Geesvervulde Onderdanigheid

Ds Gert Victor - Pinkster - 28 Mei 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Pinkster 2020 – Geesvervulde Onderdanigheid

 

Skriflesing: Efesiërs 5:21

 

Die Here is besig om met ons te praat oor ‘n geesvervulde lewe. In vers18 sê Hy “Laat die Gees julle vervul” Dit beteken dat jy die Gees van God toelaat om élke deel van jou lewe te beheer. Dat jy dit wat jy dink en doen, jou woorde, gedagtes, planne en ideale bewustelik aan Hom oorgee.

In verse 19 en 20 sien ons dat Paulus direk nadat hy sê “Laat die Gees julle vervul” begin praat oor hoe ons God moet aanbid. Geesvervuldheid lei tot ware en toegewyde aanbidding tot eer van die Here. As die Gees van God in jou is kan jy nie leef met ‘n mond vol tande nie. Jy sal ‘n behoefte hê om Hom met jou lewe te eer en om Sy lof te besing.

Verse 18-21 is oorspronklik een sin. Dit beteken die opdrag om vervul te word deur die Gees kan nie losgemaak word van die opdrag om God te eer nie… en dit kan ook nie losgemaak word van dit wat ons hier in v.21 lees nie – “wees aan mekaar onderdanig uit eerbied vir Christus.” Onderdanigheid aan mekaar is deel van ons lof aan God. Dit is nogal moeilik om die Grieks hier in Afr te vertaal en om die regte Afrikaanse woord te kry, maar hierdie vers is ‘n opdrag aan jou en my om nederig te wees in ons verhoudinge. Ons word geroep om die geesvervulde lewe te leef met die nederige hart van ‘n dienskneg.

“Onderdanigheid” is ‘n opdrag en nie ‘n opsie nie. Dit is iets wat God verwag dat ons sal doen. Die woord wat ons met “onderdanig” vertaal beteken ook om jouself te onderwerp, om gehoorsaam en toegewyd te wees, en om jouself oor te gee t.w.v. die ander. In werklikheid is dit ‘n militêre term wat te doen het met “rang”. Dit beteken respekteer en waardeer mekaar vir wie en wat die ander persoon is. Ons is as geesvervulde Christus-volgelinge hier om mekaar te dien. In alles kom die ander persoon se belange bó my eie.

En dit het niks te doen met swakheid, minderwaardigheid of onverantwoordelike toegeeflikheid nie. Niemand kan jou dwing om op ‘n geesvervulde manier aan iemand onderdanig te wees nie. Maar as jy wil sien dat verhoudinge floreer, en as ons in verhoudinge nader wil groei aan mekaar, sal jy en ek hierdie gesindheid moet aanleer. Die teendeel is ook waar… as jy selfsugtig is, en jou eie belange bó dié van ander stel, en ten alle koste die “eie ek” in jou lewe vertroetel, sal dit elke waardevolle verhouding in jou lewe vernietig.

Hoe meer ons hierdie onderdanigheid aanleer hoe meer groei ons daarin om soos Jesus te wees. Hy was self God en altyd onderdanig aan die wil van Sy Vader…

Johannes 4:34 – “My voedsel is om die wil te doen van Hóm wat my gestuur het, en om Sy werk te voltooi.”

Johannes 5:30 – “Uit My eie kan ek niks doen nie. Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor… dis nie My wil wat ek nastrewe nie, maar die wil van Hóm wat my gestuur het.”

Johannes 6:38 – “Ek het uit die hemel gekom, nie om Mý wil te doen nie, maar die wil van Hom wat my gestuur het.”

Die grootste bewys van Jesus se onderdanigheid aan die Vader was Sy menswording en uiteindelik Sy lyding en sterwe aan die kruis. Sy hele lewe was daaraan gewy om mense te dien, en t.w.v. die behoeftes en die nood van mense.

Markus 10:45 – “Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien, en Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense.”

Dit is duidelik dat hierdie onderdanigheid waartoe Paulus ons aanmoedig begin by afhanklikheid voor God ons Vader in die hemel, en ons voorbeeld is Sy Seun Jesus Christus.

‘n Belangrike vrug van die Gees van Galasiërs 5 is die vrug van selfbeheersing. En dit beteken eenvoudig om die “eie ek” in jou lewe onder beheer te stel van die Gees van God, sodat God en jou medemense hul regmatige plek in jou lewe kan inneem. Liefde speel hierin ‘n groot rol. 1 Kor 13-liefde wat beteken dat jy ander se belange eer en respekteer en selfs bó jou eie stel. 1 Korinthiërs 13:5 – “liefde soek nie sy eie belang nie…” Liefde stel homself nooit eerste nie.

Geesvervuldheid beteken Bybelse onderdanigheid, en dit is om ander lief te hê bó jouself, soos Jesus hulle liefhet… om hulle te dien soos Jesus hulle dien … om jouself in hierdie lewe te onderwerp aan die wil van God, soos Jesus. Om onderdanig te wees is om soos Jesus te wees, en om in alles te vra wsjd? Dit is om God en Sy wil te kies bo jou eie.

“Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Wees in gehoorsaam-heid aan die voorbeeld van Christus aan mekaar onderdanig…” en as jy wil weet hoé… kyk na Jesus!

Vanaf vers 22 tot in hoofstuk 6 bespreek Paulus ‘n paar voorbeelde wat te doen het met ons heel naby verhoudinge… hy praat met mans en vrouens (waarskynlik in die huwelik), met ouers en kinders, werkgewers en-nemers… en hierdie “wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” is van toepassing op elkeen van hierdie verhoudings. Onderdanigheid is soos ‘n 2-rigting straat. Mans moet aan God en hul vrouens onderdanig wees. Vrouens moet aan God en hul mans onderdanig wees. Dis die resep vir ‘n geseënde huwelik. En dit geld vir ouers en kinders, werkgewers en -nemers… Gelukkige gesinne en werkomgewings hang af van die mate waarin ons dít kan regkry.

In Paulus se tyd was dit die norm vir vroue, kinders en slawe om onderdanig te wees aan die gesag oor hulle. Vroue het min regte gehad. Kinders en slawe het geen regte gehad nie. Mans het die lewe beheer en geregeer. Mans se woord was wet en klaar. Hulle was die mag en gesag.

En toe kom Jesus en alles verander. Hy sien mans, vroue, kinders en slawe deur die selfde bril. Hy moedig elke lid in God se familie aan om onderdanig te wees teenoor elke ander lid in God se familie, om God bo alles lief te hê en  om ander hoër te ag as jouself. Dit is wat geesvervuldheid beteken en wat die Woord van God van ons vra. Die vraag is of dit so is in jou en my lewe? Ek dink nie dit is noodwendig die norm in die wêreld nie… Is dit só in jóu lewe?

Paulus sê in hierdie vers – “doen dit uit eerbied vir Christus” – “wees uit eerbied vir Christus mense wat mekaar eer, respekteer en waardeer… onderwerp julle aan mekaar omdat julle aan God onderwerp is.”

Hy gebruik die Griekse woord “fobos” of ”fobia” wat “vrees” beteken. Wat hy daarmee bedoel is nie dat ons onderdanig moet wees omdat ons bang is vir God in die sin dat Hy ons sal straf as ons nié onderdanig is nie. Die woord “fobos” het hier die betekenis van “eerbied”… “wees onderdanig aan mekaar omdat julle ‘n heilige eerbied het vir God… gemotiveer deur ‘n heilige eerbied vir Hom die eerbiedwaardige aan wie julle behoort.”

Laat Sy eerbiedwaardig-heid julle aanspoor om mekaar ook met respek te behandel. Eer mekaar omdat julle God eer. Só sal ons dit regkry om mekaar te waardeer in ons huwelike, huise, gemeenskappe, werkplekke en in die kerk… só leer ons om mekaar as mede-reisigers op die lewenspad te hanteer in nederigheid en liefde soos Christus ons elkeen hanteer. Jou en my verhouding met ander begin by ons verhouding met God.  As Hy die regte plek in jou lewe het, sal medemense ook hul regmatige plek hê.

Natuurlik beteken dit nie dat jy ‘n deurmatjie moet wees waarop almal trap nie. Moenie toelaat dat ander oor jou loop, jou misbruik en manipuleer nie. Vra die wysheid van die Heilige Gees daarvoor, want daar kom ook tye wat jy moet opstaan vir jouself en vir die eer van God.

Hierdie vers roep ons om soos Christus te wees. Ongeag hoe mense ons behandel… om met respek te reageer t.w.v. ons getuienis en t.w.v. ons verhouding met God en die eer van Sy Naam. Gebruik elke situasie en verhouding as ‘n geleentheid om die Here te dien. Ook deur jou optrede teenoor ander.

EREDIENSE

Nuutste Preke

Gefokus op die Gees

Gefokus op die Gees

As jy vandag in jou lewe ‘n foto moes neem, hoe sou dit lyk? Is dit in fokus of is dit ‘n blur?

Pinkster Vrydag, 29 Mei 2020

Pinkster Vrydag, 29 Mei 2020

Paulus begin hierdie gedeelte in vers 10 met die woord “uiteindelik!” In werklikheid is dit ‘n uitroep waarmee hy bedoel : “die uiteinde van alles, of die slotsom van alles.”

Pinkster Woensdag, 27 Mei 2020

Pinkster Woensdag, 27 Mei 2020

In vers 18 kry ons ‘n baie moeilike opdrag – “Laat julle voortdurend vervul met die Gees.” Dit beteken om die totale permanente beheer van jou lewe oor te gee aan God