Die Weg
Ds Ulrich Ohlhoff - 20 September 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Die Weg
Sondag 20 September 2020
Skriflesing: Filippense 2:5-11
In die vroeë 60’ jare ontstaan een van die grootste en bekendste bewegings in Amerika. Die hippie beweging. ‘n Beweging wat op soek was na verandering, na liefde eerder as oorlog, na gemaklikheid en vrede eerder as konflik. Dit word gekenmerk deur simbole en ‘n sekere lewenstyl. Hierdie beweging staan op teen die tradisionele Amerikaanse samelewing en politiek. So word dit ‘n magstryd met die regering en tradisies van die tyd en met tyd word sekere dinge tog verander. Die beweging spoel oor na die res van die wêreld en selfs Suid-Afrika word tot ‘n mate daardeur geraak. Die beweging het egter gekom en gegaan.
Onlangs is daar sommer skielik weer ‘n klomp bewegings. Ongeveer ‘n jaar of wat terug onstaan die Die I am staying beweging, wat mense wil aanmoedig om nie te emigreer nie. In Lockdown volg hierdie beweging op met nog ‘n beweging. Die move one million beweging, wat politiese verandering in Suid-Afrika eis. Hierdie nuwe beweging is egter niks teen die baie bekende wêreldwye beweging genaamd black lives matter wat nuusberigte en sosiale media so te sê gekaap het die afgelope paar maande nie. ‘n Beweging met verskeie agendas op sosio-ekonomiese vlakke. Elkeen van hierdie bewegings is op soek na mag, sodat hulle die nodige verandering waarna hulle op soek is kan bewerk, maar soos amper alle bewegings reg deur die eeue vermoed ek dit sal ook maar oorwaai. Sekere dinge sal verander, maar bewegings is soos golwe wat tydelik baie momentum het en dan uitspoel tot niks.
Daar is natuurlik n uitsondering. Bewegings is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Dit was al teenwoordig in antieke samelewings en een beweging wat al vir meer as twee milenia aan die gang is het nie net gekom en gegaan nie.
Hierdie beweging het begin met ‘n Joodse Rabbi wat Sy interpretasie van die wet, Sy manier van doen en leef, genoem die weg, vir ‘n paar volgelinge geleer het. Aanvanklik was hulle min, maar vinnig het hierdie beweging gegroei en momentum gekry. Die Romeinse ryk het hierdie beweging as ‘n wegbreek of sekte groep uit die Joodse geloof gesien en na mense wat deel was van die beweging verwys as mense van die weg.
Waaroor het hierdie beweging gegaan? Wat was die verandering wat die beweging teweeg wou bring? Hoekom het hierdie beweging nie gekom en gegaan nie, maar is vandag nog besig om te groei?
Hierdie beweging was ‘n manier van leef, wat anders as amper alle bewegings, nie op soek is na mag nie, maar juis mag wil weggee. Hierdie beweging begin by ‘n God wat sy mag weg gegee het. Ons lees vanoggend in Filippense dat Jesus nie aan sy goddelikheid vasgehou het nie, maar dat Hy dit weg gegee het. Die grieks sê Hy het Sy goddelike vorm leeggemaak om die vorm van ‘n slaaf aan te neem en so het Hy mens geword. Het Hy gekies om mense se dienaar te word en uiteindelik gehoorsaam aan die kruis vir mense te sterf.
Die wat deel is van hierdie beweging volg die voorbeeld van Jesus na. Hulle volg Jesus tot by sy dood in die kruis en daar ontdek hulle omdat Jesus Sy lewe vir hulle gegee het, hulle dieselfde moet doen en hulle lewe weer terug moet gee vir Hom. Die mag wat Hy weggee het, moet aan Hom terug gegee word en dit doen Sy volgelinge deur hulle lewe weer in Sy hande te plaas. Hulle gee beheer terug aan Jesus en ontdek dat dit eintlik ware lewe, ewige lewe beteken.
‘n Lewe van iemand wat deel is van hierdie begewing leef dan van hierdie punt af nie meer vir hulleself nie, maar vir God. Ons as gelowiges kies om in gehoorsaamheid en diensbaarheid teenoor God te leef. Daarom lees ons vanoggend in vers 3 dat die een die ander hoër as homself moet ag. Ons kies om hierdie beweging, hierdie weg na te volg, want ons weet dit beteken lewe. Jesus het immers gesê, ek is die weg, die waarheid en die lewe.
Die rede hoekom hierdie beweging nie net kom en gaan nie, is omdat dit so uniek is, dit soek nie mag nie, maar invloed. Dit wil nie net sekere veranderinge in die samelewing bewerkstellig nie, dit wil mense se hele lewe transformeer, van iemand wat verlore is na iemand wat waarlik lewe. Hierdie beweging is nie mensgemaak nie, dit word nie gedryf uit selfsugtige redes nie (vers 3-4), dit is nie op soek na mag nie, maar dit is deur God begin, om Sy Koninkryk te vestig en alle mense deel te maak van Sy Koninkryk en sodoende wil dat alles en almal verander.
Die vraag wat ek en jy egter vanoggend vir onsself moet antwoord. Die vraag wat die kerk vandag vir haarself moet antwoord is leef ons nog in die weg? Of het ons erens ons lewe gebalanseer met die van die wêreld. Leef ons nie maar dualisties in die sin dat ons semi-deel is van die beweging, maar nie 100% nie? Navorsing die afgelope 30 jaar wys dat gelowiges se lewens nie veel van ongelowiges se lewens verskil nie. Hoe is dit moontlik? Dit is moontlik want ons lewe nie volgens die weg nie, ons volg nie waarlik Jesus se voorbeeld na nie. Ons wil gedurig die mag terug vat in ons lewens. Ons wil besluit wat ons doen, hoe ons dit doen waneer ons dit doen. Dit is nie die weg se manier nie. Die weg se manier is een van diensbaarheid teenoor God en my naaste. Daarom lees ons in vers 5 dat ons dieselfde gesindheid as Jesus moet hê. Die grieks sê. Ons moet dieselfde manier van dink as wat Jesus in Hom gehad het in ons hê.
Ek dink dit is tyd dat elke gelowige, elke mens, elke gemeente, elke kerk opnuut hulleself afvra of ons nog deel is van die oorspronklike beweging wat Jesus volg, of het ons ‘n afbeelding van die ware beweging gemaak en die kern waaroor dit gaan verloor? Is dieselfde gesindheid wat in Jesus was vandag in jou? Leef jy diensbaar in liefde teenoor God en jou naaste? Hoe gaan dit in jou verhoudinge met ander mense? Leef jy diensbaar in jou huwelik? Teenoor jou kinders of ouers? Teenoor jou familie? Is jy diensbaar teenoor jou vriende, in die gemeente, in die samelewing, teenoor jou naaste?
Sien want ons wat deel is van hierdie beweging glo dat mag nooit misbruik kan word vir selfsugtige redes nie, maar dat mag gebruik moet word om ander te dien. Dit is tog wat Jesus gedoen het. Daarom kan ons in magsposisies staan, maar dan om die posisie te gebruik om invloed in die samelewing, organisasie ens te hê, juis om in die posisie diensbaar te wees.
Ons weet dat hierdie manier van doen die wêreld sal oorwin. Ons weet dat Jesus eintlik reeds deur hierdie omgekeerde manier van doen, waar Hy sy mag weg gegee het, die wêreld gewen het. Daarom is Hy die enigste een wat mag waardig is. Daarom het God Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam bo elke naam gegee. Daarom sal elke knie voor Hom buig. Bewegings kan kom en gaan en sommige mense sal bewegings volg, maar daar is net een beweging wat vir altyd sal hou en elke knie sal laat buig en dit is die weg. Die weg van Jesus Christus. Elke tong sal uiteindelik erken dat Jesus die enigste Heerser en Koning is. Daarom kan bewegings en regerings stry en baklei om mag te bekom, maar ons weet daar is net een Heerser. Ons wat deel is van hierdie beweging kies daarom om net Hom te dien. Ons kies om nie betrokke te raak in magstryd nie, maar om dienaars te wees en mag weg te gee vir God. Sodat Hy ons lewe sal beheer.
En daarom moet ons vanoggend introspeksie doen en sekere maak ons is nog op hierdie weg. Ons volg nog Jesus. Leef ons nog as dienaars? En elke persoon moet dit vanoggend vir hom of haarself antwoord, maar ook ons gemeente en die breër kerk. Het ons nie maar erens ook betrokke geraak in magstryd nie, het ons nie erens maar eerder die wêreldse simboliek begin aanvaar in plaas van Jesus nie, het ons nie erens maar weer vasgevang geraak in spesifieke reëls en regulasies nie, het ons nie maar ‘n struktuur wat magsbehed is begin dien in plaas van Jesus nie. Leef ons as dienaars, as slawe, die voorbeeld van Jesus na of nie? Indien nie, dan moet ons in ons persoonlike lewens, ons gemeente en ons breër kerk vinnig veranderinge begin maak.
Amen.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Verloën jouself
Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …
Tussen-tyd-mense roep Maranatha!
Ds Gert preek uit Matteus 34:36-44
Bedaar en erken dat Ek God is
Ds Ulrich preek uit Psalm 46 en Handelinge 7:54-60
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy