Hoe Red 'n Mens jou Lewe?
Ds Gert Victor - 2 Augustus 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Hoe red ‘n mens jou lewe?
Sondag 2 Augustus 2020
Skriflesing: Markus 8:34-38
Ons leef vandag in ongekarteerde tye. Nêrens in die geskiedenis was daar sóveel onsekerhede oor die lewe en die toekoms as juis nou nie. Ek hoef nie uit te brei oor die tyd en omstandighede waarin ons en die wêreld onsself bevind nie. Daar is oneindige bedreigings en uitdagings waaraan ook Christene blootgestel is, en daar is waarskynlik báie wat ons in hierdie wêreld kan verloor. Dalk beleef jy op die oomblik vrees of onsekerheid oor wat jy moontlik kan of sal moet prysgee.
Iemand het eenkeer die volgende stelling gemaak : “It is possible to make no mistakes and still lose. That is not a weakness. That is life.”
Dit gebeur met almal van ons… dat jy iewers verloor al probeer jy hoé hard. Iewers gly jy in ‘n toets, jy laat val die bal, jy verloor jou werk of ‘n aansienlike klomp geld. Iewers verloor elkeen van ons – selfs al maak ons die beste keuses.
Die enigste verloor wat natuurlik onbetwisbare voordele inhou is om ‘n paar kilogramme om die middellyf te verloor. Daaroor sal niemand stry nie.
In énige ánder sin hou ons nie van verloor nie. Ongeag of dit ‘n eenvoudige bordspeletjie is of ‘n intense krieketwedstryd. Verloor is sleg. Wen is goed. En ons probeer oor die algemeen wen en om suksesvol te wees. Jy wil nie die bal laat val, of die hou mis, of jou werk verloor nie. Selfs die Bybel praat oor wen as ‘n doelwit. Filippense 3 – “Ek jaag na die doel om die oorwinnaarsprys te behaal.”
Tóg is daar in die jaar 2020 baie dinge wat jy en ek in die lewe kan verloor. Jy kan jou eiendom verloor, jou huis en kosbare besittings, en al die geriewe daarmee saam. Jou swaarverdiende pensioen-inkomste. Jou mediese fonds. Jou besittings en sekuriteite en gesondheid. Jou volgepakte yskas met al die lekkernye en Saterdag se braaivleisribbetjie. Jy kan dit alles verloor, en dis niks lekker om te verloor nie.
Dit is nogal verstommend (mindboggling) om Jesus te hoor sê : “hy wat sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor ; maar hy wat sy lewe t.w.v. My en die evangelie verloor sal dit terugkry.” Letterlik sê Hy : “wie sy lewe wil red sal dit verloor, maar wie sy lewe t.w.v. My en die evangelie verloor, sal dit red.” Hoe red ‘n mens jou lewe? Deur dit te verloor! Jesus sê jy moet verloor en prysgee. Die enigste manier om te wen is om te verloor. Dis die enigste manier om die Koninkryk van God te wen. En dit is aangrypend, want hierdie beginsel druis in teen die status quo van die wêreld waar jy en ek leef en waar wins en vooruitgang alles is.
Jesus is hier naby die einde van Sy bediening. Baie mense wou Hom koning maak, en baie meer wou Hom doodmaak. Daarom wyk Hy en Sy volgelinge uit na Siserea-Filippi in die Noorde om die massas te vermy, en ook om Sy dissipels voor te berei op wat nog sou gebeur. Dis toe dat Jesus vir hulle vra: “Wie, sê die mense, is Ek?” Hulle antwoord : “Johannes die Doper, en Elia, of een van die profete.” Dit was duidelik dat mense geweet het Jesus is een-of-ander belangrike persoon, maar dit was ook net deel van die waarheid. Die antwoorde oor wie mense gedink het Jesus was, was onvolledig, en daarom vra Hy weer : “maar júlle, wie sê júlle, is Ek?” En Petrus antwoord : “U is die Xtus!”
In ‘n sekere sin was dit die perfekte antwoord. Want Jesus ís mos die Christus, die gesalfde Een, díe Één wat God belowe het om te stuur en vir wie almal gewag het. Maar die vraag is hoekom, nadat Petrus hierdie “perfekte” antwoord gee, lees ons “Jesus het hulle toe belet om dit vir énigiemand te vertel, of om oor Hom te praat.” Hoekom doen Jesus dit?
Dit was duidelik dat die algemene publiek nie verstaan het wie Jesus was nie. Hulle het ‘n politieke bevryder verwag. Daarom moes die dissipels met niemand praat oor Jesus se ware identiteit nie. Dit sou onnodige aandag op Jesus vestig en die werklike rede vir Sy koms na die aarde in die wiele ry. Maar dit is ook duidelik dat die dissipels sélf nie mooi verstaan het wie Jesus was nie. Hulle het nie verstaan wat dit beteken dat Jesus die Christus is nie. Petrus het die regte woorde gebruik, en die “regte” antwoord gegee, maar sonder om te weet wat hy sê.
Daarom (lees ons in v.32) het Jesus reguit met hulle begin praat. v.31 – “Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun vd Mens baie moet ly, dat Hy verwerp en doodgemaak moet word deur die familiehoofde, die priesterhoofde en skrifgeleerdes, en op die derde dag weer moet opstaan. Hy het met hulle hieroor reguit gepraat.”… nie in gelykenisse of stories of beeldspraak soos waaraan hulle gewoond was nie. Hy het reguit gepraat oor wie Hy was en waarvoor Hy gekom het… om vir almal te sterf en op te staan. Dit was God se reddingsplan vir elke man, vrou en kind, en vir die wêreld. Om Jesus van die kruis af te probeer weghou sou ‘n oorwinning vir die satan beteken. Ons kan dink hoe geweldig dit was toe Jesus se volgelinge en Petrus hierdie woorde hoor. Toe hulle hoor waarvoor Jesus eíntlik gekom het en wie Hy régtig was.
Daarom (v.32) het Petrus Jesus eenkant toe gevat en Hom begin berispe. Want dit was nie die wen-plan wat Petrus homself voorgestel het nie. Petrus kon nie die reënboog van Jesus se opstanding en oorwinning sien bokant die donker wolk van lyding en dood nie. Hy wou Jesus nie toelaat om hierdie pad te loop nie want, volgens Petrus, was dit ‘n verloor-pad.
Maar dan gaan staan Jesus, draai om, en berispe vir Petrus : “moenie in my pad staan nie Satan. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” Petrus soek die maklike uitweg… vermy die lyding en swaarkry, die kruis en vernedering… soek eerder die glorie en eer. En Jesus antwoord : “dis nie God se plan nie. Dis jou eie en die mense se plan. Dis hoe die wêreld dinge wil doen.”
Hoekom het Jesus so driftig gereageer? Luister weer wat sê Hy toe Hy die mense nader roep : “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloeën, sy kruis opneem, en My volg. Want elkeen wat sy eie lewe wil red sal dit verloor ; maar wie sy lewe vir My en die Evangelie verloor, sal dit red.” Hoe red ‘n mens jouself? Deur jouself in Christus te verloor en in die waardes van die Evangelie. Ons menslike natuur soek erkenning, mag, glorie en oorwinning sonder dat dit ons veel kos. Petrus en die dissipels wou Jesus volg t.w.v. die sekuriteit en opwinding en al die aandag wat Hy getrek het, en die wêreld wou Hom uit die weg ruim omdat die Evangelie wat hy verkondig het nie geklink het na ‘n wen-strategie nie.
Petrus se reaksie is in baie opsigte ook ons reaksie. Só maklik verwag ons die seëninge van God. Ons verwag aardse sukses, vooruitgang en wins sonder die las en verantwoordelik-hede van die Woord. Só maklik kan ons dink dat, omdat ons Jesus volg, en omdat ons Christene is, is ons geregtig op vrede, geluk, voorspoed, sukses, gesondheid en vooruitgang. Maar as dit is waarop ons geloof en ons verhouding met God gebou is is dit niks anders as ‘n voorspoedsteologie en ‘n humanistiese ideologie nie. En dit is presies wat die duiwel wil hê ons moet glo.
Jesus sê die enigste manier om die doel wat God vir ons op aarde het te bereik, en die enigste manier om uiteindelik saam met God in die ewigheid te wees, is om te verloor. Om te wen is om te verloor. Om jouself te verloor. Die enigste manier vir die wêreld om gered te word is om homself in Christus te verloor. “As iemand agter My wil aankom moet Hy homself verloën, sy kruis opneem, en My volg.” Jy “verloor” deur “nee te sê vir jouself, jou eie “ek”, jou eie selfgesentreerde lewe, en jou selfsugtige selfgefokusde belange. Deur “nee” te sê vir sonde en jou sondige natuur. Jy “verloor” deur jou dierbare kruis op te tel en te dra. Die kruis van lyding, veroordeling en ongewildheid. Die kruis van dit wat jy hier op aarde prysgee omdat jy kies om ‘n verhouding te hê met Jesus die lewende Christus. As jy kies om só te verloor dán wen jy!
