Wat is Kerk?
Ds Ulrich Ohlhoff - 10 Mei 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Wat is Kerk?
Skriflesing Lukas 24:36-49
Wat is kerk is ‘n vraag wat al vir eeue deur verskillende teoloë geantwoord is. Dit is ‘n vraag wat vandag weer baie sterk gevra word. Wat is kerk en hoe lyk kerk tydens ‘n pandemie? Hoe lyk en funksioneer kerk in ‘n grendeltyd? Vir my om die vraag te antwoord het ek weer gaan kyk hoe die kerk oorspronklik begin is. Die beginpunt vir my is op pinksterdag na Petrus gepreek het en 3000 mense tot bekering gekom het. Die kerk het daardie dag begin, maar wat het voor dit gebeur? Hoe het dit gebeur dat Petrus opgestaan en so kragtig gepreek het?
Ek wil jou uitnooi om vanoggend jouself te verbeel jy was ook ‘n dissipel en ons gaan terug in tyd. Jy het onlangs Jesus sien sterf aan die kruis, jy was baie hartseer daaroor en het nie heeltemal verstaan hoekom dit moes gebeur nie. Drie dae later het jy egter van die beste nuus van jou lewe gekry. Jesus het uit die dood opgestaan en het nou al ‘n keer of wat sommer skielik aan julle verskyn!! Ons het vanoggend een van hierdie stories gelees. Maar ten spyte daarvan is jy steeds onseker oor wat nou moet gebeur. Dit is asof die verwagtinge wat jy van Jesus en as dissipel van Hom gehad het eintlik nou tot niks uitgeloop het nie. Wat moet jy nou eintlik doen? Waaroor gaan jou lewe van hier af gaan? Jy weet al die dissipels is eintlik maar onseker. Petrus het intussen besluit om terug te gaan na sy vorige beroep en vang weer vis, saam met van die ander dissipels. Kan dit al wees? Kan ons maar net terug gaan na ons lewe voor Jesus dit kom aanraak het? Moet ons nie nou anders leef nie? Moet ons nie die koninkryk wat Hy so gereeld van gepraat het soek en bou nie? En dit is in hierdie denke wat jou aan die woorde van Jesus herinner, die laaste keer wat Hy aan julle as dissipels verskyn het. Ek sal die gawe wat My Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly, totdat julle met krag van bo toegerus is.
Daar was ‘n baie onseker en tussentyd van Jesus se opstanding tot en met Sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Ons is nou in daardie selfde tyd en miskien met die inperkings en die afwesigheid van normale gemeente aktiwiteite en eredienste ervaar ons tog iets daarvan. ‘n Tyd waar ons moet wag vir iets wat kom, vir iets om weer te begin gebeur. En ek dink daarom is dit belangrik om vanoggend weer herinner te word aan hierdie tyd waarin die dissipels hulle bevind het.
Ek glo ons moet ook soos hulle weer opnuut wag op die Heilige Gees. Ons moet wag op die Here wat vir ons leiding gee oor wat om volgende te doen. Ons is nou in ‘n tyd waar ons onsself moet voorberei vir Pinkster. ‘n Tyd waar jy erns moet maak om jouself ontvanklik te maak vir die Heilige Gees. Ek glo dit is die beginpunt van die kerk in alle tye en ook nou vir ons.
Johann Meylahn skryf in sy boek Church emerging from the cracks dat kerk die plek is waar die hemel die aarde ontmoet. Kerk is ‘n spasie in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Ek wil vanoggend dit uitbrei om te sê kerk is die spasie waar God mense ontmoet, waar mense verander deur steeds in hierdie wêreld te leef, maar nie meer vir hierdie wêreld nie.
Indien ons hierdie stelling ernstig opneem, dan sien ons kerk kan enige plek op enige tyd gebeur, want dit is ‘n ontmoeting tussen God en mens en dit beteken kerk kan ook wees waar net jy en God mekaar ontmoet. Dit is vir hierdie rede dat Paulus skryf ons liggame is ‘n tempel van God. Ons ligame word ‘n kerkgebou, wanneer God ons in ons liggaam ontmoet, en wanneer gebeur dit? Wanneer ons die Heilige Gees in ons lewe toelaat, wanneer ons soos Galasiërs 5 vir ons sê ons lewe deur die Gees laat beheer.
Sien want as kerk ‘n ontmoeting tussen God en mens is, behoort dit uit te loop op God se koninkryk wat in daardie ontmoeting ‘n werklikheid word. Eers vir jouself, maar dan vir die rondom jou, want soos jy deur die Gees begin leef, bring jy die kerk na ander toe. Bring jy die Koninkryk na ander toe. As ek en jy en nog ‘n klomp ander dit doen begin ons saam kerk wees, begin ons een vir een aanmekaar verbind word om saam in hierdie wêreld God se Koninkryk te bring deur lig vir die wêreld te wees.
Ek hoop ons gaan hierdie jaar ‘n wonderlike pinkster beleef, waar jy opnuut weer die Heilige Gees sal toelaat om jou lewe te beheer en geesvervuld sal leef! Die goeie nuus is egter dat jy nie vanoggend soos die dissipels hoef te wag nie. Jy kan vanoggend al hierdie keuse maak en die Heilige Gees beheer oor jou lewe gee, want die Heilige Gees is reeds teenwoordig in ons lewens, ons weet die Heilige Gees is reeds uitgestort. Indien ons deur die Gees leef is ons kerk. Daarom kan ons die skuif maak om nie meer kerk te hou, kerk toe te gaan nie, maar kerk te kan wees! Ons kan dit enige oomblik en plek wees, want die Gees is in ons! Ons moet net die beheer oorgee aan Hom en bewus wees van Sy stem en wil in ons lewens. Indien ons dit doen is ons kerk. Ek glo ons moet onsself nou gereed maak om skuiwe te maak in hoe ons kerkwees verstaan, sodat ons in hierdie wêreld regtig kerk kan wees! Mag jy vandag jou lewe oorgee aan die Gees om kerk te wees.
Amen
EREDIENSE
Nuutste Preke
Graad 4-6, Sondag 23 Augustus 2020
Ander Gelowe.
Die video dien as inleiding vir die les. Daarna kan jy die res van die les deurlees en rustig die besprekingsvrae saam met jou gesin bespreek.
Dankbaar vir God se Voorsienigheid
Ds Org gaan voort met die reeks oor Dankbaarheid. Vanoggend se boodskap is oor God se Voorsienigheid uit Matteus 6:25-34
Dankbaar dat ek gered is
Ek wil vandag begin deur ‘n bekende bybelstorie te vertel, maar ek wil nie dit vertel as iets waarna jy net vandag luister nie.
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy

