God se opsoekende Liefde vir Wegkruipers-Kinders!

Ds Org van der Watt - 26 Julie 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

God se Opsoekende Liefde vir Wegkruipers-Kinders! 

Sondag 26 Julie 2020

Skriflesing: Genesis 3:1-23 

Adam en Eva… Seker een van die 1ste verhale wat almal van ons as kind leer ken het… En gevolglik ook altyd weer een van die eerstes wat ons weer vir ons kinders vertel…

Maar; baie van ons – of sal ek sê, die meeste van ons – is geneig om hierdie vertelling in die Bybel bloot te sien as ‘n storie wat vir ons vertel van die eerste mense op aarde… Hoe hulle hier gekom het, wie hulle was en wat hulle gedoen het…

Maar, ons gaan nou vanoggend weer die verhaal saam lees en dan só bietjie daaroor gesels en ‘n paar belangrike dinge uitlig… Want; hierdie verhaal is meer as net ‘n storie… Dis meer as net ‘n vertelling van wie die eerste twee mense was…

Want, dis by uitstek ook ‘n verhaal wat vir ons vertel wie ons is! As jy mooi gaan lees, sal jy ook iets van jouself in hierdie storie raaklees… want; dis ‘n verhaal wat vir ons vertel hoe sonde deel van ons wêreld geword het en dat die eintlike outeur daarvan die mens sélf is…

Dis uiteindelik ‘n storie oor jouself, want soos Adam en Eva is almal van ons ook maar net mens… met ‘n vrye wil wat ons té dikwels in die steek laat… ‘n Wil van ons eie wat maak dat ons, van nature – soos die belydenisskrifte sê – teen God kies!

Máár; as jy nog dieper gaan kyk, sal jy agter al die donker van hierdie verhaal, ook leer Wie God is… sal jy sien hoe God se goedheid en liefde soos helder sonlig na ‘n donderstorm in ons verhaal deurbreek…

…En hoe God nog altyd, temidde van ons sonde en Sy teleurstelling daaroor, na ons loop en roep…

Epiklese & Skriflesing: Genesis 3:1-23

Liewe broers en susters… As jy nou die voorafgaande hoofstukke van Genesis gaan lees sal jy agterkom dat die Here God dit werklik goed bedoel het met die mens… Daar word vertel hoe Adam geskep en geroep is om op te tree as gesant; as verteenwoordiger van God in hierdie skepping… Aan hom word die gunstige lewensruimte van die Paradys gegee…

Hierbinne moes hy leef en werk as gevolmagtigde van die Skepper – om alles te benoem wat saam met hom hier geleef het… God het ook die alleenheid van die mens raakgesien en selfs só ver gegaan om vir hom ‘n maat te maak… Lewe uit hom te neem en nuwe lewe daaromheen te skep… Sy gelyke…

En uiteindelik kon Adam sê: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy vrou genoem word…” Barend Vos verwoord hierdie gebeure só mooi as hy skryf: “Só het Adam dan al singende aan sy gelyke ‘n naam gegee en daarmee was die liefdeslied van God oor Sy maaksels in hulle paradys voltooi…”  God sou hier ook kon terugstaan en sê: “Dit is goed…”

Maar, daar was een van die skepsels wat – met alles in hom – die harmonie wat daar tussen God en mens was, wou verongeluk!!! Met een, enkele gesprek druk die vyand die regte knoppies… “Moet nou nie toelaat dat God jou verhinder om soveel meer te word as wat jy klaar is nie! – jy kan god vir jouself wees!!!” En só vind hy in die vrou en haar man gewillige meelopers… Hulle word meedoeners, medeskeppers van die sonde…

En terwyl hulle gedink het dat hulle hulself opbou tot iets beters as wat die Skepper hulle gemaak het om te wees… terwyl hulle wou sterker en magtiger word…

…Kom hulle agter dat hulle mislei is en heerlik daarvoor geval het… dat hulle hulself eintlik gestroop het van alle waardigheid wat hulle moontlik in die oë van God kon hê…???

En só word hulle weerloos en skaam… Hulle gemoedere het swak geword en hulle rein hande vol skuld!!! – Hulle moes eenvoudig net wegkruip!!! Die skuldgevoel is te groot en voor God sou hulle nooit weer kon verskyn nie!!!

Van die vyand lees ons nie weer in hierdie verhaal nie… hy verdwyn soos mis voor die son… Maar die Almagtige, Alwetende, Skepper-God kom en Hy kom soek na Sy skepsels! In die suising van die aandwind kom roep Hy na Adam en vra: “Waar is jy?”…

*En hier lê die eerste stukkie genade, broers en susters! Want; God bly na ons roep… maak nie saak hoe vêr ons afgedwaal het of hoediep ons probeer wegkruip nie…

En só vind God ook die man en sy vrou… daar waar hulle tussen die bome van die Tuin wegkruip… En dadelik weet die Here dat iets nie pluis is nie… Hulle is nie dieselfde mense van vroeër nie… En toe Hy uitvra verander Adam se liefdeslied oor sy vrou skielik in ‘n klaagsang – “Die vrou wat U my gegee het – Dis sy wat die skuld moet kry, Here!!!”

