Dankbaar vir die Skepping

Ds Gert Victor - 30 Augustus 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Dankbaar oor die Skepping 

Sondag 30 Augustus 2020

 

Skriflesing: Psalm 104

 

Daar is onlangs ‘n studie gedoen oor die geloofsoortuigings van jong studente. Van die vrae wat hulle moes antwoord het gegaan oor die verhouding tussen geloof en wetenskap. Vrae soos : Dink jy God verstaan kern-fisika en molekulêre biologie? ens…. ‘n Ontstellende aantal studente, wat wel gelowiges was, het geantwoord : Nee, ons dink nie God verstaan die fynere elemente van die wetenskap nie… Vir baie van hulle is God beperk tot Bybelse tye toe mense gedink het dat slange kan praat en dat mense op water kan loop. Hulle kon God nie sien in hierdie moderne wetenskaplike en tegnologiese wêreld nie.

In die boek Job worstel die wyse Job en sy slim geleerde vriende vir amper 40 hoofstukke oor en met God. En dan, heel aan die einde, sê die Here vir Job : “dit help nie Ek probeer myself aan jou bewys nie want, al dink jy nie so nie, is jou vermoeë om te verstaan heeltemaal te klein. Job, as jý die Skepper van die wêreld was sou jy dalk kon verstaan, maar jy is nie” Gaan lees gerus verse 38–42. Hoor wat sê die Here aan die begin van hoofstuk 38 :

Toe het die Here vir Job aangespreek uit ‘n stormwind uit : “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het ‘n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ Só bombardeer die Here vir Job met vrae… “Wie het? Wie het? Wie het?”… en elke keer is die antwoord : “Ek het. Ek het. Ek, die Here, het.” Dit is pragtige woorde, maar ook ‘n beskrywing van die skeppingswonderwerke van die Skeppende God. Dit bring ons by die aangrypende Psalm104. Ek wil jou aanmoedig om die hele Psalm ‘n keer of wat mooi te gaan lees. Hier is ‘n paar van die pragtige verse wat waarskynlik deel was van die oorspronklike gedig : 1.Ek wil die Here loof! Here my God, U is baie groot, U is beklee met koninklike luister, 2.U is met ‘n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan 3.en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, 4.U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars, 5.U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie. 6.Die groot waters het die aarde soos ‘n kleed oordek, die waters het bo-oor die berge gestaan. 7.Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug, voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem. 8.Hulle het oor die berge gespoel en in die laagtes weggevloei na die plek toe wat U vir hulle bestem het. 9.U het ‘n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie: hulle mag die aarde nie weer oordek nie. 24.U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. 31.Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf, 32.Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe, wat die berge aanraak, en hulle brand. 33.Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. 34.Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees! Ek wil my in die Here verbly. 35.Mag die sondaars van die aarde af verdwyn, mag die goddeloses ophou om te bestaan! Ek wil die Here loof. Prys die Here!                                                                                                                       Baie mense dink God is nie teenwoordig in die skepping nie. Dat Hy nie ‘n rol het of verantwoordelik was nie, dat Hy ver is, of selfs dat Hy glad nie bestaan nie. Maar hierdie Psalm getuig van die teendeel, nl. dat álles uit God se hand kom. Hy gee spesifiek water, lig en voedsel wat die 3 basiese elemente is waarsonder lewe nie moontlik is nie. Hy is die Skepper en Voorsiener van wat nodig is.                        

Hierdie Psalm sê ons is in God se hand, en niemand kan Sy teenwoordigheid en  sorg ontken nie. Niks kan skeiding maak tussen God en ons nie. Hy laat nie Sy handewerk in die steek nie. Hy is onder alle omstandighede teenwoordig en betrokke… juis ook waar en wanneer chaosmagte dreig om die skepping te oorweldig. Waar wanhoop dreig, en twyfel, skuld, opstand, eensaamheid en in alle ellendes – daar is en bly God nog steeds God.                                                             

Dikwels is dit juis in die chaos dat ons God se teenwoordigheid ontdek en waar Hy ons op ‘n unieke manier wil ontmoet.Gaan lees gerus weer die skeppingsverhale in Genesis…“God het die hemel en aarde geskep. Die aarde was heeltemaal onbewoonbaar (woes en leeg), dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.” Herhaaldelik lees ons in die Genesis-verhaal : God het gesê, en daar was, en dit was goed.  Die res van die storie ken ons ongelukkig ook… hoe die mens ongehoorsaam was aan sy skeppingsopdrag, en watter gemors (en nuwe soort chaos) dit veroorsaak het. Maar God is en bly wie en wat Hy is. Hy bly God, en Hy bly teenwoordig. Hy is baie groter as die foute wat ons maak, en Hy sal môre en oormôre steeds voorsien. Ons sien dit in die skepping en in die natuur en in hoe Hy dit alles onderhou… dag-vir-dag, jaar-vir-jaar, seisoen-vir-seisoen… dis nie God wat ontrou is nie… dis nie Hy wat foute maak nie.   As ons oor dit alles dink moet ons juis  ook vra “Wie is hierdie God van die Skepping?” – Hy is groot en magtig. Die God van wonders. Hy voorsien. Hy kan ons huise, gemeenskappe en samelewings wat woes en onbewoonbaar is verander. Hy kan dit leefbaar en bewoonbaar maak. Hy is die God van lewe en hoop. Die vraag is in watter opsig erken ons Hom as God? Daar is net een antwoord vir die chaos waarin die aarde haarself bevind. Die antwoord is God en ‘n lewe in afhanklikheid voor Hom.                                                                               

Ek is heeltemaal oortuig dat daar nét één manier is om die aarde te red, en dit is in gehoorsaamheid aan God, die Skepper van die aarde. Ons kan miljarde rande, dollars en euro’s spandeer aan volhoubare ontwikkeling, mediese sorg, maatskaplike dienste, wetenskap en tegnologie en behuising… maar as ons die God van die skepping nie ken nie, Sy wil nie gehoorsaam nie, Sy orde nie respekteer nie… as die mens nie ophou om sélf God te probeer wees nie… dán oorweldig korrupsie, magsbeheptheid, materialisme, besoedeling en selfsug ons, en is ons binne die volgende 50 jaar by die punt van selfvernietiging… deur ons eie keuses en foute. Níks wat mense uitdink kan God se skeppingsvermoeë oorskry nie. 

Dit is presies wat Job ontdek en bely het. En daarom het Jesus ook geleer : “Geseënd, gelukkig en vervuld is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is – aan hulle behoort Sy Koninkryk.” Die lewe sal net sin en betekenis hê in die regte verhouding met God.   

Op hierdie punt kan ons kennis neem dat Psalm104 baie ooreenkomste het met o.a. ‘n ou Egiptiese gedig uit die 14de eeu v.C. Veral verse 10 tot 30 waar verwys word na water en die son, die diere, voëls, plante, leeus, die arbeid van die mens, die see, al die skeppings-elemente hier op aarde. Vir die Egiptenaars was die son ‘n god wat aanbid en vereer moes word. Die heidense volke het ook diere aanbid, voëls en mensefigure… en nou kom die gelowige digter van Psalm104 en sê : maar daar is ‘n Skepper (Jahwe Adonai) wat gedien en vereer moet word. Die son is nie die objek wat aanbid moet word nie. Die Skeppergod moet aanbid word. Die son is ‘n belangrike subjek van Sy skeppingsmag, en so ook alles wat bestaan… die fonteine, valleie en berge. die wildediere, donkies, voëls, dassies, ribokke, reiers, leeus, die plante, gras, bome, riviere, die see, die reën, die mens se arbeid, die kos uit die aarde, die wyn wat die mens kan geniet, die olie om sy gesig te versorg, die groot en klein diere en organismes wat in die see wemel… selfs die grootste seemonster (waarskynlik die walvis) waarmee God speel. Álles is subjekte van SY skeppingsmag!!

Hoor wat sê die digter hier in v.27 ev – “Hulle is álmal van U afhanklik. U gee hulle kos op hulle tyd. U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg. Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.”    

Hoor ons dit? Hierdie aarde en skepping is van God afhanklik. Dis presies wat Jesus gepreek en gelewe het deur Sy voorbeeld. Niks kan sinvol voortbestaan sonder God en sonder eerbied vir God nie. Waar mense dit vergeet verval alles in chaos en ellende… Kom ons wees eerlik hieroor. Die lewe op ons planeet is op ‘n mespunt gebalanseer deur ons eie toedoen. Ek hoef nie vir jou statistieke aan te haal nie – jy kan dit gerus gaan google… en daar is nét één manier om dit materieël, fisies en konkreet te red – deur ‘n lewe in afhanklikheid voor God. Jy gaan sê ek is baie naiëf, maar die antwoord is : Volg Jesus se voorbeeld!! Lees Sy bergrede in Matt 5 tot 7 en begin doen wat Hy geleer het. Leef ‘n lewe van afhanklikheid, nederigheid, vrede,  geregtigheid, sagmoedigheid en dankbaarheid oor elke klein stukkie seëning. Dit bring ware blydskap. Jesus sê : “Wees julle dan volmaak, soos julle Skepper-Vader volmaak is.” Volg Jesus se voorbeeld – dit is nie net die enigste manier om harmonie met God te hê nie – dis ook die enigste manier om harmonie te hê op hierdie aarde.                                                                                                             

Jy en ek het vandag rede om saam met Psalm104 dankbaar te wees oor God se skepping …dankbaar oor die plate vygies, surings en gousblomme van Namakwaland… die welige wilgers en populiere wat op die hoëveld begin bot… die belofte van reën wat beeskallers uitbundig laat rondhardloop… die nuwe lenteseisoen en nuwe groei… die grond wat omgeploeg word en die saad wat daarin val… ons arbeid en gesondheid en lewe… Ons het soveel rede om te jubel!!    Hierdie Psalm wil ‘n paar belangrike waarhede oordra :                                                             

1) God het alles gemaak (hemel en aarde). Alles is in Sy diens. Hy maak en stuur alles soos Hy wil. 

2) God maak die aarde bewoonbaar. Hy bring verál die massas water (oerwaters), wat die aarde soos ‘n kleed bedek het, onder beheer… en daar is ongelooflike onlangse ontdekkings hieroor deur wetenskaplikes, waarop ons nie nou ingaan nie. Die punt is : God bring orde.  

3) God maak die aarde leefbaar. Hy skep ‘n ritme van voorsiening en versorging. Verskillende elemente op aarde (sigbaar en onsigbaar) pas soos legkaartstukke in mekaar. Daar is ‘n ritme wat God in stand hou. 

4) Alles en almal is van God afhanklik. v.27 – “almal is van U afhanklik om vir hulle kos te gee op hulle tyd.” Sonder Sy goedheid is geen lewe moontlik nie. Alles kom uit Sy hand. 

5) God verheug Hom in Sy werke. Die skepping laat God glimlag. En die Ps. Digter bid dat dit nog steeds so sal wees soos aan die begin van die skepping, dat die Almagtige God sal sien dat dit wat Hy gemaak het goed is. 

6) Ons kan Hom loof solank ons lewe. Die digter bely ook dat dit sy bestaansdoel is. Om die Here sy lewe lank te loof en te eer met sy gedagtes, woorde en dade.                                                                                       

En dit is die geheim vir ‘n sinvolle en volhoubare lewe op aarde. Dat die eer van God jou en my eerste en enigste prioriteit sal wees in ons verhouding met mekaar, met die skepping, en met die hulpbronne waarmee God ons vertrou. Dat ons Hom sal erken as Skepper, deur Christus ons Verlosser, en as Heilige Gees ons Rigting- aanwyser. Ons staan voor ‘n nuwe lente-seisoen in die natuur. En ons dank die Skepper vir Sy seëninge en ewige getrouheid aan Sy skepping. Baie mense sê ons staan ook in alle opsigte voor ‘n nuwe seisoen wat ons lewe hier op aarde betref, nuwe uitdagings en keuses. My gebed is dat mense toenemend sal besef dat ons net volhoubaar kan leef in ‘n lewende verhouding met die Skepper deur gehoorsaamheid aan die voorbeeld van Jesus Christus die Here. Mag Sy Heilige Gees ons hiermee help en aan ons wysheid skenk. Amen.

 

Lees gerus hierdie pragtige lofgedig van die digter-sanger Koos van der Merwe…

 

Kom ons loof die Here saam vir Sy Skeppingsmag en wonderwerke. 

al die asems 

al die wasems 

loof die Here…

likkewane

bobbejane

olifante

al die leeus

en al die spreeus

en fisante

kom nou kraaie

papegaaie

en volstruise

al die vlooie in die kooi

al die luse

pelikane

en sprinkane

en marmotte

al die tiere

en die miere

kokkerotte

die miljoene skerpioene

en die swane

al die ape

al die skape

en die hane

o die vele vaal kamele

en die reiers

al die uile

al die muile

en miskruiers

elke bees

en elke kees

en al die vinkies

al die bokkies

en toktokkies

en tinktinkies

dan die wille krokkedille

en die muise

en die katte op die matte in die huise

al die kewers

al die bewers

swartwitpense

en heel laaste

maar die meeste

al die mense                                                                                                               loof die Here!

 

EREDIENSE

Nuutste Preke

Verloën jouself

Verloën jouself

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …