'n Tafel in die Woestyn
Ds Gert Victor - 17 Mei 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
‘N TAFEL IN DIE WOESTYN – Psalm 78:12-20
Waarskynlik het meeste van julle al die storie gehoor van die man wat in die berg gaan stap het… sy voet gly toe, en hy val teen ‘n hoeë krans af. In sy val gryp hy aan ‘n boomtak vas wat sy val vir ‘n wyle stuit, en só beland hy op ‘n dun rotslysie waar hy klou vir lewe en dood. Toe hy afkyk sien hy tot sy ontsteltenis die gapende afgrond onder hom, en hy besef dat hy op geen manier sélf na veiligheid sal kan klim nie… Só begin hy roep vir hulp, in die hoop dat ‘n verbyganger hom sal hoor, en dalk ‘n tou sal laat sak om hom na veiligheid toe te trek. 20 minute lank het hy so bly roep : “help! help! is daar enige iemand daar bo!? Help my!” Net toe hy wil moed opgee hoor hy ‘n stem “Jack! Jack, kan jy my hoor!?”
“ja! ja, ek hoor jou! ek hang hier onder teen die krans!”
“ek kan jou sien ja! (antwoord die stem) is alles in orde?”
“nie regtig nie! (roep Jack benoud terug) maar wie is jy, en waar is jy?!”
“ek is die Here, Jack, en ek is oral” (antwoord die stem terug)
“die Here? bedoel jy jy is God?!”… “ja, dit is Ek” (antwoord die stem)
“wel Here (roep Jack), help my, asseblief help my! as jy my vandag help sal ek nooit weer sonde doen nie, ek sal ‘n goeie mens wees, ek sal U dien vir die res van my lewe!”
“versigtig met die beloftes Jack…laat ons jou eers daar afkry, en dan praat ons verder – luister nou mooi en doen presies wat Ek sê.”
“help my net, Here, ek sal alles doen wat U wil hê!”
“reg so! (roep die Here terug) vertrou My en laat los die tak waaraan jy vasklou!”… vir langer as ‘n minuut was daar ‘n doodse stilte, en toe roep Jack baie benoud : “Help! Help! Is daar dalk iemand ánders daar bó!!??”
Ek is seker jy was al in sulke omstandighede… op die rotslysie van die lewe. Of jy nou ‘n gelowige is, of nie. Of jy ‘n Christen is, of nie. Daar was al tye in jou lewe toe dit vir jou pikdonker nag was, selfs helder oordag. Toe jy ge-hang het tussen hemel en aarde. Menslike uitkoms was daar nie. Jou planne het opgeraak. Jou beursie dun. Jou gesondheid min. Geen vooruitsigte nie. As jy ‘n gelowige is het jy dalk gewonder : “Here, waar is jy vandag?!”
In sulke tye wil ons as mense soms met God onderhandel. “Here, as U my help, dan sal ek…” en wanneer die Here vir jou sê of wys wat nodig is om te doen, dan steek jy vier-voet vas, en deins terug, en stel eie voorwaardes. Die belangrike om altyd te onthou is dat jy en ek nooit passief is in ons eie nood nie. Wanneer die Here ons red (en Hy wil dit áltyd doen) vra dit ook iets van ons. Ons redding hang 100 persent af van God, maar dit vra ook van jou om die tak te los en om die rotslysies van die lewe te verruil vir die vryheid in Hom.
Dit was Israel se probleem deur die eeue. Hulle wou nie die tak los nie. In ‘n sekere sin was die lewensgevaarlike dun rotslysie waarop hulle hulleself dikwels bevind het ook hulle sekuriteit… God roep hulle uit Egipte om Hom te dien, en die heel tyd bevraagteken hulle die almag van God. Hulle twyfel in Sy beloftes en teenwoordigheid. Dit wat heel tyd in hulle harte geleef het kan opgesom word in net 2 woorde in die vraag : “Kan God?”
Op ‘n dramatiese goddelike manier red die Here hulle uit misrabele slawe-bestaan in Egipte. Hy maak Sy beloftes aan hulle bekend. Hy doen wonder-werke. Hy lei en versorg hulle, en voorsien op verskillende maniere deur die eeue. Maar hulle wou net méér hê, méér en méér, en altyd méér bewyse… hulle was nooit tevrede nie. Baie dikwels was hulle só vroom, so gods-dienstig, so kultureel en kultus-bewus… maar hulle was nooit tevrede met God nie. Sy manier van doen, en hoe Hy hulle wou red, was nie vir hulle genoeg nie.
Hoor wat (sê verse 18 tot 20) het Israel gedoen… “hulle het vir God kos gevra na hulle eie smaak, en uitdagend gevra : kan God hier in die woestyn kos gee!?” Die nuwe direkte vertaling : “hulle het God doelbewus uitgedaag deur kos te vra wat hulle begeer… hulle het hulle teen God uitgespreek, en gesê : ‘kan God ‘n tafel dek in die woestyn?!’”
Verbeel jou, nê… hulle probeer vir die Here voorskryf : “gee vir ons lekker kos soos die kos van Egipte, maar ons twyfel of U dit sal kan doen.”
Hulle is voorskriftelik en ongelowig oor God se vermoeë om vir hulle te sorg. Hulle kyk na die woestyn en na hulle omstandighede, en sê vir mekaar “dis te groot en te erg vir God – Hy sal nie kan nie.”
Aan die een kant het hulle al die bewyse van God se grootheid, Sy almag en voorsiening, en aan die ander kant sit hulle met hulle twyfel en ongeloof en totale mispersepsie van wie en wat God is… In vers 20 sê hulle : “daar was ‘n tyd toe God water uit ‘n rots laat vloei en spruite laat stroom het”, en in dieselfde asem vra hulle “maar sal Hy ook brood kan gee, en vleis aan sy volk kan voorsit?” Vers 17 – “hulle het aangehou om só teen God te sondig”, en vers 21 en 22 – “toe die Here dit hoor het Hy kwaad geword… Hy het ‘n vuur teen hulle laat brand en Sy toorn teen hulle laat woed… omdat hulle nie op God vertrou het, en nie op Sy hulp staat gemaak het nie.”
Waarop vertrou jy? Heeldag, elke dag, en in alles? Op wie vertrou jy?
Ons moet ophou om God teen Homself af te speel…
Die God wat ons roep om Hom te dien, die God van die Skepping, is nog steeds die Here van die heerlikheid en die Koning van die konings. Hy doen nog steeds alle dinge wat Hy nog altyd gedoen het… Hy is wie en wat Hy is.
Israel was sonder geloof, vergeetagtig en dwaas. Die mense wat gesê het hulle is God se volk. Hulle was soos Thomas wat wou sien en voel voordat hy glo.
Kom, dink ‘n bietjie mooi vanoggend… hoeveel keer het God al berge in jou lewe geskuif? Hoeveel keer het Hy al die sluise van Sy hemel oopgemaak en Sy manna oor jou laat reën? Jy kan nie stry nie – Hy het jou al deur baie woestyne gelei! Hy het al in baie krisistye die lig van Sy genade vir jou laat deurbreek. Sy genade laat jou behoue bly. Al baie keer het Hy storms in jou lewe stil gemaak, en bewys dat Hy God is… Ons vergeet dit maklik. As vandág se moeilikheid opduik vergeet ons gister se genade. Twyfel laat ons maklik vra : “kan God?”, terwyl Hy al só dikwels bevestig het dat Hy kan.
Hy is groter as enige versperring in jou lewe. Hy les bó álles jou geestelike dors en stil jou geestelike en emosionele honger. Aan Hom behoort die mag in die hemel en op aarde.
Romeine 4:21 – “God het mag om te doen wat Hy belowe het.”
Numeri 23:19 – God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg of van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nié doen nie, iets belowe en dit nié uitvoer nie.” Job 42:2 – “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan doen wat U besluit.” Jeremia 32:27 – “Ek is die Here, die God van alle mense. Is iets vir My onmoontlik?” Matteus 28:18 – “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” Efesiërs 3:20 – “Hy wat deur Sy krag in ons werk kan oneindig méér doen as wat ons bid of dink.”
Ons het ‘n geduldige en liefdevolle God. Hy sal aanhou om jou lief te hê en om Sy werk in jou lewe te doen. Wanneer die wêreld sy hande saamslaan in verwarring en onsekerheid, en mense vir mekaar vra : “Kan God?”… moet jy en ek weet en uitroep : “Ja! God kán!” Wanneer alle vorme van moraliteit in die wêreld vernietig word, en geweld daagliks eskaleer, en ekonomieë in duie stort, en die kerk kwyn, en die bose eskaleer, en onsekerheid dreig om alles en almal te oorweldig… staan jy en ek gereed om te antwoord : “God kan!” en“God hét!”
Ons almal wonder soms oor God. Sommige mense wonder ‘n leeftyd lank. Dit maak God nie minder wie Hy is nie, en dit maak Hom nie minder lief vir jou nie… Iewers lê iemand wat terminaal siek is en glad nie in God glo nie. Iewers het iemand sy werk verloor en wonder oor die doel van alles. Iewers het ‘n gesin nie kos om te eet nie, en word geloof ‘n skaakspel met God… iewers op die smal rotslysies van die lewe… Dán is dit beter om te hoop op hierdie God wat jy dalk nog nie ken of dalk nie nou kan sien nie, as om glad nie te hoop nie. Gee God die voordeel van jou twyfel. Gee vir Hom jou lewe.
In ‘n donker kerker onder die glimmende oë van ‘n trop leeus weet die bewende Daniël dat God kan.
In die vuur-oond van die magtige wêreldheerser Nebukadnesar ontdek Sadrag, Mesag en Abednego dat God kan.
In die klein dorpie Sarfat ontdek ‘n arm weduwee ná 3 jaar van wag, en bid en hoop dat God kan.
Op die stormsee, in die stikdonker nag, in ‘n klein vissersbootjie van hout ontdek die dissipels God kan.
Ek weet van dae en tye in my eie lewe toe ek getwyfel het, gebid en gewonder het… ook tye toe my eie menslike onvermoeë en sonde my aangekla het, en in die steek gelaat het… leeus en golwe en vuur en berge en dieptes waardeur ek elke keer kon ontdek God kan… tye waarin nét die grootheid van God en Sy teenwoordigheid my gered het. En vandág weet ek meer as ooit dat God kan! Deur genade herinner Sy Gees my dat “Hy kan” juis omdat ek nie kan nie.
Die Woord herinner ons vanoggend om te onthou. Onthou wat die Here gedoen het! En soek na dít wat die Here gedoen het… dit is bakens van hoop op jou lewenspad. Laat Sy Gees toe om jou te herinner. Laat Hom net toe om jou te leer om Hom te vertrou. Kyk terug op jou lewenspad en jy sal sien die Here kan, en kyk vorentoe en weet Hy sal.
Daar is die storie van ‘n ou oom wat vir die eerste keer vliegtuig gery het. Sy vriende was baie nuuskierig om te hoor hoe het dit gegaan en of hy dit geniet het. Die oom het geantwoord : “wel, dit was nie so sleg soos ek gedink het dit gaan wees nie… ek het maar heeltyd tydens die vlug gestaan, want ek was bang om my volle gewig neer te sit.”
Dit is hoe ons ook soms dink oor God se beloftes. Ons sê ons glo dat Christus ons red, dat ons sondes vergewe is, en dat die hemel ons bestemming is, maar ons sukkel om God op Sy Woord te vat wat ons lewe van elke dag betref. Ons is soos die oom wat in die vliegtuig bly staan omdat ons sukkel om God met die volle gewig van ons lewe te vertrou. Ons laat sélf toe dat twyfel en vrees en onsekerheid ons lewe regeer.
Ek onthou my eerste vlug van Johannesburg na Kairo in Egipte… Terwyl jy deur die terminale na die vliegtuig stap is al jou sensore bewus van wat gebeur. Dis asof die wet van swaartekrag jou op moederaarde wil vashou. Treetjie-vir-treetjie lig jy jou lyf teen die vliegtuig se trappies op, jy stap deur die ingang, en gaan sit in die gemaklike sitplek, en begin ontspan.
Wanneer alles gereed is beweeg die vliegtuig na die aanloopbaan en begin in die reguit baan indraai. Vir ‘n rukkie staan die vliegtuig stil, en dan begin die spoed elke sekonde vermeerder tot ongeveer 250km/h, en dan lig die neus op in die naghemel bokant Gauteng.
Die swaartekrag waarmee jy in die vliegtuig ingeklim het wil dit steeds aftrek aarde toe, die volle 200 ton daarvan. Maar nou is daar ook ‘n ánder wet wat intree téén die wet van swaartekrag, naamlik die wet van aerodinamika en spoed… Nou, ek weet niks van aerodinamika nie, en ek het ook nie met my eerste vlug daaroor gedink of omgegee nie, want die ervaring was net besonders. Ek kon terugsit en ontspan. Die vliegtuig se ruimte was my ruimte, die oorwinning was my oorwinning, die spoed was my spoed, al die wonderlike moontlikhede was myne omdat ek binne-in die vliegtuig was…
Ons hoef nie Teologie te verstaan om te weet dat God kan nie. Al wat nodig is is dat jy jouself aan Christus oorgee en Hom vertrou. Jy is net so sterk soos dit waarin jy jou vertroue stel. As jou vertroue in Christus is, is Sy krag tot jou beskikking, en kan jy rus in Hom, in Wie Hy is en in waartoe Hy in staat is… Bring jou vrede en jou onvrede, jou drome en ideale, jou kommer en vrese, jou nagmerries, jou vrae en twyfel… bring dit na Jesus se voete… want God kan!
Psalm 78 : 12 – 20 (Nuwe Direkte Vertaling)
12 Voor die oë van hulle voorouers
het Hy wonders gedoen in
Egipteland,
op die vlakte van Soan.
13 Hy het die see oopgekloof en hulle
laat deurtrek;
Hy het die water laat opdam soos
‘n wal.
14 Hy het hulle met ‘n wolk gelei
bedags,
en die hele nag met die lig
van vuur.
15 Hy het rotse oopgekloof in die
woestyn
en hulle baie laat drink,
asof daar ‘n vloed was.
16 Hy het strome uit die rotswand laat
vloei,
en water laat afloop soos riviere.
17 Maar hulle het steeds voortgegaan
om teen Hom te sondig,
om in die dorre streek
teen die Allerhoogste opstandig
te wees.
18 Hulle het God doelbewus
uitgedaag
deur kos te vra wat hulle begeer.
19 Hulle het hulle teen God
uitgespreek;
hulle het gesê:
“Kan God ‘n tafel dek in die
woestyn?
20 Kyk, Hy het ‘n rots geslaan
en water het uitgestroom,
spruite het gevloei.
Sou Hy ook brood kon gee
of vleis voorberei vir Sy volk?”
Baie welkom aan elkeen wat inskakel by hierdie erediens-ontmoeting.
Dit is steeds ‘n voorreg om op hierdie manier saam te wees rondom die Woord van die Here. Hy sê waar mense in afhanklikheid en in vertroue voor Hom kom staan is Hy self by hulle teenwoordig.
Ek wil jou hiermee uitnooi om nou saam stil te word en toe te laat dat die Heilige Gees jou aandag en gedagtes vir ‘n paar minute vashou om te hoor wat God vandag vir jou wil sê deur Sy Woord…
Kom ons bid saam… Here, ons het U nodig. Daarom buig ons in afhanklikheid voor U, die begin en die einde van alles. Ons bely dat U die Lewende God is, en die Bron van alles wat goed is. Here, laat ons die stem van U Lewegewende Gees hoor wat ons roep om na U toe te kom en na U te luister. Leer ons om in die voetspore van Jesus Christus te volg en so aan U gehoorsaam te wees. U is die weg, en die waarheid en die lewe.
Here kom deur U genade en kom dek vir ons ‘n tafel waar ons kan aansit om U liefde en sorg en getrouheid te geniet. Maak ons gehoorsaam om nie moedeloos te word nie, maar om na U stem te bly luister. Laat ons ontdek dat U ons reeds gevind het. Ons eer U want U is heilig en ewig. Amen.
Kom ons word saam stil in gebed voor die Here, met die volgende woorde as die belydenis van ons harte :
Ek glo in God die Vader….
Here, dankie dat die tafel wat U vir ons dek juis ‘n tafel is van oorvloed en van voorsiening. Dat ons vanoggend deur die geloof in ‘n verhouding met U kan wees, en daarom vrede kan hê omdat ons veilig is in U.
Here laat ons daarom nie fokus op die woestyne rondom ons nie, maar help ons om te fokus op U liefde en op U teenwoordigheid by ons. Help ons om te leef soos mense wat weet dat U God is. Amen.
EREDIENSE
Nuutste Preke
ABBA Vader
Wat is die een herhinnering van jou pa wat jou altyd sal bybly? Dalk ‘n gesprek, iets wat hy gesê het of iets wat julle saam gedoen het?
Die Hoëpriester van ‘n nuwe verbond!
Ds Org van der Watt preek uit Hebreërs 8:1-13
Hongersnood
Het jy al ‘n tjek van ‘n miljoen rand gesien? As jy het is jy baie gelukkig… Stel jouself voor – ‘n getekende tjek ter waarde van R1 miljoen, gewaarborg, wettig , geteken deur een van die bekendste biljoenêrs ter wêreld.
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


