Groot is U trou

Ds Gert Victor - 19 Julie 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Groot is U Trou 

Sondag 19 Julie 2020

Skriflesing: Klaagliedere 3:21-26 (31-33) 

Die boek Klaagliedere bestaan uit ‘n reeks treurliedere en klagtes geskryf teen agtergrond van die Babiloniese inval en vernietiging van Jerusalem. Ons sien hierin die geweldige lyding wat die mense van Jerusalem deur hulle vyande aangedoen is. Tóg het God te midde van al die lyding, in Jerusalem iemand geplaas (Sy verteenwoordiger) om Sy Naam te eer en Sy Woord te verkondig.

Die skrywer van die boek was waarskynlik Jeremia, wat ook bekend was as die huilende en treurende profeet. As ons na Jeremia se lewe kyk sien ons ‘n prentjie van oneindige hartseer en ‘n diep emosionele stryd…

– hy word teen sy sin geroep om God te dien. Hy was jonk en teruggetrokke.

– die Here verwag van hom om oordeel te verkondig.

– hy is nie toegelaat om te trou nie, sodat hy al sy tyd aan sy roeping kon bestee. Daarom was hy gewoond aan alleen wees.

– hy was diep hartseer en het openlik gehuil oor die sondes van sy mense.

– op ‘n stadium was hy so moedeloos dat hy wou tou opgooi omdat niemand na hom wou luister nie. In sy bediening van 50jaar is daar geen bewys van ‘n enkele bekeerling nie.

– koning Sedekia het hom in die tronk gegooi, en terwyl die Babiloniërs die stad binneval sit Jeremia in die donker gevangenis.

– en nadat Jerusalem tot ‘n val kom, en 1000de van sy mense sterf, spog Jeremia nie en sê : “Ek het julle mos gesê” nie… nee, hy is stukkend en gebroke saam met sy mense, en hy treur saam met hulle.

Só is God se verteenwoordiger verwerp, gehaat, gespot, geignoreer en in die tronk gegooi. Hy sien hoe sy geliefde Jerusalem geplunder en verwoes word. Hy beleef die vernietiging van oorlog, die geweld van die vyand, die hongerpyne wat aan sy eie lyf knaag… en vir een-of-ander rede bly hy staande tussen die rommel van die stad, en die dooie lyke rondom hom, en hou hy aan om God te eer vir sy ewige getrouheid teenoor sy mense.

En ons wil vra : Hoe is dit moontlik om só staande te bly?

Jeremia het geweet wie God is… dat in voorspoed en teespoed is God steeds God, en bly Hy ewig getrou aan Sy mense. Jeremia het hoop gekry in ‘n hopelose situasie omdat hy geglo het in die getrouheid van sy groot God.

Ons gaan almal soms deur rowwe waters in die lewe wanneer alles dalk letterlik uitmekaarval. Dan het ons die versekering dat God nog steeds getrou bly. Die bybel gee vir ons hierdie oorweldigende hoop. Die woord “trou” of “getrouheid” in v.23 beteken “standvastig”, “onveranderlik”, “vas” en “seker.” Jy kan seker wees dat, terwyl jy die storms en beproewings en donker valleie van die lewe in die oë kyk, is God by jou en sal Hy jou vashou.

Jeremia lê klem op spesifiek 3 aspekte van God se getrouheid . . .

  1. God is getrou in Sy GENADE v.22 – “deur die liefde vd Here het ons nie vergaan nie.” Dis ‘n liefde wat ons red en staande hou. Die OAV gebruik die woord “goedertierenheid.” Dit is oneindig méér as menslike liefde. God se liefde is ‘n genadige liefde. Dit vergewe en vergeet, en dit omarm. Dit is vol deernis en omgee, vol geduld, goedheid en toewyding. Dit sal jou nooit in die steek laat nie. As jou en my verlossing afgehang het van ons eie goedheid was ons almal verlore. Jy word gered en vasgehou deur Sy oneindige en onveranderlike genade. 1 Petrus 1:5 – “Julle word deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat aan die einde van die tyd geopenbaar sal word.” God is getrou in Sy genade.
  2. God is getrou in Sy GAWES (Barmhartig)… v.22 – “daar is geen einde aan Sy barmhartigheid en ontferming nie.” Die woord wat gebruik word beteken dat God in Sy hart en wese geraak word deur ons nood, en deur Sy liefde vir ons. Jy trotseer nie alleen die storms van die lewe nie. Hy gee vir jou wat jy nodig het. Hy belowe nie dat Hy altyd die storms gaan wegvat nie, maar dat Sy genade vir jou genoeg is. Dat Hy Sy barmhartige hart vir jou sal oopmaak. Hy gee die gawe van Sy teenwoordigheid. Hy is by jou al kan jy Hom dalk nie sien nie. In Matteus 28:20 belowe Jesus – “Ek is by jou al die dae tot die voleinding…” Hy gee aan jou die gawe van Sy Gees-krag. God die Heilige Gees sal vir jou sorg. Hy is groter as enige krisis wat jou konfronteer. En Hy gee aan jou die gawe van Sy voorsiening. God ken jou behoeftes. Hy wil jou daarin tegemoet kom. Hy sal doen wat Hy belowe. Nie soos jy wil nie, maar soos Hy wil. Jy moet glo dat Hy jou beste belange op die hart het. Filippense 4:19 belowe – “God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens Sy wonderbaarlike rykdom in Xtus Jesus.” En God gee Homself aan jou as gawe. Maleagi 3:6 belowe – “Ek, die Here, het nie verander nie. Daarom het julle nie te gronde gegaan nie.” Hebreërs 13:8 belowe – “Jesus Xtus is gister en vandag dieselfde tot in ewigheid.” God verander nie. Hy bly aan Homself getrou. Hy sal jou daarom nie in die steek laat nie. Nooit ooit nie.
  3. God is getrou in Sy GOEDHEID… Hy is altyd getrou in dit wat goed is vir die lewens van Sy kinders. v.24 – “die Here is my lewe”… die sin, waarde en doel van jou lewe is in God. Ook in die storms en uitdagings is God my beloning. Al wat ek nodig het is God en Sy teenwoordigheid. Hy is die Bron en Fontein van my lewe.

Hoor vandag die Woord van die Here – God sal die wat hulle vertroue in Hom stel nooit in die steek laat nie. As jy na Hom toe kom vir redding sal Hy jou nooit wegstuur of teleurstel nie. Hy sal jou dra tot in ewigheid… Jes 49:23 (Rom 10:11) belowe – “wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.”

v.26 – Hy is jou Redder… “dit is goed om geduldig te wag op die hulp vd Here.” Op Sy tyd en volgens Sy wil sal Hy vir jou uitkoms gee.

God weet waar jy vandag in jou lewe is en wat jy nodig het. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Hy sal jou getrou bewaar. Op Sy tyd sal Hy vir jou uitkoms gee. En as dit vir jou voel daar is geen lig in die tonnel nie, is God se genade vir jou genoeg. Hou op om op jouself te vertrou en in jou eie swakheid vas te kyk. Gryp vas aan die Here. Roep Hom aan in die dag van benoudheid. Hy sal jou uithelp en jy sal Hom eer.

Geloof wil dit vir ons moontlik maak om staande te bly in storms en uitdagings en om nog steeds God se getroue verteenwoordigers te wees in Sy wêreld. Die Here het vir Jeremia só ‘n soort geloof gegee, en Hy wil dit ook vir jou doen.

Daar is die ware verhaal van 4 lede van ‘n gesin wat tot bekering gekom het, en die Here aangeneem het as Verlosser, behalwe die jongste seuntjie van 8jaar oud. Die pa het gevoel hy is nog te jonk om só ‘n groot besluit te neem, en dat hy later dalk weer maklik sal terugval as hy só jonk die Here aanneem. Die pa het alles goed bedoel omdat hy besorg was oor sy kind… Die seuntjie het egter geantwoord en vir die pa gesê : “Jesus het mos belowe om die lammertjies in Sy arms te dra. Ek is maar net ‘n klein seuntjie. Dit is mos vir Jesus báie makliker om my op te tel…”

Dít is die soort afhanklikheid waarmee die Here ons wil seën, en wat Hy in jou en my lewe wil doen. Onthou daarom onthou jy is Sy klein lammetjie en dat Hy die vermoë het om jou in Sy arms te dra. Ongeag watter geveg jy vandag moet veg… bring jou omstandighede na God toe en vertrou op Sy ewige en onveranderlike goedheid.

En as jy verlore is en nodig het om gered te word… kom na die Here toe. Hy sal jou red. As jy op ‘n donker plek in jou lewe is en hulp nodig het… kom na die Here toe. Hy sal jou help.

Jy kan staande bly in die storm. God is jou waarborg. Mag jy soos Jeremia ontdek die getrouheid van die Here is groot. Mag jy Sy goedheid in jou lewe beleef. Hy is nou en altyd by jou teenwoordig. Die getroue liefdevolle genadige Herder wat jou in Sy arms vashou.

 

EREDIENSE

Nuutste Preke

Skryf met jou tone in die sand

Skryf met jou tone in die sand

Vandag is “Belydenis-Sondag”. Dit is deel van ‘n lang tradisie wanneer jong gelowiges geleentheid het om belydenis te doen van hulle verhouding met Jesus Christus en..

Die gelykenis van die Saaier

Die gelykenis van die Saaier

Die laaste week of wat het die saaiboere in ons omgewing begin plant, of hulle is ten minste besig om gereed te maak om te plant. Die reën moet nou net kom