Wat glo jy? Wat bely jy? Wat leef jy?

Kategese Graad 9-10, Sondag 10 Mei 2020, Ds Ulrich Ohlhoff

Welkom by vandag se les

 

Skriflesing:  Johannes 3:1-36

Nog inligting om jou te help.

Nikodemus 

Was ‘n lid van die Joodse Raad, was ‘n Fariseër en dus ‘n man met hoë aansien. Dit sou dus ‘n skande gewees het indien hy sommer openlik na Jesus toe gekom het. Daarom lees ons hy het een nag (griekse teks sê middernag) na Jesus toe gekom. Ek verbeel my hoe hy in die agterstraaitjies gesluip het om na Jesus toe te gaan. Daar aangekom klop hy aan die deur en verbeel jou net vir ‘n oomblik hoe dit moes wees vir Jesus en sy dissipels om te besef wie daar staan. Hulle nooi hom in en dan vind ‘n wonderlike gesprek plaas.

Uit water en Gees gebore 

Baie keer is hierdie woorde misbruik om op ‘n manier hierdie gesprek aan die doop te koppel. Dit is egter glad nie die bedoeling nie. Jesus maak dit vir Nikodemus baie duidelik dat ware lewe, die koninkryk van God, net moontlik is deur ‘n nuwe geboorte. Die geboorte deur die Gees. Aanvanklik verstaan Nikodemus dit nie, maar eintlik is dit baie eenvoudig. Jesus sê elke mens moet twee keer gebore word. Ons almal word ten minste een keer gebore – uit water – dit is die biologiese geboorte en is menslik. Maar as jy deel wil wees van die Koninkryk van God en die ewige lewe wil ontvang, moet jy weer gebore word, hierdie tweede geboorte is nie biologies nie, maar geestelik. Jou gees moet nuut gemaak word deur die Heilige Gees!

Die slang op ‘n paal

Nikodemus sukkel om hierdie te verstaan (al is hy die bekende leermeester van Israel). Om dit verder te verduidelik gebruik Jesus die beeld van Moses wat ‘n slang op ‘n paal gaan sit het (lees gerus Numeri 21:4-9). Hierdie beeld het enige iemand wat deur ‘n slang gepik is en daarna gekyk het se lewe gered. (Tot vandag toe is hierdie medici se embleem – sien onderstaande prent).

Jesus gebruik hierdie storie wat Nikodemus baie goed sou ken om vir hom te verduidelik wie Hy as Jesus is. Jesus gaan ook op ‘n paal gesit word en enige iemand wat na Hom kyk en in Hom glo sal ook lewe kry, ewige lewe!! (vers 15).

Lig

Jesus het as Lig na ons toe gekom. Alhoewel ons in ‘n donker wêreld leef, kan ons gered word van hierdie duisternis, maar dan moet ons die LIG liefhê! Hierdie lig het nie gekom ons te veroordeel nie, maar het uit liefde gekom sodat ons die lewe kan kry, maar dan moet ons in Hom glo!

Blydskap

Johannes word met blydskap vervul wanneer Hy Jesus se stem hoor en hoor wat Jesus alles doen. Jesus word meer en hy minder en dit maak hom baie bly!!

Johannes 3:36: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe!”

 

Besprekingsvrae

1. Hoe voel dit dat God vir jou so lief is dat Hy in jou plek kom sterf het?

2. Hoe behoort ons op hierdie liefde te reageer?

3. Wat dink jy op hierdie stadium oor belydenis van geloof?

Uitdaging vir die week

Vind uit watter belydenisskrifte het ons as kerk en stuur jou antwoord vir jou kategese leier.

 

Gebed

Here, ek wil my lewe vir U gee. Here ek weet ek is nie perfek nie en ek het al foute gemaak,ek is jammer daaroor! Vergewe my asb. Here dankie dat U vir my gesterf het. Here ek wil nou vir U leef, help my daarmee asb.

Graad 9 – 10

Vorige Lesse