Meer as 'n Suigstokkie-Storie
Ds Gert Victor - 28 Junie 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Meer as ‘n Suigstokkie-Storie
Skriflesing: Genesis 37 : 2 – 11
Droom jy nog? Tydens die Covit19 inperking sê baie mense dat hulle skielik weer droom, of ten minste baie meer bewus is van hulle drome. Sommige daarvan is nagmerries wat hulle dalk eerder wil vergeet.
Natuurlik is daar allerhande verklarings vir ons drome, hoekom jy nou meer bewustelik droom, en dat dit te doen het met jou onderbewussyn… hoe dit ookal is – God het ‘n droom vir jou en ‘n plan vir jou lewe. Droom jy nog oor God se ideale vir jou? Maak dit jou nog opgewonde?
Een van die mooiste en kragtigste verhale in die Bybel is die storie van Josef. Josef was ‘n dromer. Hy was ánders. Sommige mense het gesê hy is arrogant, hardegat en vermakerig. Sy broers het dit gehaat en gevoel hy dink hy is beter as hulle. Sy toewyding en karakter en selfs sy kleredrag was net ánders.
Natuurlik dit nie altyd populêr en sosiaal aanvaarbaar om anders te wees nie. Die wêreld wil ons almal in klein eenvormige boksies laat inpas, en dié “boksie” moet ons waarde en karakter bepaal. Ek weet van baie mense wat hulleself en hulle drome verloor het in só ‘n boksie.
Die Bybel wil ons hiermee help. Rom 12:1-2 sê “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie. Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Gee julleself aan God as lewende en heilige offers. Doen wat vir God goed, en aanneemlik en volmaak is. Laat die wil van God julle karakter bepaal.” As ek dit reg verstaan beteken dit jou waarde lê in wat God van jou dink, en in die drome en ideale wat Hý as Skepper-Vader vir jou het.
Die Bybel vertel ook van Daniël wat 17 jaar oud was toe hy ‘n keuse gemaak het wat gelyk was aan sosiale selfmoord. Hy het gekies om ánders te wees, en om God se droom na te jaag t.s.v. oordeel en vervolging. En God het hom geseën. Sy lewe het God verheerlik. Jy en ek hoef uiteindelik nét ons Hemelse Vader tevrede te stel.
Doen eenvoudig net dit wat God laat glimlag. Hy het jou gemaak. hy het jou lief. Hy het vir jou gesterf. Hy red jou, en ná hierdie kort lewe op aarde is jy by Hóm in Sy Koninkryk vir ewig. Dis al wat tel… As jy God se stem iewers in jou lewe gehoor het, en Sy inspraak in jou lewe ervaar het, kan jy weet jy behoort aan Hom. Dan is dit jou roeping om vir God te lewe. Dit is Sy droom vir jou.
‘n Sekere Evangelis se vrou het gesterf. Omdat hy baie op reis was het hy ‘n kinderoppasser gekry om na sy 2 seuns te kyk. Elke keer wanneer hy terugkom huis toe het hy geskenke vir die seuns saamgebring. Eenkeer het hy toe nié geskenke gebring nie, en die volgende dag vat hy die seuns winkel toe waar hulle enigiets kon kies wat hulle graag wou hê…
By die winkel aangekom sien die seuntjies heel eerste die toonbank vol lekkergoed en suigstokkies, en dadelik besluit hulle om pakke suigstokkies te koop. Die pa sê toe “nee julle – kom ons kyk eers nog ‘n bietjie rond.” In die speelgoed-afdeling sien hulle toe sulke cowboy-pakke met gewere, en hoedens, en boeie en alles, en opgewonde roep hulle “dis wat ons graag wil hê!” En weer sê die pa : “kom ons kyk nog ‘n bietjie rond.” In die sport-afdeling tussen die balle en rakette en kolwe kry hulle ‘n rugbybal in die hande en begin dit vir mekaar rondgooi, en weer is dit dieselfde storie : “ons kyk nog ‘n bietjie verder”…. Heel agter in die winkel teen die muur hang daar toe 2 spoggerige blinknuwe 12-spoed bergfietse. Die pa het gesien hoe die seuns na die fietse staan en kyk, en hy vra : “hoe sal julle daarvan hou om die fietse te hê?”
‘n Paar minute later stap hulle opgewonde by die winkel uit met báie meer as waarvoor hulle óóit gehoop het. Hulle pa wou nie tevrede wees met enigiets minder as sy heel beste nie. Die seuntjies het gedink suigstokkies sal wonderlik wees, maar hulle pa het vir hulle iets baie groter in gedagte gehad.
Moenie God se ideale vir jou lewe onderskat nie. Hy het meer tot Sy beskikking as wat jy dink. Soms maak ons planne, en dis dalk goeie planne. En dan ontdek jy God het meer, en Hy weet beter, en Hy sien verder. Josef (en later ook sy familie) het dit ontdek.
Daarom moet jy ook onthou God se droom realiseer nie in jou lewe sonder jou betrokkenheid nie. Daar is dinge wat jy moet doen wat niemand anders kan doen, en wat nie gedoen gaan word as jy dit nie doen nie. God wil in jou werk, en rondom jou, en deur jou op ‘n unieke en spesifieke manier. Daar gaan mense wees wat nie daarvan hou nie.
Mense gaan jou drome in die kiem probeer smoor. Sommige gaan jou haat omdat jy ‘n droom het. Hulle gaan sê dis onbereikbaar, onprakties of onmoontlik. Hoor dit mooi vanoggend… Moenie dat enige iemand jou drome steel nie. Dit word hel op aarde wanneer mense nie meer drome het nie, of dit noodgedwonge moet prysgee.
Alexander Graham Bell se skoonpa het gesê ‘n telefoon is ‘n ding waarmee niemand sal wil speel nie… Die bekende fisikus Lord Calvin het gesê Radio het geen toekoms nie… Die Britse sterrekundige George Airy het gesê Rekenaars is absoluut betekenisloos… In 1899 versoek Charles Duell, direkteur van die patente-kantoor in die VSA, dat die kantoor gesluit word en sy pos afgeskaf word. Hy was oortuig dat alles wat ontdek en ontwikkel kon word was reeds ontdek en ontwikkel…
Net die volgende jaar is die eerste Mercedez-Benz vervaardig… 3jr later vlieg die bekende Wright broers hulle eerste aangedrewe vliegtuig… in 1904 word die foto-elektriese sel ontwikkel… Alles binne 5 jaar nadat gesê is daar is niks meer om te ontdek nie. Intussen weet ons hoe tegnologie, en industrie, en die wetenskap ontwikkel het, en staan ons reeds voor die 4de Industriële Revolusie.
Die feit dat God ‘n plan gehad het , en Josef se drome, het hom staande gehou toe hy ‘n slaaf was in Egipte en in die tronk gegooi is. Ons moenie die fout maak om te dink Josef se lewe was so kleurvol en blink soos die jas wat hy gedra het nie. Inteendeel… daar was probleme, beproewings en uitdagings wat hy moes trotseer en oorkom.
In v.18 voer die broers ‘n sameswering teen hom. In v.21 is hy in ‘n put gegooi. In v.28 word hy verkoop as slaaf. In hoofstuk 39 is hy vals beskuldig van molestering. In hoofstuk 40 beland hy in die tronk. Hy is verwerp deur sy familie, vergeet deur sy vriende, en gepootjie deur sy mislukkings. En dit was alles legkaartstukke wat God een-vir-een in sy lewensplan ingebou het.
Dis ‘n bitter pil om te ontdek die lewe is soms onregverdig. Jesus kom aarde toe en word aan ‘n kruis vasgespyker. Hoe kan ons ooit dink die lewe moet ons regverdig behandel. Die vraag bly – Hoe gebeur al hierdie dramatiese dinge met ‘n jong mens wat niks ánders wou doen as om God se wil te gehoorsaam nie.
Ons kry die antwoord aan die einde van die Josef-verhaal, wanneer die broers weer voor Josef staan en Hy vir hulle sê : “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen…” (Genesis 50:20)
Romeine 8:28 bevestig dit ook duidelik : “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat Hy volgens Sy besluit geroep het.”
Daar is 4 dinge wat jy moet onthou God áltyd in jou lewe wil doen :
Die Here wil jou altyd lei / Psalm 37:23 – “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.”
Die Here wil jou altyd beskerm / Ps 121 – “Die Here beskerm en bewaar jou. Die beskermer van Israel sluimer of slaap nie. Die Here sal jou lewe beskerm, waar jy ookal gaan, nou en vir altyd
Die Here wil jou help om reg op te tree. Hy is besorg oor alles wat oor jou pad kom, maar meer besorg oor hoe jy reageer op dit wat met jou gebeur / Ps 105:17 – “die Here het iemand voor hulle uit gestuur : Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete geboei en hom in die gevangenis gehou, todat sy woorde bewaarheid is, nadat hy die toets deurstaan het met wat die Here aan hom bekend gemaak het.”
Die Here wil ook sien dat jy groei en dat jy ‘n beter mens word ten spyte van wat ookal oor pad kom.
Die Woord sê jy hoef nie die donker dieptes en teleurstellings in die lewe alleen te hanteer nie. Daar is Iemand by jou. God was by Josef. Ons sien dit in hoofstuk 39…
v.2 – ‘Die Here was by Josef, dit het baie goed gegaan met hom in die huis van die Egiptenaar’
v.3 – ‘Toe Potifar sien die Here is by Josef was hy hom goedgesind’
v.21 – ‘Terwyl Josef daar in die tronk was was die Here by hom, Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het’
v.23 – ‘Alles in die tronk was nou in Josef se hande, want die Here was by hom’
Handelinge 7:9 – ‘Uit jaloesie het die stamvaders vir Josef as slaaf verkoop, en so is hy Egipte toe. Maar God was by hom, en het hom uit al sy ellende gered.’
God was by Josef in sy vernedering… hy het geleer om nederig te wees. God was by Josef in versoeking… hy het geleer van selfbeheersing en om sy gewete skoon te hou. God was by hom in lyding… hy was nog steeds geseën al is hy vals beskuldig en in die tronk gegooi. Ons ken die uiteinde van Josef se storie. God het tragedie en verleentheid verander in ‘n groot oorwinning.
Josef se drome het waar geword, wat beteken dat God se droom waar geword het. Hierin lê vir jou en my ‘n lewensnoodsaaklike waarheid.
1 Petrus 5:6 – “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die dag wat Hy daarvoor bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Josef het nie sy rug op die Here gedraai en opgehou glo nie. Hy het aangehou vertrou en aangehou droom. En só, al dromende, het God Sy plan in Josef se lewe voltooi. Dit beteken nie dat Josef ‘n idealis was en in ‘n droomwêreld geleef het nie. Inteendeel. Hy was ‘n absolute realis. Hy het die realiteite van die lewe in die oë gekyk. Hy het nie kompromieë getref of teruggedeins van wat die Here in sy lewe toegelaat het nie…
Hy het heeltyd onthou dat God ‘n plan het met alles. Sy lewe was ‘n oorwinning saam met God… ook in donker putte en tronkselle.
1 Kor 15:58 – “Wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in Sy diens nie tevergeefs is nie.”
In ‘n belangrike krieketwedstryd was die besoekende span se telling ‘n baie goeie 280 lopies vir 3 paaltjies. ‘n Klein seuntjie het langs die veld gesit en sy plaaslike span ondersteun. Een van die besoekende ondersteuners sê toe vir die seuntjie : “jong, as ek so na die telbord kyk lyk dit maar sleg vir jou span,” waarop die seuntjie antwoord : “nooit oom! daar’s nog baie beurte oor, en ons het dan nog nie eers begin kolf nie!”
Soms lyk dit of die wêreld, die duiwel of ons menslike natuur die oorhand het. Onthou dan in die Vader se span is jy altyd ‘n oorwinnaar. Saam met Hóm is jy nooit ‘n verloorder nie. Hy het báie méér in gedagte as wat jy ooit kan dink, of droom, of bid. As jy hierdie boodskap vandag hoor of lees is daar vir jou nog beurte oor. Hou aan hoop en glo en vertrou, en hou aan om jou Skepper te dien. Uiteindelik is Sý opinie régtig ál wat tel.
Josef se lewe is soos ‘n skildery waarin ons die genade van God duidelik sien. Dit herinner ons aan hoe groot Sy genade is vir elkeen van ons. Jy kan verstom staan oor dit wat die Here al in jou lewe gedoen het, nog elke dag doen, en wat Hy belowe om nog te doen. Josef se verhaal, en jou en my verhaal, is meer as net ‘n suigstokkie-storie. Daar is hoop vir die wat seerkry, hulp vir die wat worstel, en ‘n helpende hand vir die wat struikel.
Ongeag waar jy vandag in jou lewe is… God die Vader weet. Hy gee om. En Hy is besig om te werk ter wille van jou redding en die eer van Sy Naam. Moenie ophou om saam met God te droom nie. Daar is waarskynlik nog kolfbeurte vir jou oor.
En as jy die Here dalk vandag glad nie ken nie… Sy hand is nie te kort om te help nie , en Sy oor nie te doof om te hoor nie. Hy sal jou red. Die Skepper-Vader ken jou. Hy roep jou om Hom te vertrou, en om Sy redding in Christus te aanvaar. God het jou lief. Maak jou lewe oop vir Sy genade-plan vir jou. Sy droom vir jou is baie meer as net ‘n suigstokkie-storie.
Amen!
EREDIENSE
Nuutste Preke
Die Wonderwerk van jou Doop
Dalk ken jy die verhaal van die Hollander Corrie ten Boom en haar Christelike familie. Haar oupa Wilhelm te Boom het in 1844 naby Amsterdam
Oorlewing 101
Verbeel jouself vir ’n oomblik jy het gaan stap en so erg verdwaal dat jy in ’n woestyn opgeïndig het. Die bottel water…
Onselfsugtige Weerlose Lewe
Kom ons dink vir ‘n paar oomblikke oor weerloosheid. Hoe sou jy weerloosheid beskryf, en hoe dink jy daaroor?
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


