoreer. Ons moet verantwdelikheid aanvaar vir wat mét ons en róndom ons, en met ánder gebeur. Dit beteken dat ons deernis sal hê en sensitief sal wees, en sal vra : Wat gaan aan in ons wêreld en in mense se lewens? Wat is besig om te gebeur? Hoekom ervaar ek wat ek ervaar, en hoekom lyk dinge soos dit lyk?
Geloof in Jesus Christus wil ons help om ons eie en mekaar se weerloosheid raak te sien, te erken, en om om te gee. Weerloosheid is deel van die lewe. Dit is ook méér as ‘n terloopse verwysing na ‘n tekort of gebrek. Dit is báie meer as iets wat net oorkom moet word. Lewe is nie die afwesigheid van pyn en hartseer nie. Lewe beteken om bereid en gereed en toeganklik te wees om selfs op destruktiewe maniere verander te word. Weerloosheid is om nie weg te kyk nie, maar om die volle omvang van menswees te omarm. Dit is om ander mense en mekaar te omarm. Dit is ‘n lewe vir en met ander.
Weerloosheid is om lief te hê, en die behoefte om liefgehê te word. Ons elkeen het nodig om vasgehou te word en ook om ánder vas te hou.
Ek is seker jy was al in ‘n situasie waar jou hart gebreek is… Ons weet hoe seer dit kan wees. Dalk het jy toe besluit : “ek sal nooit weer enig-iemand of enig-iets só liefhê nie.”
Só – Hoe beskerm mens jou hart teen gebrokenheid en wonde? Dit is baie eenvoudig… Moenie liefhê nie. Moenie enigiemand vertrou nie. Moenie jouself blootstel aan teleurstelling nie. Moenie enige drome hê, of risiko neem, of planne maak nie, en moenie vasgevang word in die planne, drome of hoop van iemand anders nie. Só gaan jou hart dalk heel bly, maar jy gaan nooit weet wat dit is om lief te hê, of om liefgehê te word nie. Om lief te hê is om weerloos te wees. Dit is om meermale onveilig, blootgestel en onbeskermd te wees… En dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie.
Jesus is ons beste voorbeeld van weerloosheid. Heel dikwels het Hy Homself in moeilike situasies blootgestel om mense te wen vir die Koninkryk van die hemel. Hy kom na hierdie wêreld toe as ‘n weerlose klein babatjie. Wat kan meer broos wees as dit… Kort na Sy geboorte is Sy lewe in gevaar toe Herodus Hom wou doodmaak. In die woestyn word Hy deur die duiwel versoek soos jy en ek ook dikwels versoek word. Toe Hy die eerste keer in Sy tuisdorp Nasaret gaan preek kón Hy ‘n tema kies wat die vooraanstaande Jode sou laat goed voel oor hulleself – en toe preek Hy uit Jesaja 61 wat sê dat Hy hoop bring vir die armes, blindes, verdruktes en gevangenes wat níe noodwendig Jode is nie. Dit het Hom weerloos gemaak en sy eie mense wou Hom by ‘n krans afgooi.
In die bergrede sê Hy vir die skare : “Doen goed aan julle haters. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir dié wat julle mishandel. As iemand jou slaan draai die ander wang. As iemand jou jas wil hê, gee ook vir hom jou hemp”… M.a.w. kies om weerloos te wees.
Hyself het nie ‘n skuiling gehad of ‘n kussing vir Sy kop nie. Toe Hy die 72 dissipels uitstuur sê Hy (Lukas 10) – “Onthou, ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in, sonder reistas, skoene of ‘n beursie.” In hulle weerloosheid moes hulle op God alleen vertrou. Jesus assosieër Homself met weerlose vroue en kinders, sondaars, sedeloses, tollenaars en heidene… dit maak Hom kwesbaar.
In Getsemane staan Hy blootgestel op Sy knieë in gebedsworsteling, en voor die swaarde van Romeinse soldate. En in dit alles, van Sy geboorte af, was die Gees by Hom as Sy krag. Toe Hy aan die kruis sterf, in die uiterste posisie van weerloosheid, was Hy op Sy sterkste – dáár vasgespyker, word Hy die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. In Jesus se weerloosheid leer ken ons die diepte van God se liefdevolle omgee-hart
Paulus was baie eerlik oor die weerloosheid in Sy eie lewe. Hy noem dit ‘n doring in sy vlees – vuiste van satan wat hom herhaaldelik slaan. God se antwoord aan Paulus was : “My genade is genoeg vir jou. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Deur hierdie genade kon Paulus sê : “As ek swak is, is ek sterk. Die krag wat alles oortref kom van God, en nie van my nie.
Om weerloos te wees is nie maklik nie. Maar dit is nodig om die waarheid te leer ken, te leer vertrou, en te leer om lief te hê.
CS Lewis het die volgende ongelooflike ding gesê – “To love at all is to be vulnerable. Love anything and your heart will be wrung and possibly broken. If you want to make sure of keeping it intact you must give it to no one, not even an animal. Wrap it carefully round with hobbies and little luxuries ; avoid all entanglements. Lock it up safe in the casket or coffin of your selfishness. But in that casket, safe, dark, motionless, airless, it will change. It will not be broken ; it will become unbreakable, impenetrable, irredeemable. To love is to be vulnerable.
Mag die Here ons deur Sy Gees help om ‘n onselfsugtige weerlose lewe te lei na die voorbeeld van Jesus ons Verlosser.

EREDIENSE

Nuutste Preke

Verloën jouself

Verloën jouself

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …