Geesvervulde Aanbidding en Lof
Ds Gert Victor - Pinkster - 27 Mei 2020
DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Pinkster 2020 – Geesvervulde Aanbidding en Lof
Skriflesing: Efesiërs 5:19-20
In vers 18 kry ons ‘n baie moeilike opdrag – “Laat julle voortdurend vervul met die Gees.” Dit beteken om die totale permanente beheer van jou lewe oor te gee aan God. Dat Hy elke gedagte, aksie en besluit in jou lewe beïnvloed. Omdat ons so vol is van onsself en die begeertes van die “eie ek” so maklik ons lewens dikteer, is dit nie so maklik om gehoorsaam te wees aan hierdie opdrag nie.
Vanaf vers 19 beskryf Paulus hoe ‘n geesvervulde lewe lyk… hoe ons moet leef in ons huwelike, gesinne, werkomgewing en in ons daaglikse stryd teen die vyand. Wat baie interressant is is dat Paulus nie hierdie beskrywing van die geesvervulde lewe begin deur te verwys na Evangelisasie, Barmhar-tigheid, Prediking, mededeelsaamheid, heiligheid of enige van die aksies waarmee mense dikwels in die kerk besig is nie. Wanneer hy begin om die geesvervulde lewe te beskryf begin Paulus by die manier hoe ons God aanbid.
Iemand het iewers geskryf : “jou aanbidding van God is die venster van jou hart.” As jou hart aan God behoort sal jou aanbidding van Hom getuig. Jou aanbidding sal God-verheerlikend wees. Verse 18 tot 21 is in werklikheid een aaneenlopende sin… Paulus verbind geesvervuldheid met ware aanbidding, ‘n dankbare hart, eerbied vir God en die regte verhouding met jou mede-mens… Uit ware aanbidding van God vloei ook ware omgee, liefde, eerbied en respek vir die mense rondom jou.
Hoe lyk geesvervulde aanbidding? Natuurlik verskil mense se spiritualiteite… behoeftes verskil, persoonlikhede en opinies verskil. Vir sommige is aanbidding ‘n tyd van stil word, nadink en mediteer oor die teenwoordigheid van God. Vir ander is aanbidding hande ophef en uitroepe van lof, of dalk op-en-af spring op die maat van musiek. Waarskynlik is nie een van hierdie beskouings verkeerd nie, en dalk lê die antwoord iewers in die middel van hierdie uiterstes. Die vraag moet altyd wees : Is God teenwoordig in dit waarmee ek besig is?
Vers 19 sê baie duidelik hoe geesvervulde aanbidding lyk en klink. In die oorspronklike Grieks stel Paulus dit baie interressant – “Praat met julleself psalms, lofsange en geestelike liedere”… ons vertaal dit met “sing onder mekaar.” In hierdie “praat met jullesef” gebruik Paulus die Griekse woord “laleo” wat verwys na die klank wat ‘n mens se tong maak as jy dit op ‘n seker manier beweeg. Letterlik beteken dit iets soos “la-la-la-de-da”… dit gaan oor verbale klanke, en dit beteken “om te praat en om woorde of jou stem te gebruik.”
Paulus bedoel jy en ek kan nie aan openbare aanbidding deelneem en heeltyd net stil wees nie. Natuurlik is daar plek vir stilte in aanbidding. Meditatiewe momente is belangrik en nodig. Dit is nodig om jouself af te sonder in gebed, en om dalk iewers in die natuur te gaan stil word met die Here… maar Paulus sê ons moet ook ons monde kan oopmaak en ons tonge kan beweeg om klanke en woorde met mekaar te deel. Dit is ‘n opdrag van die Here. Die woord “laleo” (om te praat en klanke voort te bring) vra ons betrokkenheid. Dit kan nie passief gebeur nie. Wanneer die Heilige Gees beheer neem van jou lewe vul hy dit met vreugde. En wanneer vreugde ‘n stem kry loop dit uit op liedere van lof oor die grootheid van God. ‘n Geesvervulde mens is ‘n singende mens.
Paulus noem 3 maniere van verbale aanbidding. Baie interressant dat hy nie bloot net sê sing geestelike liedere nie. Hy noem psalms, gesange, en ander geestelike liedere… hoekom doen hy dit?
Die woord Psalm is ‘n Grieks-latynse woord wat verwys na woorde wat in musiek verwerk is. D.w.s. die kombinasie van die Woord van God met musiek. As ons lof aan God geesvervuld is sal ons liedere sing en musiek maak gebaseer op die Woord van God. Ons sal Skrifgetroue liedere sing en musiek maak wat die Bybelse boodskap uitdra en wat God se Naam eer.
Paulus sê ons moet ook Gesange sing met geestelike waarde. Liedere wat getuig van God se verlossing, waarheid en heerlikheid. Deur die eeue het die kerk sulke liedere gebruik om geestelike waarhede te verkondig. In ‘n tyd toe baie mense nie Bybels gehad het nie, het predikers en ander gelowiges geestelike liedere geskryf om mense te leer en toe te rus in die waarhede van die Evangelie.
Ons leef in ‘n tyd waar kontemporêre geestelike musiek soos ‘n vloedgolf deur die wêreld spoel, en dit is nie noodwendig ‘n goeie ding nie. Baie moderne geestelike musiek het geen Skrifwaarde nie. Dit gaan meer oor die ritme en klanke as oor die woorde. Ons kinders ken nie meer kosbare liedere soos Amazing Grace / Hoe groot is U / Jesus Rots vir my geslaan nie… Dit is nodig dat ons ook weer daardie ou liedere sing, en vir ons kinders leer, en waak teen geestelike musiek met geen geloofsvormende waarde nie.
Paulus sê “sing ook ander geestelike liedere”. Daaruit kan ons aflei ook liedere en musiek met ‘n ligter geestelike aanslag. Koorverwerkings en ook opbouende populêre musiek. Hier dink ek sommer aan ons eie Flam en Vonkk liedere, en ook ander Afrikaanse en Engelse liedere soos “10 000 Reasons” en die “Oorwinningslied” e.a. Liedere wat ons met vreugde laat juig voor die Here.
Daar is ‘n paar vrae wat ons kan help in ons lof en aanbidding voor God :
Is dit Skriftuurlik en sluit dit aan by die Bybelse Boodskap?
Verkondig dit die Evangelie en word Christus daardeur verheerlik?
Is dit opbouend vir die kerk?
Verkondig dit ewige waarhede?
Is die musiek kontemporêr en populêr, of is dit musiek wat in die kerk hoort?
Gaan dit net oor die musiek, of spesifiek ook oor die woorde?
Uiteindelik gaan dit vir Christus-volgelinge juis ook nie daaroor dat ons rigied onderskeid maak tussen psalms, gesange en geestelike liedere nie. Ons hoor dikwels kritiek soos “hierdie of daardie kerk of gemeente sing net moderne liedjies, of hulle sing net ou liedere, of net engels, of net met die orrel. Ouer lidmate voel dalk dat ‘n orkes en kitare nie in die kerk hoort nie”… Paulus se argument is juis dat Christus mense vry maak om verskeidenheid te om-arm tot eer van God. Lof en aanbidding is ook nie net beperk tot sang en musiek nie. Ons gebede is ook lof-en-aanbiddingsliedere tot eer van God… ons getuienis is lof aan God… ons saamwees as gelowiges is lof aan Hom… ons loop deur die wêreld moet ‘n loop en ‘n lewe wees op die ritme van lof en aanbidding.
In v.19 sê Paulus : “Sing met julle hele hart tot eer van die Here”… en ‘n mens se hart is tog die middelpunt van jou emosies, gedagtes en wil. Jou hart is die fontein wat alle aspekte van jou lewe beïnvloed. Wat Paulus ook hier in gedagte het is die klanke wat ‘n musiekinstrument voortbring, soos bv. wanneer snare gepluk word en dit vibreer… ‘n harp, kitaar of klavier wat ingestem word om perfekte mooi klanke voort te bring. Só wil die Gees ons harte instem, en wanneer die Gees van God die geestelike hartsnare in jou lewe roer sal lof en aanbidding uit jou lewe vloei tot eer van Hóm aan Wie jy behoort. Lof en aanbidding begin altyd in die hart. Wanneer jou hart herinner word aan Wie God is en aan wat Hy vir Sy verloste kinders doen, begin jou hartsnare roer, en bring dit ook jou mond en woorde in beweging om God te aanbid en te verheerlik.
Nou moet ons erken sommige van ons is minder nootvas as ‘n dubbelbalie wasmasjien… maar as die Here in jou hart is en jy Sy Gees toelaat om jou hartsnare te roer, sal jy wíl sing om Hom te eer en Sy Naam groot te maak. Dink net hoe lief die Here jou het… Hy het jou gekies, geroep, gered en veilig bewaar. Hy seën en versorg jou. Hy stap saam met jou. Hy ag jou waardig en Sy genade is genoeg vir jou. Dit sal daarom baie vreemd wees as jy kies om Hom nié te aanbid en nié eer nie.
Deur God só te aanbid is ons tot seën vir die Liggaam van Christus, en seën ons mekaar. So bou ons mekaar op in geloof. As ons fokus op die eer van God.
Die woord wat in vers19 met “lofgesange” vertaal word herinner ook aan die “hoo-hoo” geluid van ‘n uil en die “kwaak” van ‘n padda. As ‘n uil kan “hoo” en ‘n padda kan “kwaak” dan kan jy en ek ons harte en monde oopmaak om God te aanbid en Sy lof te besing. Dalk hou die ou langs jou nie van jou stem nie, dit maak nie saak nie. God die Almagtige word verheerlik deur die lof wat uit jou hart en uit jou mond kom.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Lig in die Donker
1. Skriflesing Johannes 8:12 - ‘n Ander keer het Jesus vir die mense gesê : “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat ware lewe gee.” Die Boodskap weergawe – Jesus praat toe verder met die mense : “wat...
Die koninkryk van God is ‘n skat
Skriflesing – Matteus 13:44-50.
Jesus het bykans altyd die koninkryk van God aan Sy dissipels verduidelik deur gelykenisse (stories) te vertel. In Matteus 13:44-50 kry ons drie kort gelykenisse wat saam ‘n baie kosbare boodskap oor die Koninkryk van God aan ons wil oordra.
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy