Gestuur met die Gees en die Waarheid

Ds Org van der Watt - 24 Mei 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

‘Gestuur met die Gees en die Waarheid    – Johannes 20:19-23

Broers en susters, hier hoor ons dat die dissipels van die Here Jesus nóú, na sy dood, alleen en in stilte daar in die bo-kamer sit… daar waar hulle altyd saam met Jesus geëet het, waar Hy hulle geleer het en ook die Nagmaal; ‘n paar dae vantevore ingestel het…

En as jy mooi tussen die lyne lees sal jy ook ‘n groot stuk vrees by hulle bemerk; want; staan daar ‘…die deure was gesluit, omdat hulle bang was vir die Jode…  Daar was natuurlik ‘n sterk moontlikheid, broers en susters, dat die owerhede die man van Nasaret se navolgers van die afgelope paar jaar sou begin opsoek om hulle ook tereg te stel…

Hierdie 12 mans en hulle Meester was verantwoordelik vir baie onmin en onrus onder die volk… Hulle optrede en dit wat hulle Meester geleer en gedoen het was vir die Joodse leiers ‘n bedreiging… Hy het die Skrifte op ‘n vreemde manier geïnterpreteer en dit het mense vrae laat vra… Vrae waarop hulle gedink het hulle nog al die jare klink-klare antwoorde gehad het!

Só ja, die dissipels was bang… Besig om weg te kruip! Miskien ‘n bietjie skuldig te voel oor hulle afwesigheid en verloëning tydens hulle Meester se diepste uur van nood…? Toegesluit, agter slot en grendel… sit hulle daar – elkeen ook vasgevang in sy eie gedagtes… gevoelens en emosies…

En dan, skielik – staan daar – verskyn Jesus aan hulle en kom staan daar tussen hulle… En omdat Hy bewus was van hulle angs – hierdie vrees wat in hulle opbou – groet Hy hulle soos Hy maar altyd gedoen het; Shalom – Vrede vir julle! Grusstellend, sagmoedig en kenmerkend; sodat die dissipels Hom dadelik sou erken…

Dit is asof ‘n mens die atmosfeer in die vertrek voel en sien verander nadat Jesus hierdie woorde gesê het… Nadat Hy weer Homself by sy dissipels in hulle uur van vrees en berou kom aansluit…

En dan; terwyl die blydskap en opgewondenheid om hul Meester weer te sien in hulle opborrel; wys Hy vir hulle sy liggaamlike letsels… miskien om die wonderwerk wat nou voor hulle oë afspeel dieper te laat tref…

…want; enkele dae vantevore is hy dood verklaar en in ‘n graf gelê… en; kleingelowig soos hulle was; het hulle waarskynlik gedink alles is nou verby… maar; só asof Jesus nou vir hulle met die wys van Sy wonde wil sê: ‘Kyk, Ek is werklik hier… Dis nie ‘n spook wat hier voor julle staan nie. Dis nie julle emosies wat met julle woer-woer speel nie… Dis Ek! Die Here! En Ek is hier…

Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien – staan daar in :20. Verlig om Hom weer te sien… dalk het dit só bietjie van die vrees vir wat aan die anderkant van daardie deur en die sonopkoms van more op hulle wag… miskien is hulle skuldgevoelens en verwyte effens gestil… want; Hy leef nou weer – hóé dit gebeur het en moontlik is, weet hulle nie, maar dit is vir hulle wonderlik… Hy het mos al baie sulke wonders gedoen… Ons weet mos Hy’s anders!

En dan sê Jesus weer vir hulle: Vrede vir julle! Maar hierdie keer met ‘n opdrag by – Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook… En dan, hierna blaas Hy oor hulle en sê vir hulle: Ontvang My Gees… die Heilige Gees!

Dis bitter min woorde, broers en susters… net ‘n paar woorde… Máár; in hierdie woorde, broers en susters, lê iets besonders opgesluit! ‘n Paar woorde – ‘n opdrag en ‘n geskenk;’n gawe en ‘n verantwoordelikheid – wat die wêreld; soos die dissipels dit tot op daardie stadium geken het; totaal en al – en vir altyd – sou verander… ‘n gebeure wat hulle, as mense, totaal en al sou verander!

Broers en susters; om iets van die grootheid van Pinkster te verstaan; moet ons verstaan wat hier, in Johannes 20 gebeur… Want; dit wat hier gebeur is amper ‘n Pinkster-gebeure in die kleine… Ons moet onthou dat die hele Johannes-evangelie daaroor gaan om die leser te laat verstaan dat Jesus ‘n verlengstuk van die Vader se werk op aarde is…

By meer as een geleentheid maak Jesus dit duidelik dat Hy niks anders doen as dit waarvoor Sy Vader Hom gestuur het nie… En hier; in Johannes 20 word vertel dat Jesus die dissipels; God die Vader se mede-werkers op aarde kom maak! Eerstens; gee Hy vir hulle die opdrag om as gestuurdes in die wêreld uit te gaan. En tweedens; sien ons hoe die dissipels met die Heilige Gees bemagtig en versterk – gevul – word vir hierdie opdrag…

Soos God aan die begin (in Gen. 2:7) die lewensasem in die mens se neus geblaas het; Soos die Gees van God weer lewe in Esegiël 37 se doodsbeendere gebring het…

Soos die Gees van God telkens die manne en vroue van Godsvolk bemagtig het en toegerus het vir ‘n besonderse en bepaalde taak; só kom blaas Jesus hier Sy Gees oor sy dissipels uit… en dan kom daar nuwe lewe in die dissipels… Nuwe hoop! Verandering! En hulle kry nie net nuwe lewe nie, broers en susters; hulle word gesante vir die boodskap ván die LEWE in hierdie wêreld!

Hier, op hierdie oomblik vind daar ‘n omwenteling in die dissipels se lewens plaas… Daar waar die Gees van God in beweging kom – oor hulle uitgeblaas word – dáár verdwyn alle vrees en kommer uit hulle harte… kom daar vrymoedigheid en blydskap! Daar waar die Gees van God beweeg kom verandering en nuwe lewe! Hierdie doodsheid van berou en angs verander in iets anders… Iets besonders!!! Deur die Gees word Jesus se vredesgroet vir hulle ‘n werklikheid en die vrede wat alle verstand tebowe gaan het hulle harte en gedagtes gevul…

Die Gees word nie verniet met vuur en wind en water in die Bybel vergelyk nie… Want ‘n vuur bring lig! Vuur word gebruik om goud en silwer te louter en in iets blink en mooi te verander! Daar waar die wind waai verander dinge… Word die lug skoon en bring dit die reëns wat alles skoon was… Waar strome water vloei, kom daar lewe… Oral waar die water loop kom daar groenigheid – LEWE! (Gaan lees maar weer Esegiel 47 van die Stroom Lewende water wat uit die Heiligdom vloei – pragtige beeld van God wat deur Sy Gees in en deur mense werk!).

Drome word werklikhede, broers en susters – wanneer die Heilige Gees van God ruimte gegee word om te werk! Handelinge 2 (uitstorting van die Gees) en verder; word ‘n sprekende voorbeeld hiervan; broers en susters!

Petrus verander sy verloëning in ‘n openbare preek waarin hy kragdadig getuig van die Opstanding van Jesus… Mense kom by die duisende tot geloof en word gered… Die een na die ander gemeente word gestig! Siekes word gesond, lames loop weer… blindes kan weer sien en die duiwels word uitgedryf en verjaag! Mense kom tot geloof en leer ken die waarde daarvan om jou naaste lief te hê… en binne God se wilt e lewe!

Die werk van God word deur die Gees in gewone mense voorgesit!

Petrus, Johannes, Tomas en Andreas – Paulus, broers en susters – is al jare lank dood! Máár; dit wat hulle beleef het, dit wat hulle gesien en gedoen het, dit wat hulle verkondig het, is en kan vandag nog ‘n realiteit wees… Niks het verander nie! Dieselfde Gees wat in en deur hulle aan die werk was in daardie eerste dae van die vroeë kerk, is dieselfde Gees wat ons vandag nog bely… Dis presies dieselfde Gees van God wat in en deur ons aan die werk is!

Máár; ongelukkig, broers en susters, is die Pinkster-gebeure… Dit wat hom hier in Johannes 20 afspeel en later in Handelinge 2 voortgesit word – vir baie van ons, soos baie van die vertellings in die Bybel, bloot ‘n geloofsvertelling… ‘n Vertelling van dit wat lank terug gebeur het… by die geboorte van KERK van Christus nodig was en ‘n belangrike rol gespeel het… maar; nou uitgedien geraak het…? ‘n Soort streep-teologie… (brei uit)* En dis ongelooflik hartseer, broers en susters…

Want; mense (en dan praat ek nou in die besonder van ons, as goeie, opregte, gereformeerde gelowiges) besef dan nie dat die Heilige Gees vandag nog die dinge waarvan ons in Handelinge lees kan laat gebeur nie! Ja; die Gees is die Een wat troos en bemoedig, inspireer en mense in beweging bring… Maar; die krag van God, deur Sy Gees, wil steeds soveel meer in my en jou lewe doen! Waarlik wonders laat beleef! Want; Hy is steeds die lewegewende Gees wat in en deur ons wil lewe bring! Wat van ons WARE Kerk wil maak… Wat van ons waarlike mede-werkers in die Koninkryk van God wil maak – Ons moet Hom net innooi en toelaat – Hom nie bedroef en Hom weerstaan/teëstaan nie… want; dan sal NIKS gebeur nie…

Jaar na jaar kom soek ‘n paar mense egter wel tydens ons Pinkstr-bidure na iets… met ‘n heimlike hoop dat hulle hierdie keer kragdadig met die Gees vervul sal word… Dat Christus oor hulle sal blaas en sê: “Ontvang my Gees!” Máár; keer op keer word mense teleurgestel! Want; hulle maak elke keer die fout om ‘n na binne gerigte Geesvervulling na te jaag…’n Geesvervulling wat my lewe, my emosies en my ervarings moet verander en verdiep… En ‘n groot deel van Geesvervuldheid lê seker juis hier, broers en susters. Jy moet sélf nuut word… Jy móét die deur van jou hart oopmaak en jouself oorgee en jouself onder beheer van die Heilige Gees plaas…Ja!

Máár; dit is opvallend dat die Pinksterboodskap wat aan ons vertel word – veral hier in Johannes 20 – gepaart gaan met ‘n uitstuur en uitgaan – die wêreld in! *Jy sien; daar waar die Gees werk; koester mense ‘n sterk na buite gerigtheid

…om ander mense raak te sien en hulle goedgesind te wees! Die Gees bring mense in beweging na die wereld om hulle – en juis daarin lê die vervulling waarna almal van ons só opsoek is… As jy doen wat die Gees jou roep om te doen… (gaan lees maar weer in Handelinge die vertellings oor die heel eerste gemeentes en hoe hulle gehandel en gefunksioneer het. Ons moet iets daarvan weer terugkry).

Pinkster, broers en susters; gaan nie oor ‘n na binne gekeerde, warm gevoel oor jouself en jou eie lewe; jou eie saligheid nie… Pinkster gaan oor ons rol as gestuurdes… Geesvervulde mense wat die opdrag van Christus uitvoer! Ons rol as Kerk van die Here Jesus Christus in die rigting van die wêreld uitleef! Dié wereld waarvoor Christus Sy LEWE kom aflê het! Let wel; NIE in EIE KRAG nie; máár deur Sy Gees sê Sagaria 4:6!  

En nêrens word dit meer duidelik deur Jesus gesê as hier in Johannes 20 nie – hiér waar Hy gestuur-weesen die ontvangs van die Heilige Gees/gevul wees(word) met die Heilige Gees; direk aan mekaar verbind word nie! Ons is – soos Johannes 20 dit aan ons duidelik maak – gestuur met die Waarheid wat die Gees ván die Waarheid!

Pinkster is hier, broers en susters! Die Here Jesus Christus kom blaas as’t ware vanoggend weer oor ons en sê vir ons: “ontvang my Gees!  om as gesante van die opgestane Christus en gestuurdes van die Vader die wêreld in te gaan en te besiel, bemoedig en te inspireer! 

Mag Pinkster vanjaar nie maar net weer vir ons ‘n herinnering wees aan gebeure jare gelede nie… Mag ons vanjaar daadwerklik die Gees van God innooi om ons te vul en mag ons sy Groot en Magtige dade in en deur ons – Sy KERK – sien gebeur!

AMEN

EREDIENSE

Nuutste Preke

Graad 4-6, Sondag 23 Augustus 2020

Graad 4-6, Sondag 23 Augustus 2020

Ander Gelowe.
Die video dien as inleiding vir die les. Daarna kan jy die res van die les deurlees en rustig die besprekingsvrae saam met jou gesin bespreek.

Dankbaar dat ek gered is

Dankbaar dat ek gered is

Ek wil vandag begin deur ‘n bekende bybelstorie te vertel, maar ek wil nie dit vertel as iets waarna jy net vandag luister nie.