God se hartseer en terleurstelling oor hulle wat Hy gemaak het kon net uitting kry in woorde soos: vyandskap, swaarkry, pyn, vervloek, dorings en distels!!! God jag hulle weg – uit hierdie gunstige lewensruimte – Seker ‘n verdiende loon…? Want die mooi wat geskep is, was klaarblyklik nou onherstelbaar gebreek!!!

Maar; terwyl God kwaad en terleurgesteld staan oor die dinge wat sy kaal, weerlose, brose kinders oor hulleself gebring het, maak vir hulle velklere – beter klere as die wat hulleself aanmekaar probeer weef het…

*En hierin sien ons nog ‘n stukkie van God se GROOT genade, broers en susters!

Want só klee God ook weer Sy kinders vir ‘n nuwe, swaarder lewe… want, aan die buitekant, aan die oostekant van Eden, daar moes hulle ‘n bestaan gaan maak… En daar sou hulle die nabyheid, omgee en sorg van hulle God nodiger hê as ooit – En dit het God al te goed geweet… Hy’t geweet dat Sy kinders dáár, nooit sonder die opsoekende Liefde van hulle Here en Vadergod sou kon klaarkom nie!!!

Kan jy die storie van jou eie lewe hierin begin raaksien??? Broers en susters…

Met die sondeval het die mens inderdaad iets verloor…nie net die paradys nie, maar die intieme nabyheid van God daarmee saam… Daar het ‘n kloof van skeiding gekom… En al mag ons dalk vanoggend meen dat hierdie vertelling in Gen. 3 bloot vir ons vertel wie die eerste mense was, hoe hulle hier gekom het en wat hulle hier gedoen het… Steek die waarheid van hierdie verhaal ons vandag nog dwars in die krop…

Want; soos Adam en Eva ervaar almal van ons vandag nog die pyn van die hemelese paradys wat ons weens ons sonde verloor het… beleef ons die skeiding tussen mens en God… leef ons anderkant daardie diep kloof… Ek het nog van geen mens gehoor wat geleer het om die vrye wil wat God hom gegee het reg te gebruik nie… Paulus skryf nie verniet in Romeine 3:23 – “Almal het gesondig en is vêr van God af” nie… In Rom 7 sê hy: “…die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek juis!”

Só ja, dis inderdaad ‘n pynlike verhaal, omdat ons só sterk daarmee assosieer… Máár ek wil graag hê – noudat ons begin dieper kyk – dat ons nie net die satan en die mens se sonde in hierdie verhaal moet raaksien nie, broers en susters, maar dat ons ook vir God en Sy Vaderliefde – Sy opsoekende, Goddelike Liefde – vir Sy wegkruip-kinders hierin moet raaksien…

Want God, broers en susters, het nog nooit opgehou om na ons te roep en te vra: “Waar is jy?” nie!

Dis ons wat – as gevolg van ons sonde – skaamkry en vir God probeer wegkruip en nie waardig genoeg voel om voor Hom te verskyn nie… Maar God, broers en susters, het nog nooit opgehou soek nie!

Vertoon slides – “Die Skepping” van Michaelangelo

God, broers en susters, het nog nooit ophou soek na Sy kinders wat Hy só pynlik verloor het nie… As ons anders sou dink hieroor dan hou die Evangeliese waarheid op om vir ons te bestaan… Want God se soektog na verlore mense het juis ‘n hoogtepunt bereik met ‘n houtkruis op ‘n koppie buitekant Jerusalem wat die mense Golgota genoem het… (Kruis slide)

 *Daar het God gesorg dat alles wat skeiding bring en ons skaam en onwaardig laat voel voor Hom; in die niet verdwyn… Want; slegs dán kan ons uiteindelik weer Sy roepstem hoor… Want; sonder ‘n God wat altyd na ons loop en soek, sal ons nie oorleef nie…

Want vandag, lewe ons – Adamskinders van nature – steeds oos van Eden! Tussen die dorings en distels van Gen. 3… Met swaarkry en temidde van swaarkry en pyn, kap ons vir onsself hier ‘n bestaan oop! En só dikwels staan ons maar weer weerloos en kaal… gestroop van al die goedheid waarmee ons geskep is… Keer op keer word ons ontrou bevind aan die roeping wat God ons gegee het… En dan kruip ons maar weer weg… Want; niemand mag tog weet nie!!! God moet net nie weet nie…

Maar dan, in die stilte van die aandwind (altyd in die donkerte van die nag – wanneer ons gaan lê om te slaap) hoor ons die voetstappe van God en Sy stem wat roep: “Waar is jy???”  Broers en susters, op jou naam roep Hy jou… En Hy gaan nooit ophou nie, want Hy – die Almagtige, Alwetende God weet dat jy NOOIT sonder hierdie opsoekende Liefde van Hom sal klaarkom nie… En wanneer jy uit jou wegkruipplek kom, kyk Hy na jou soos net ‘n Vader kan. Dan bedek Hy jou skaamte en klee Hy jou met Sy liefde en Goedheid…                                                         

Amen

EREDIENSE

Nuutste Preke

Verloën jouself

Verloën jouself

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …