Gefokus op die Gees
Ds Ulrich Ohlhoff - 31 Mei 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Gefokus op die Gees – 2 Korintiërs 4:16-5:10
Inleiding
Ek wil jou vra om vir ‘n oomblik na die volgende foto te kyk. (druk op die foto om in te zoom)
Dit is ‘n mooi foto, maar daar is ‘n groot probleem, ek wou die Nektarmot afneem en dit is nie in fokus nie, net die Lavender in die agtergrond is in fokus. Gelukkig kon ek ‘n bietjie rond speel en uiteindelik dit regkry om die nektarmot wel afgeneem en in fokus te kon kry. (druk op die foto om in te zoom).
Ek moet erken daar was ‘n hele paar foto’s wat misluk het, uitfokus was, geblur het en een of twee wat ek letterlik net donkerte gesien het.
As jy vandag van jou lewe ‘n foto moes neem hoe sou dit lyk?
Is dit in fokus of is dit ‘n blur?
Om ‘n goeie foto te neem benodig mens sekere toerusting, soos byvoorbeeld ‘n kamera, en ‘n paar tegniese aspekte, maar een van die belangrikste faktore is wie die foto neem. Jy kan, soos meeste mense vandag maak en sommer ‘n selfie neem, maar dit gaan nie die beste foto wees nie. ‘n Goeie fotograaf is verseker ‘n beter opsie. Iemand wat weet wat hulle doen. Iemand wat weet hoe om die toerusting te gebruik. Daar is baie opsies wat ‘n kamera jou bied, jy kan die hoeveelheid lig wat ingelaat word verstel, die spoed waarteen die kamera afneem, die sensitiwiteit van sensors en nog vele meer. Hierdie opsies help ongelukkig nie veel wanneer ek my 2 jarige vra om ‘n foto te neem nie. In die hande van ‘n goeie fotograaf maak dit egter ‘n groot verskil.
Elkeen van ons het ook innerlike verstellings, opsies wat ons kan bied, maar ons is dikwels baie meer soos ‘n 2 jarige met ‘n kamera as ‘n goeie fotograaf. Daarom is dit nodig om eerder die beste fotograaf van alle tye te kry om met jou innerlike verstellings te werk. Jou vervaardiger. Die Heilige Gees. Dit is tot ‘n groot mate waaroor die week se pinkster gegaan het.
Dat ons die beheer van ons lewens aan die Heilige Gees sal oorgee, want dan Sal Hy ons lewens vul met geesvervulde wysheid, lof en aanbidding, onderdanigheid, weerstand, lig en uiteindelik lewe. Ons moet ons lewens deur die Gees laat beheer. Hy weet hoe om met ons emosies, besluite, gedagtes en denke te werk om uiteindelik Sy vrug in ons uit te bring.
Hy weet wat Hy binne ons moet stel, sodat ons lewensfoto uiteindelik die beste sal vertoon. Hy weet ook waar Hy my en jou moet posisioneer om te sorg dat ons lewensfoto reg sal uitwerk. Hy weet wat die agtergrond moet wees en van watter hoek Hy die foto moet neem. Ons moet die Heilige gees toelaat om dus ons te lei in ons daaglikse lewens om te sorg dat ons op die plek is waar Hy ons soek en doen wat Hy van ons vra.
Volgende benodig ons ‘n lens.
‘n Kamera sonder ‘n lens beteken nie veel nie.
Die lens van ‘n kamera maak dit moontlik om dit wat ons wil afneem reg te sien en te fokus. Verskillende lense, maak veskillende tipes foto’s moontlik. Ons het dus ook die regte lens nodig vir ons om ‘n goeie lewensfoto te neem.
Paulus verduidelik dat ons twee opsies het om van te kies. ‘n Tydelike lens en ‘n Permanente lens. Paulus sê vir ons, indien jy ‘n tydelike lens gebruik, sal jy op die sigbare gerig wees, maar indien jy ‘n ewige lens gebruik sal jy op die onsigbare kan fokus. Met ander woorde ons as gelowiges het nodig om deur die lens van die ewigheid na ons lewens te kyk. Dit veroorsaak dat ons deur ‘n ewigheidsperspektief na ons lewens kan kyk en die effek daarvan is dat ons die groter prentjie begin raaksien.
Met ‘n ewigheidsperspektief raak alles in ons lewens kleiner. Dit wat ons dink ons hier op aarde bou, wat permanent is, waaroor ons hele lewe gaan, raak skielik in ewigheidsperspektief nie meer so groot, so permanent en stewig nie. As ons ‘n tydelike lens gebruik kan ons soos Paulus ons waarsku, maklik dink ons is besig met ‘n permanente woning. Ons kan maklik ons lewens so leef, dat ons net vir die hier en nou leef, ons bou ons eie koninkryk, ons probeer ons lewe hier so standvastig, goed en lekker as moontlik maak. Ons gaar op, ons versamel, ons leef vir die hier en nou. Dit lyk vir ons groot, dit lyk vir ons belangrik, maar dan sien ons nie raak dat al bou ons ons lewens hier so goed soos ons kan , dit steeds ‘n tydelike woning is nie, dit eintlik maar net ‘n tentwoning bly nie, iets wat verby gaan gaan. Daarom het Jesus ook gesê, moet nie vir julle skatte bymekaar maak waar mot en roes dit kan verniel nie, maar maak vir julle skatte in die ewige woning bymekaar.
Sodra ons die ewigheidslens gebruik sien ons ons koninkryk hier is maar klein. Indien ons met ‘n ewigheidsperspektief begin leef, sal ons besef die hier en nou is dalk nie so belangrik soos ons dikwels dit wil maak nie.
Daarmee saam het ‘n ewigheidsperspektief ook ‘n effek op ons probleme, op ons swaarkry. Hoe kry Paulus dit reg om te midde van sy swaarky te sê hy word nie moedeloos nie. Want in vers 17 ons swaakry is gering en gaan verby wanneer ons met ‘n ewigheidsperspektief daarna kyk. Ons besef skielik dat die probleem, die ongemak en die swaakry baie kleiner word wanneer ons deur ‘n ewige lens daarna kyk. ‘n Siekte wat ‘n wêreld ontwrig is baie sleg indien mens dit in terme van die hier en nou beskou, selfs indien mens dit in die perspektief van ‘n leeftyd aanskou, maar in ewigheidsperpektief is ‘n jaar se ontwrigting nie so groot nie. Hoor my mooi ek probeer nie vandag enige swaarkry afmaak as onbelangrik of niksseggend nie, inteendeel. Ek wil net jou herinner om nie alleenlik daarna te kyk in terme van die tydelike nie. Indien jy onthou jy ‘n ewige lewe het wat op jou wag, hoop ek dit gee jou hoop en troos en help jou om nie moedeloos te word nie. Ons weet waarheen ons op pad is, ons weet hierdie lewe is gering en gaan verby, en daarmee saam ook die bekommernisse en probleme van hierdie lewe. Daar wag egter vir ons ‘n ewige heerlikheid en indien jy deur die ewigheidslens gaan kyk, glo ek jy sal dit ook begin raaksien. Laat toe dat die Heilige Gees dit vir jou wys.
Indien ons die regte toerusting, ‘n kamera en lens het, die fotograaf wat die foto moet neem, kom nog net een ding kort om die foto uiteindelik reg te kan neem. Die fokuspunt.
Om die regte fokuspunt te kan kry, benodig ons steeds ‘n ewigheidslens, want sê Paulus vir ons ons moet op die onsigbare gerig wees. Wat is dit? Die onsigbare is God. Hebreërs 12:2 sê vir ons ons oog moet gerig wees op Jesus, dan sal ons nie geestelik moeg word en uitsak nie. Ons moet ons fokuspunt op God gerig hou. Ons moet God ons eerste prioriteit in ons lewens maak, Hom dien, Sy Koninkryk en Sy wil soek en indien ons dit doen sal die res van ons lewensfoto in fokus kom. Die Heilige Gees is aan ons gegee om hierdie moontlik te maak. In Johannes 14 en 16 maak Jesus dit vir ons duidelik, dat die Heilige Gees ons sal hep, sal lei, sal leer om ons fokuspunt op Jesus gerig te hou. Daarom is dit weereens so belangrik dat ek en jy nie probeer om ons self af te neem nie, maar die Heilige Gees sal toelaat om in beheer te wees.
Daar is een laaste en baie belangrike ontdekking vir ons om vandag te maak. Indien ons fokuspunt op God as die onsigbare is, gebeur iets ongelooflik. Ons ontdek dat ons lewensfoto, nie ‘n portret is nie, maar ‘n landskap. Ons ontdek dat reg langs ons, nog iemand deel is van die foto, en langs hom nog iemand en nog iemand. Voor ons agter ons is ‘n geskiedenis van gelowiges wat almal deel is van die foto wat God eintlik wil neem. Indien ons dit begin raaksien, hoop ek dit verander totaal en al hoe ek en jy leef, want skielik besef ons die foto gaan nie oor ons nie. Ons behoort te besef ons is net deel van ‘n familie foto en indien iemand in die familie iets benodig vir die foto behoort ons indien ons kan dit te gee. In God se koninkryk behoort die effek daarvan op ons te wees dat ons besef maar indien hierdie foto, hierdie landskap reg afgeneem gaan word, het ek nodig om die een langs my, voor my of agter my te help in hulle nood en swaarkry. Behoort ons saam te begin staan, mekaar te versorg, tot ons uiteindelik die familiefoto van God se huishouding kan neem. Ek wil elkeen wat in hierdie moeilike tyd juis met hierdie besig was uit my hart uit bedank. Ek wil elkeen wat vandag uitnooi om jou lewe nie meer vir jouself te leef nie, maar vir God. Paulus skryf in vers 9 “Maar of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil hê!”. Uiteindelik behoort ons tydelike lewe, ‘n lewe volgens God se wil te wees, sodat ons ook in ons ewige lewe Sy wil kan geniet.
Amen.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Lig in die Donker
1. Skriflesing Johannes 8:12 - ‘n Ander keer het Jesus vir die mense gesê : “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat ware lewe gee.” Die Boodskap weergawe – Jesus praat toe verder met die mense : “wat...
Die koninkryk van God is ‘n skat
Skriflesing – Matteus 13:44-50.
Jesus het bykans altyd die koninkryk van God aan Sy dissipels verduidelik deur gelykenisse (stories) te vertel. In Matteus 13:44-50 kry ons drie kort gelykenisse wat saam ‘n baie kosbare boodskap oor die Koninkryk van God aan ons wil oordra.
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy