Hongersnood

Ds Gert Victor - 7 Junie 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

HONGERSNOOD 

Sondag 7 Junie 2020    Skriflesing : Amos 8 : 11-14  (Ds.GD Victor)

 Het jy al ‘n tjek van ‘n miljoen rand gesien? As jy het is jy baie gelukkig… Stel jouself voor – ‘n getekende tjek ter waarde van R1 miljoen, gewaarborg, wettig , geteken deur een van die bekendste biljoenêrs ter wêreld. Dit beteken waarskynlik ál jou en my moeilikheid is opgelos. Máár, dan ontdek jy daar is  een probleem met die tjek… dit het verjaar! Die datum is verouder. Dit is niks meer werd nie. Hou vir paar minute die beeld in jou gedagtes vas … 

 Die boek Amos het baie raakpunte met ons leefwêreld in 2020. Afgesien van Covit19 beleef die grootste deel van die wêreld relatiewe vrede, gemak en sekuriteit. Of só was dit ten minste ‘n paar maande gelede, en ook dan ten minste in geval van dié wat die hef in die hand het… kom ons stel dit só : met die meeste mense wat jy en ek persoonlik ken gaan dit vanoggend nog relatief “goed”. Tóg is ons in die moeilikheid.

Die profeet Amos praat met mense wat in die moeilikheid is. Hy praat oor hongersnood. In die Noordryk van Israel was ‘n hongersnood besig om te ontwikkel. Op militêre en ekonomiese gebied was daar vooruitgang . Daar was algemene vrede, geluk, welvaart en sukses. Godsdienstige aktiwiteite was mooi in plek. Maar hongersnood was aan die broei.

 Ons weet dit is vandag deel van ons wêreld… dat baie mense nie kos het om te eet nie. Baie gaan dood van broodgebrek en wanvoeding… siektes breek uit, en sekondêre gevolge veroorsaak verwoesting. Deur die geskiedenis was daar baie sulke hongersnode wat die lewens van miljoene ge-eis het (google dit gerus “famine in history”… dit sal jou ‘n goeie idee gee)

Die afgelope 2000 jaar was daar in China alleen meer as 1000 sulke hongersnode aangeteken. Rondom 1846 sterf meer as ‘n miljoen mense in Ierland toe die aartappel-oes 4 jaar ná mekaar deur ‘n siekte verwoes word. 2 Miljoen Iere emigreer op soek na werk en na ‘n nuwe lewe. In 1876 sterf 8miljoen mense in Indië.  1932 byna 10miljoen in Rusland. 1943 meer as 4miljoen weer in Indië. 1959 20miljoen in China. Die afgelope dekades sien ons dit ook in Afrika en in Suidelike Afrika. Rondom 2000 was daar 3miljoen sterftes in die Kongo en nog meer in Sentraal-Afrika. Ons weet van toestande in ons buurland Zimbabwe, en so ook in Suid-Afrika.

 Die begin van die Bybel vertel van ‘n hongersnood wat Abraham dwing om in Egipte te gaan kos soek, ook sy nageslag Isak en Jakob. En aan die einde van die Bybel sê Openbaring 18:8 – “so sal die laaste dae ook gekenmerk word deur siektes en hongersnood en ellendes.”

In sulke tye droog liggame fisies uit. Liggaamsvet word afgebreek. Ledemate verswak. Mense verander in lewende geraamtes. Die buik en ingewande swel op, oë raak ingesonke, wangbene begin prominent wys, siektes ruk hand uit , immuniteit word afgebreek, en die beheer van sanitasie en higiëne word onmoontlik. Waar daar nie kos is nie, is daar nie lewe nie. Hongersnood is ‘n tyd van dood, vernietiging en verlies.

En nou sê die Here in v.11 – “Luister! Gee aandag! Daar kom ‘n hongersnood oor die aarde… wat nie vermy kan word nie.”

 In 1970 verskyn die apokaliptiese wetenskap-fiksie film “No Blade of Grass”gebaseer op ‘n boek van John Christopher wat in 1956 gepubliseer is. Dit gaan oor die oorlewendes van ‘n plaag wat London in die toekoms tref, en dat die stad oorweldig word deur opstande veroorsaak deur ‘n wêreldwye hongersnood. Die film begin met tonele van besoedeling wat lei tot ‘n vernietigende virus met sy oorsprong in Asië. Die virus val alle gras-soorte aan …ook koring, rys, mielies, letterlik alle eetbare graangewasse. Dit versprei na Afrika, Europa, Suid-Amerika, en bring dood, anargie en kannibalisme  oor die hele aarde. 100de miljoene mense sterf. Die Chinese gebruik senuweegas  en wis 300miljoen van hulle eie bevolking uit in ‘n desperate poging om te oorleef.

Wat ‘n geweldige storie! En ons sien iets van dit in die wêreld waarin ons leef.

 Israel sou genoeg kos en water hê, maar hulle sou  nie hoor dat God met hulle praat nie. Hulle hongersnood sou nie ‘n fisiese broodgebrek of tekort aan materiële dinge wees nie, maar ‘n geestelike hongersnood waarin mense nie die Woord van God kry nie. Hulle soek dit maar kry dit nêrens nie.

Aan die een kant kan ons dit verstaan dat die Here bedoel : “Ek sal nie meer met julle praat nie”, óf “Ek sal praat, maar julle sal my nie meer hoor nie.” Wat ‘n groot katastrofe!

 Oor die algemeen het Israel nie veel omgegee vir die Woord van die Here nie. Hoor hoe word hulle godsdiens beskryf in v.4-6 : “julle wat arm mense vertrap… julle wat die mense in nood in die land wil uitroei. Julle sê : ‘Wanneer is Nuwemaan (godsdiensfees) verby dat ons weer koring kan verkoop, of Sabbat, dat ons ons graanwinkels weer kan oopmaak en minder graan vir meer geld kan verkoop? Ons laat die skaal mos kul soos ons wil.’ Julle verkoop arm mense vir geld, behoeftiges oor ‘n paar sandale, julle verkoop selfs die koringkaf.”

 Hulle kon nie wag dat hulle godsdienstige pligte verby was sodat hulle weer kon besigheid doen en handel dryf en met hulle selfverryking kon voortgaan nie. Hulle het God verdra twv die vrede en die vertoon, maar kon nie wag om aan te gaan met hulle alledaagse doen-en-late sonder God nie. God en Sy woorde was soos ‘n leiband om die nek. Hulle kon nie wag om daarvan ontslae te raak nie.

En dan doen die Here wat hulle vra. Hulle is moeg vir Sy wet, daarom weerhou Hy dit van hulle. Hulle is siek vir Sy woorde, daarom antwoord Hy met stilte. Hulle wil nie langer Sy waarheid hoor nie, daarom doen Hy hulle ‘n guns en  weerhou dit van hulle.

 Amos se boodskap is duidelik – As mense God se waarheid verwerp sal God stilbly. Hulle sal nie meer Sy Woord hoor nie. Hulle sal ineenkrimp en geestelik sterf.                                                        

Kom ons kyk mooi wat sê die Here in v.11 – Ek sal ‘n honger oor die aarde laat kom.” Die rede vir die hongersnood is die oordeel van God. Hulle is onge-hoorsaam aan Sy Woord en ignoreer die stem van Sy profete. Daarom antwoord God met stilte. Hy hou op om met hulle te praat, en selfs al praat Hy sal hulle Hom nie kan hoor nie.

 Hoe hoor (gehoorsaam) ‘n mens die stem van God? Net wanneer Hy vir jou ore gee om te hoor. In Matteus 13:10-17 vertel Jesus dat om God te hoor is ‘n gawe van God. Ons hoor wanneer Hy ons ore oopmaak. 1 Kor 2:14 – “Die mens wat nie die Gees van God het nie aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.

 Dikwels ‘hoor’ jy en ek die Woord… in goeie preke, in bybelstudiekursusse,  oordenkings, gebedsaamtrekke, in kerke, kleingroepe, whatsapp-boodskappe, op Youtube en Facebook… Ons ‘hoor’ ‘n oorvloed goeie Bybelse verkondiging. Wat doén ons met dit wat ons hoor? Amos sê waar mense nalaat om dit wat hulle hoor te gehoorsaam sal dit van hulle weggeneem word. God sal stilbly. Hy sal ophou praat. Of Hy sal hulle vermoë om te hoor wegneem. Of diegene rondom hulle sal hoor, terwyl hulle in hongersnood sit en niks hoor wat God sê nie.

 v12 – Wanneer hierdie hongersnood kom sal mense rondsoek van plek-tot-plek na alternatiewe vir die Woord van die Here wat hulle nie meer hoor nie. Mense sal soek na plaasvervangers, na troosmedisyne. Ipv die soet stem van die Here wat hulle nie meer kry nie sal hulle gryp na allerhande kunsmatige versoeters.

 V13 – “Daardie dag sal die mooi meisies en die jong manne van dors beswyk”. Amos bedoel dat wanneer die hongersnood tref sal die sterkste onder die bevolking moedeloos word en geestelik ongeërg en onverskillig raak. Hulle sal so moeg raak van soek na sin en betekenis dat hulle sal ingee en ophou soek.

Dit wat godsdiens bied is vir baie mense soos ‘n verjaarde tjek…‘n waardevolle getekende tjek waarop ‘n miljoen rand ingevul is, maar waarvan die datum lankal verstryk het. So was Israel se godsdiens soos ‘n verjaarde tjek… vol belofte maar sonder betekenis.

 Kom ek vra só… Wat bepaal die waarde van jou en my geloof? Wat bepaal die waarde van ‘n Christen se getuienis, kerkwees en diensbaarheid? Die Woord! En die Gees van God! Ons gaan nie kan doen wat God van ons vra as ons nie hoor wat Sy Woord sê nie. Ons gaan nie kan doen wat Jesus gedoen het as ons nie weet wat Hy gedoen en gesê het nie. Ons het die ewige onveranderlike stem van God se Woord en Gees nodig. Die Woord en Gees wat relevant bly en nooit kan verouder of waarde verloor nie.

Mense gaan soek vandag antwoorde op plekke waar hulle kan kom soos hulle is en onveranderd kan weggaan soos hulle gekom het. Miljoene sterf geestelik omdat hulle juis weghardloop van die één ding wat presies kan gee waarna hulle soek, nl. die lewende Woord van God.

 Ons leef inderdaad in desperate tye. Hongersnood dreig in ons land en wêreld. Mense honger na fisiese uitkoms – bord kos, skoon water, ‘n dak oor die kop. Mense honger na ekonomiese uitkoms – na werk, ‘n inkomste, sekuriteit. Mense honger na mediese uitkoms – na genesing van kanker, ebola, miv, ms, alzheimer, covit19… Mense honger na vriendskap, belangstelling, en die aandag van hulle kinders en familie.     En God roep ons om in hierdie tyd Sy verteenwoordigers te wees, om te volhard in geloof, en om Sy liefde te deel. Ons kan dit nét doen in afhanklikheid van Sy Woord en Gees. Hy roep, en ons kan net antwoord as ons bereid is om te hóór.

 Daarom moet ons bid dat die Here vir ons sensitiewe ore en harte sal gee. Dat ons in hierdie tyd die stem van God sal soek in Sy Woord. Fyn ingestel sal wees op wat Sy Gees wil hê ons moet hoor en doen.

‘n Paar Sondae gelede het ons nav Psalm 78 gehoor God dek ‘n tafel in die barre woestyn. Hy maak die onmoontlike moontlik. Hy gee uitkoms en nuwe lewe teen alle verwagtinge in. As ons net bereid is om te hoor, te luister en te gehoorsaam.

 Amos sluit in hoofstuk 9 sy profesie af met ‘n belofte van herstel en nuwe lewe :

“Daardie dag bou Ek die vervalle hut van Dawid weer op; ek stop sy barste toe en bou sy murasies op, Ek herbou hom soos hy in die ou tyd was, sodat my volk die oorwinnaar sal wees van wat van Edom oor is, oor al die nasies oor wie My Naam uitgeroep is, sê die Here. Hy sal dit doen.

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat daar direk na die oes geploeg sal word en dat daar direk na die saaityd gepars sal word. Die berge sal van druiwesap drup, al die heuwels sal deurnat wees. Ek sal die lot van My volk Israel verander : hulle sal die verlate stede herbou en bewoon, hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink, hulle sal tuine aanlê en die vrug daarvan eet. Ek sal my volk weer in hulle grond plant, en hulle sal nie weer uitgeruk word uit die grond wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God.”

 Soek na die Woord van die Here. Hoor die Woord, luister daarna, lees dit, en gehoorsaam dit. Wees gehoorsaam aan die stem van die Heilige Gees en aan die voorbeeld van Jesus. Doen wat Jesus sou doen, sodat die mense en omgewing rondom jou nuut en heel kan word. Bid dat God jou sal help verstaan wat Sy Woord vir jou lewe bedoel. Maak nie saak hoe oud of jonk jy is nie , of hoeveel goeie of regtig slegte dinge jy al in lewe gedoen het nie. God het jou lief. En God het ‘n Woord vir jou. Dit is nou tyd om Sy stem te hoor en te gehoorsaam.

Amen.

EREDIENSE

Nuutste Preke

Vrede waar geloof vrees verdryf

Vrede waar geloof vrees verdryf

Wat beteken “vrede” regtig? Vrede is nié ‘n oppervlakkige gemoedelikheid of welwillendheid ter wille van die vrede nie.

Wat die meeste saak maak vir God

Wat die meeste saak maak vir God

Die afgelope week gesêls ons by ‘n geleentheid oor die jaar wat byna verby is. In baie opsigte was dit ‘n uitdagende jaar, en vir baie mense ‘n moeilike tyd.

Die Heilige Gees

Die Heilige Gees

Die afgelope week was ek in die oggendoordenkings besig om te fokus op wie God is. Ek het kortliks die drie persone waardeur God Hom aan ons geopenbaar…