Paulus skryf dit vir die Christene in Rome – “ons kan weet dat die lyding wat ons nou verduur nie opweeg teen die heerlikheid wat aan die einde van die tyd geopenbaar sal word nie.”
Thomas van Kempen (14de eeuse skrywer vd boek “The Imitation of Christ) het gesê : “Daar is vandag baie mense wat Jesus se hemelse koninkryk liefhet, maar net ‘n handjievol wat Sy kruis dra ; baie wat hunker na gerief, maar min wat verlang na lyding. Baie wil deel in Jesus se fees, maar min wil deel in Sy vas. Almal begeer Sy vreugde, maar min is bereid om enigiets op te offer vir Sy saak. Daar is baie wat Jesus volg solank Hy vir hulle brood breek, maar min om saam met Hom die lydensbeker te drink ; baie bewonder Sy moraliteit, maar min volg Hom in die vernedering van Sy kruis ; baie wat Jesus liefhet solank dit hulle bevoordeel ; baie wat Hom prys en eer solank Hy hulle versorg ; maar sou dit vir hulle voel dat Jesus hulle net vir ‘n oomblik verlaat, verval hulle in klagtes en moedeloosheid… Dié wat Jesus liefhet twv Homself, en nie twv hulle eie gerief nie – geseënd is húlle in tye van bekommernis en verlies, net soveel as in tye van oorwinning.”
My wens vir jou is dat, terwyl jy op hierdie aarde is, jy al die toetse van die lewe slaag. Mag jy nooit ‘n bal laat val of ‘n wedstryd verloor nie. Mag jy suksesvol wees in jou beroep, en geseënd en gelukkig in jou verhoudinge. Mag jy ál die goeie gawes van die lewe geniet. Maar mag jy ook bereid en gewillig wees om dit alles te “verloor” t.w.v. jou verhouding met God in Jesus Christus. Want as dit kom by die Koninkryk van God, en by die ewige lewe, is om te verloor die enigste manier om te wen.
Jesus sê jy moet verloor en prysgee en oorgee. Gee jouself oor sodat jy kan lewe.
Ek sluit af met die verhaal van Karen Watson. Sy het gewerk vir ‘n bekende sendingorganisasie in die Noorde van Irak. Op 15 Maart 2004 sterf sy en nog 3 sendelinge in ‘n mortieraanval op die stad Mosul. Die voertuig waarin hulle gery het is in ‘n ontploffing vernietig. Sy was 38jaar oud en op daardie stadium reeds vir 8 jaar ‘n Christen. Voor haar vertrek na Irak skryf sy in ‘n laaste brief, wat ná haar dood oopgemaak is, die volgende woorde : “Liewe Pastoor… Jy sal waarskynlik hierdie brief lees in die geval van my dood. Wanneer God roep is daar geen teleurstelling nie. Ek het my hart so gereeld as moontlik met jou gedeel, my hart vir die nasies. Ek is nie geroep na ‘n plek nie; ek is geroep na God. My doel was om Hom te gehoorsaam, en ek was lyding te wagte. Sy eer is my beloning. Sy eer is my beloning…
Die Evangelie-hart gee meer om as wat baie mense dink wys is… dit waag baie meer as wat mense dink veilig is… dit droom meer as wat mense dink realisties is… dit verwag meer as wat baie dink moontlik is. Ek is nie geroep vir ‘n lewe van gerief of sukses nie, maar vir ‘n lewe van gehoorsaamheid. Daar is geen ander vreugde as om Jesus te ken en Hom te dien nie. Ek het jou en my kerkfamilie baie lief. In Sy sorg. Shalom (Vrede), Karen.”
Ons kan net wen as ons weggee en prysgee en oorgee. Dit is nie swakheid nie. Dit is die lewe wat God vir ons in gedagte het. Die lewe wat van Saulus ‘n Paulus gemaak het… wat hom laat ontdek het : “om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins”… en “ek is meer as ‘n oorwinnaar deur Christus wat my liefhet.”
Mag jy hierdie lewe ontdek. Die lewe wat jou werklik vry maak.
Amen. Dit is die Woord van God.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Verloën jouself
Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …
Tussen-tyd-mense roep Maranatha!
Ds Gert preek uit Matteus 34:36-44
Bedaar en erken dat Ek God is
Ds Ulrich preek uit Psalm 46 en Handelinge 7:54-60
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy