Dankbaar vir die Kerk

Ds Gert Victor - 23 Augustus 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Dankbaar vir die Kerk 

 

Sondag 23 Augustus 2020

 

Skriflesing: Efesiërs 5:21-32

 

Ons is besig met ‘n paar temas oor “dankbaarheid”, en vandag staan ons stil by die gedagte “om dankbaar te wees oor die kerk.” In ‘n sekere sin is dit ‘n ongemaklike tema omdat nie almal dankbaar en opgewonde is oor die kerk nie. Ons weet daar is baie kritiek teen die kerk, en baie mense wil niks met die kerk of met God te doen hê nie. Die moderne mens voel toenemend dat hy die Christelike kerk nie nodig het nie. 

In dieselfde asem moet ons eerlik vir mekaar sê die kerk is nie altyd reg nie. Die kerk het nie altyd klinkklare en finale antwoorde oor alles nie. Die kerk stoei ook met dit waarmee die wêreld stoei. Soms is die kerk lomp en onhandig, ja, dalk selfs heeltemaal verkeerd. Die kerk is nie ‘n versameling volmaakte mense nie. Wat ons daarom hier aan die begin duidelik moet kry is dat, as ons sinvol wil dink oor die kerk, gaan dit nie oor ‘n gebou, of struktuur, of organisasie , of dogmas nie. Die kerk is mense wat deur God gered en gestuur is. 

Die kerk in die wêreld het wel verskillende vorme en gestaltes, maar in wese is dit die mense, die ekklesia (versameling) wat reageer op die roepstem van God se Gees om aan Hom te behoort. Toe ek hieroor nadink het die woorde van lied 526 by my opgekom : “Ubi caritas et amor, ubi caritas, deus ibi est” – “Waar daar liefde is, en deernis – waar daar liefde is, daar is God die Heer.” Hoekom juis hierdie lied en woorde? Omdat ons nie oor die kerk kan dink sonder om oor God te dink nie (dit klink logies, nê) Ons kan nie oor die kerk dink sonder om oor liefde te dink nie. Want God is liefde. En waar daar werklike deernis en Jesus-liefde heers, daar word God geeër en verheerlik as Here. 

Hoekom is jy dankbaar oor die kerk? Dalk moet ons die vraag verander na : Hoekom is jy lief vir die kerk? Ek moet eerlik sê : Ek is dankbaar ir die kerk omdat ek lief is vir die kerk. Dalk klink dit vreemd, maar iewers, vroeg in my lewe, het ek ontdek dat God my en die kerk liefhet en dat Hy dit in Sy Woord bevestig.

As ons dan vra : Waarop is die kerk gebou? dan is die antwoord eenvoudig : op die liefde van God! Daarom kan ek ook net regtig dankbaar wees oor die kerk as en omdat ek lief is vir God. Dit werk ook só in ‘n verhoudig en spesifiek in die huwelik huwelik. Paulus gebruik dit ook hier in Efesiërs 5 as voorbeeld en maak dit van toepassing op die kerk. Ek kan net dankbaar wees oor my huweliksmaat of oor my kollega, en hom of haar waardeer as daar opregte liefde is en ons  regtig vir mekaar omgee. 

Daarom… Hoe lief is jy vir die kerk? …of moet ek eerder vra : Hoe lief is jy vir God? 

Iewers hoor ek iemand sê : “ek is lief vir Jesus, maar nie vir die kerk nie” of “ek is dankbaar oor my gemeente, maar nie oor die kerk nie”… ek wonder of dit moontlik is om so lief te hê. 

Dit het my laat dink aan die stoutste hond in die wêreld… ‘n 2jaar oue labrador met die naam Floors. Hy het alles gevreet wat voorkom – van sokkies tot kinderspeelgoed, handdoeke, valstande, toiletpapier, tuinslange, juweliersware, en meubels en beursies. Hy het kos gesteel an die tafel af, water gedrink uit die toiletbak en heeltemaal beserk geraak wanneer daar donderweer in die lug was. Een langnaweek het hy ‘n druiweprieël en 2 perskebome feitlik tot op die grond afgekou. Floors is dikwels uitgekryt as die slegste en onmoontlikste hond op aarde…vra my, ek weet, want hy was ons labrador… onafrigbaar en amper onbeheerbaar, maar ons was verskriklik lief vir ou Floors, en sou hom vir niks verruil nie. 

Baie mense sal dalk vra : Hoe is dit moontlik? Hoe kan ‘n eienaar ‘n hond met soveel swak eienskappe liefhê? Die antwoord is eenvoudig omdat Floors ook baie goeie eienskappe gehad het. Hy was liefdevol, lojaal en waaksaam. Hy sou ons met alles in hom beskerm. Hy was in baie opsigte ons oë en ore. Ons sou hom nie maklik prysgee nie. 

Só is dit ook met die kerk. Ons kan in énige kerk baie foute en gebreke uitwys. Daar is besluite waarmee ons nie saamstem nie. Dikwels neem die kerk, volgens ons, nie sterk genoeg standpunt in oor kwessies in die samelewing nie. Daar kan mense in die kerk wees wat ons frustreer. Dalk is dit van die redes hoekom jy vandag afsydig staan teenoor die kerk… 

jy is dalk gedwing om kerk toe te gaan toe jy jonger was, of die predikant preek swak, of dis vervelig, of daar is net ou mense, of die musiek is dooierig, of jy hou dalk nie van die mense nie… Dit is dán dat ons moet onthou dit gaan oor God en oor die liefde van God. Dit gaan daaroor dat God die kerk liefhet en dat Hy mense liefhet. Die kerk is God se versamelde liggaam op aarde aan wie Hy in Christus Sy liefde bewys het, en deur hierdie liggaam wil Hy Sy liefde uitdra na die omgewing rondom ons. 

Die groot uitdaging is daarom dat ons die kerk sal probeer sien soos God dit sien. Die oomblik wanneer dit gebeur verander ons verhouding met die kerk. Die manier hoe ons deelneem verander, motiewe verander en prioriteite verander. 

Wanneer ons vir buitestaanders vra : “hoekom wil julle deel wees van die kerk?” behoort die enigste antw te wees : “omdat ons sien en beleef dat God teenwoordig is… dat Hy die kerk liefhet en dat die kerk Hom liefhet… ons sien die liefde van God in en deur die kerk…ons beleef dit gaan oor God en oor die liefde van God.” 

Ons Skrifgedeelte sê Christus het Homself prysgegee vir die kerk en Hy sorg vir die kerk. Hy kry seer wanneer die kerk seerkry. Wanneer gelowiges stukkend, struikelend en gebroke deur die lewe gaan ly Christus saam met jou. Kolossense 1:8 – Hy is die Hoof en Sy versamelde kerk is Sy liggaam. Dit is daarom onmoontlik om te sê : “ek het Jesus lief, maar nie die kerk nie.” 

Die kerk se roeping en motief moet altyd wees “die liefde van God.” As dit waar is sál menselewens aangeraak word en sal die wêreld ‘n beter plek word. Deur die eeue is die kerk se invloed duidelik sigbaar in die samelewing… 

Dink maar aan miljoene mense wie se lewens positief beinvloed is deur die kerk… die geweldige rol wat die kerk gespeel het in (om maar net ‘n paar te noem) die vestiging van mediese sorg en hospitale, onderwysinrigtings, skole en universiteite, welsynsdienste, kinderhuise, ouetehuise, die rol wat kerklidmate en Christus-volgelinge speel in die samelewing en korporatiewe wêreld. Natuurlik is daar ook oneindig baie gevaarligte wat aandui dat dit nie noodwendig meer oral so is nie… 

As ons sê die kerk is gebou op die liefde van God, dán is dit juis ‘n plek vir mense wat God se liefde nodig het. Dit is juis nie ‘n plek vir volmaakte, skoon, netjiese, perfekte mense wat alles mooi onder beheer het nie. Dis ‘n toevlugs-oord, ‘n rusoord vir swerwers en soekers, vir mense wat juis nié perfek is nie. As jou beoordeling van die kerk afhang van die perfektheid van mense gaan jy teleurgestel wees… inteendeel… die kerk erken en bely dat daar nét Één is wat perfek is, nl. Christus, die Hoof van die kerk. 

Dis aangrypend. Dat God stukkende mense saamroep om vir Hom ‘n lig te wees. Waar die kerk teenwoordig is moet die donker plek maak vir die lig, en die leuen vir die waarheid. Die kerk is mense… mans, vroue en kinders, geskep na die beeld van God, verlos deur die bloed van Christus, en gevul met  Sy Gees. Jesus het nie aan die kruis gesterf vir ‘n organisasie, ‘n dogma, ‘n gebou of struktuur nie. Hy het Sy lewe gegee vir stukkende, sondige, afhanklike mense soos jy en ek. Hy aanvaar ons, ten spyte van al ons gebreke, om Sy bruid te wees vir wie Hy lief is. 

Hoekom is ek dankbaar oor die kerk? Omdat die kerk my geleer het van die liefde van God! Dalk is dit vir my makliker omdat die kerk van kleins-af deel is van my lewe. Daar, en by gelowige ouers, en by ander gelowiges, het ek geleer van Jesus en hoekom ek Hom kan liefhê. Ek het van kleins-af geluister na Bybelverhale, en Sondae in die groot ou klipkerk met sy engelkie-koepel na preke. Dit was lekker om te sing. Ek het kerkkampe en jeugbyeenkomste bygewoon en opregte Christenvriende gemaak. Die kerk is van altyd af deel van my lewe, soos my familie deel is van my lewe. Ek kan regtig sê dat die Heilige Gees met my gepraat het deur die kerk, en dat die Heilige Gees deur die jare ander lede van die liggaam van Christus gebruik het om my lewe sinvol en betekenisvol in te kleur. Deur en in die kerk het ek Christus ontmoet en leer ken as my Verlosser en ontdek dat God my regtig liefhet. Oor dit alles is ek oneindig baie dankbaar. 

Miskien sal dit goed wees (wanneer ons dink oor die kerk) dat ons onsself weer ‘n slag oriënteer en posisioneer o.g.v. die 5 dinge wat Martin Luther en die ou kerkvaders her-ontdek het. Dit moet in die kerk gaan oor hierdie 5 dinge, nl. 1) die eer van God. 2) Christus en Sy verlossingswerk. 3) die Woord van God. 4) Geloof. 5) Genade. En ek wil dit alles saamvat met die woord “Liefde”… 

God se liefde vir ons, en ons liefde vir God en vir mekaar. Dit was van die begin van die skepping af God se plan vir die mense wat Hy geskep het. En die kerk bied vir ons die ruimte waarbinne ons hierdie liefde kan leer ken, kan ervaar en kan uitleef. 

Vir my mede-kerklidmate wil ek daarom vra : Hoekom gaan jy kerk toe? Hoekom behoort jy aan ‘n gemeente? Hoekom gaan sit jy in ‘n kerkgebou? Hoekom sing ons, en bid ons, en dien ons ander, en gee ons om vir ander, en hoekom gee ons dankoffers? Daar mag net één rede wees… oor die liefde van God! Omdat jy die liefde van God ken, en nog meer daarin en daaruit wil leef tot Sy eer. Omdat jy Jesus nog beter wil leer ken. Omdat jy die Woord wil hoor. Omdat jy wil groei in geloof. Omdat jy wil toeneem in genade, omgee en deernis teenoor ander. 

Dit is wat Jesus, Paulus, die Apostels en die vroeë kerk geleer het, en die ou kerkvaders herontdek het, en wat jy en ek weer ernstig vir mekaar moet sê oor hoekom ons kerk is en wat die Christelike kerk vir ons beteken. 

Die kerk wil die wêreld herinner aan die liefde van God. Dáárom en dáárvoor kan ons dankbaar wees. Want deur die liefde van God lewe ons, bestaan ons, en is daar vir ons hoop en ‘n ewige toekoms in God se teenwoordigheid. Dit is ook ons roeping : om mekaar as Christus-volgelinge , as lede van die Liggaam van Christus, en as Sy kerk die heeltyd daaraan te herinner dat ons hier is deur en ter wille van die liefde van God in Christus ons Hoof. As daar iets is om oor dankbaar te wees en om na uit te sien is dit om hierdie liefde met mekaar en met ander te mag deel.   

Amen.

EREDIENSE

Nuutste Preke

Verloën jouself

Verloën jouself

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …