Dankbaar dat ek gered is
Ds Ulrich Ohlhoff - 9 Augustus 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Dankbaar dat ek gered is
Sondag 9 Augustus 2020
Skriflesing: Efesiërs 2:1-10
Inleiding
Ek wil vandag begin deur ‘n bekende bybelstorie te vertel, maar ek wil nie dit vertel as iets waarna jy net vandag luister nie. Ek wil jou vra om jouself werklik in die storie in te leef, ek wil jou vra om jouself een van die hoofkarakters van hierdie verhaal te maak. As dit gaan help maak jou oë sommer toe en sien hierdie toneel van jouself afspeel. Ek wil hê jy moet jouself verbeel hoe jy ewe skielik omring word deur ‘n klomp mense wat oproerig is. Hulle skree op jou en alhoewel jy nie mooi kan hoor wat hulle sê nie kom jy agter hulle is kwaad vir jou en beskuldig jou van iets wat jy verkeerd gedoen het. Die volgende oomblik gryp ‘n paar mense jou vas en begin jou in ‘n rigting dra, teen jou wil, maar alhoewel jy probeer keer en stry besef jy ook hulle is te veel en te sterk vir jou. Die volgende oomblik word jy voor ‘n man se voete neergegooi en die geskree van die skare bedaar so effens. Jy hoor iemand hierdie keer ‘n duidelike aanklag teen jou bring. Die aanklag is dat jy so erg gesondig het en dat jy die dood verdien! Dit is immers wat die wet sê met jou moet gebeur. Maar dan hoor jy hoe ‘n ander persoon vir die man voor wie se voete jy neergegooi is vra; maar wat sê U oor hierdie saak. Jy probeer kyk wie die man is, maar die son is in jou oë. Die volgende oomblik sak die man af en begin rustig met sy vinger in die sand skryf. Iemand anders vra weer, wat sê U moet ons doen? Moet ons nie die persoon met klippe doodgooi nie? En hier besef jy jou lewe is werklik in gevaar…hierdie skare wil jou doodmaak. Die man staan rustig weer op en sê: Laat die een wat ‘n skoon gewete het die eerste klip gooi. Jy hoor ‘n doodse stilte, maar is te bang om op te kyk en te sien of iemand al ‘n klip opgetel het. Jou hart klop vinnig in jou bors en die volgende oomblik voel jy ‘n sagte aanraking en ‘n stem wat vra; Het niemand jou veroordeel nie? Jy kyk skielik op en sien die skare het verdwyn. Die man sê Ek veroordeel jou ook nie…gaan maar en moet van nou af nie meer sondig nie.
Hoe voel jy?
As hierdie met jou gebeur het, wat dink jy sou jou reaksie gewees het?
Ek het doelbewus vandag die verhaal so vertel asof dit met jou gebeur, want dit het met jou gebeur…
Hierdie verhaal van die vrou wat deur Jesus vrygespreek is in Johannes 8, is elkeen van ons se verhaal. Ons elkeen is skuldig, het gesondig en wanneer ons die Bybel lees en die wet ernstig opneem sien ons ons uiteinde sou uitloop op die dood, maar dan verskyn Jesus.
Jesus verskyn in elkeen se lewe en red jou. Vanoggend wil ek vir ons voorlees hoe Ef 2:1-10 dit stel.
Skriflesing Ef 2:1-10.
Ek wil jou weer vra, hoe laat dit jou voel as jy besef jy is gered? As jy hoor jy was dood, maar nou kan jy lewe?
Miskien was die storie of die skriflesing nog nie genoeg nie en jy wonder by jouself waarvan het ek nou eintlik redding nodig? Daar is ‘n Joodse storie wat vertel van ‘n Joodse seun wat eendag tot bekering gekom het en in Jesus as sy verlosser begin glo het. Opgewonde het hy die aand by die huis gekom en vertel dat hy gered is. Sy pa se reaksie was eenvoudig; waarvan?
Sien die Jode het gedink hulle is gered omdat hulle die uitverkore volk is, en miskien is daar baie mense wat vandag dink ek is goed genoeg, ek het nie redding nodig nie, ek kan vir myself sorg, ek het God nie ndoig nie, maar dit is nie waar nie. Elkeen van ons het redding nodig. Ons het redding nodig van onsself, van ons eie sondige natuur wat lei tot die dood. Ons het redding nodig om nie meer soos hierdie sondige wêreld ons deur die vors van die onsigbare magte, ons lewenswyse te laat lei nie.
Daarom hoop ek dat elkeen wat luister vandag of reeds besef het dat jy redding nodig het en God daarvoor gevra het of anders hoop ek jy besef dit vandag. En dan wil ek weer vir jou vra, as jy besef jy is gered, hoe laat dit jou voel?
Ek dink daar is verskillende reaksies wat gepas sal wees. Verligting, blydskap, vrede, maar waarskynlik is ‘n diepe dankbaarheid die mees gepaste reaksie. Want soos ons in Efesiërs lees is ons alleenlik uit genade gered. Ons is letterlik uit die dood saam met Christus opgewek. En dit kom nie uit onsself nie. Daarom kan ons net met ‘n opregte dankbaarheid reageer. Kan ons opstaan uit die sand en ‘n nuwe lewe, ‘n lewe van dankbaarheid begin leef.
Dit is daarom vanmôre nodig om te vra hoe lyk ‘n lewe van iemand wat dankbaar is dat hulle gered is?
Ons lees in die Nuwe Testamentiese briewe hoe die skrywers raad gee vir gelowiges oor hoe hulle lewe behoort te lyk, nadat hulle tot bekering gekom het. Dit gaan daaroor om sekere morele riglyne te volg, diensbaarheid teenoor God te beoefen en dan op ‘n hele paar plekke kry ons gedagtes soos wat ons in 1 Tess 5:16-18 raaklees: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
Om altyd bly en dankbaar te wees klink onmoontlik en dit maak amper nie sin nie, behalwe as ons dit sien in terme van iemand wat uit die dood gered is. Iemand wat besef ek het basies reeds alles verloor en dus alles wat ek nou het is net genade, kan altyd bly en dankbaar wees.
Toegegee die wêreld en die boosheid in hierdie wêreld gaan sy bes doen om jou anders te oortuig, want hulle kan nie bekostig dat gelowiges met dankbaarheid op hulle redding reageer nie. Daarom sal daar altyd ‘n boodskap wees van ons wat nog meer kort, of meer benodig. Hierdie boodskappe maak dat ons met onvergenoegdheid leef en uiteindelik ondankbaarheid. Maar as ons die waarheid van die Bybel, die ware reddingsverhaal van ons lewe besef, dan sal ons besef dat wat Jesus vir ons gedoen het, deur ons te red, is genoeg. Dit is al wat nodig is, ons het niks meer nodig nie.
En as ons hierdie besef dan begin ons anders na ons lewe kyk, begin die wêreld rondom ons anders lyk. Want as ons werklik dankbaar is dat ons gered is, is ons tevrede met die lewe wat God vir ons gee, ten spyte van ons onmiddelike tydelike omstandighede. Jakobus 1:2-3 sê “Julle moet bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” Wanneer ek en jy regtig dankbaar is oor ons redding word ons dankbaarheid ‘n verdediging teen die swaarkry van die wêreld en dit stel ons in staat om te volhard. Ons wat gered is, is dankbaar, dankbaarheid help ons om te volhard tydens swaarkry.
Die dankbaarheid verander eintlik ons omstandighede, dit verander hoe ons na omstandighede kyk, na mense kyk en dit sal waarskynlik verander hoe mense na jou kyk.
Dankbaarheid sal jou tot aksie bring om jou dankbaarheid nie net in woorde uit te spreek nie, maar ook deur jou lewe. Dit is vir hierdie rede dat Paulus kan sê in 2 Kor 5:15 dat die wat lewe, die wat deur Jesus gered is, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf en opgewek is. Dit is hoekom ons vanoggend in Ef 2;10 lees dat ons nuut geskep is, om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. As ons werklik dankbaar op ons redding reageer begin ons prioriteite anders lyk. Dit sal tot ‘n groot mate die omgekeerde van die wêreld wees, die wêreld wat individualisties ingestel is om elkeen homself te dien. Om te smag na rykdom en wêreldse drome, wat eintlik selfvernietigend is.
‘n Dankbare gelowige se prioriteite is die omgekeerde en stel jouself laaste. God kom eerste. Daarom begin jou gebedslewe anders lyk. Jou gebede is nie en kan nie meer selfgesentreerd wees nie, want jy wil nie jouself dien nie en jy besef God is nie daar om jou te dien nie, maar jy God. Daarom sal jou gebede God se wil en God se Koninkryk prioritiseer. Jou gebede se doel verander, van wat God vir jou kan doen, na wat jy vir God kan doen.
Jou prioriteite teenoor ander mense verander ook. Jou medemense se belange kom voor joune. Daarom sal jy al meer diensbaar in jou verhoudings met ander wees, want jy is dankbaar teenoor God en dit is wat God van jou verwag. Om God te dien deur jou medemens lief te hê is een van die beste maniere om jou dankbaarheid te toon. Deur jou tong te kan beheer en liefde te spreek, om nie maklik kwaad te word nie en nie kwaad van ander te praat nie. Om jouself af te vra hoe kan ek iemand anders vandag lief hê? Waar kan ek barmhartig wees? Waar kan ek mededeelsaam wees? Iemand wat regtig dankbaar is vir wat jy gekry het deur jou redding, sal nie ‘n probleem hê om jou lewe, jou tyd en besittings met ander te deel nie. Dankbaarheid prakties geleef, beteken diensbare liefde.
Daarom as jy vandag weer besef dat jy gered is, as jy besef waarvan jy gered is, hoop ek jy kan net met dankbaarheid reageer. Eerstens deur dit met woorde vir God te bely, maar tweedens om jou lewe aan God te wy en nie meer vir jouself te leef nie, maar vir God, deur Hom en jou medemense te dien.
Ek wil afsluit deur ‘n vers van een van Hillsong se liedjies Splinters and Stones voor te lees.
“You saw the crushing weight my flesh deserved.
You kneeled and wrote forgiveness in the dirt.
And one by one the stone fell where they lay.
As one by one my accusers walked away.
With nothing left to throw the made a cross
and knowing only love could count the cost.
You were there.”
EREDIENSE
Nuutste Preke
Verloën jouself
Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …
Tussen-tyd-mense roep Maranatha!
Ds Gert preek uit Matteus 34:36-44
Bedaar en erken dat Ek God is
Ds Ulrich preek uit Psalm 46 en Handelinge 7:54-60
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy