Sondag 3 Mei 2020

Ds Org van der Watt- 3 Mei 2020

KINDERKERK

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

SONDAG 3 MEI 2020 

Skriflesing : Hand. 16:25-34

Die Weg tot Saligheid…?

Ons teks; liewe vriende; laat ons aansluit by ‘n buitengewone ‘kerkdiens’.

Die plek – ‘n nat en koue tronksel in die stad Filippi – met nét die maanlig wat deur die klein openingtjie teen die agterste muur in die een hoek val… êrens is die dou, wat op die dakke neerslag gevind het; besig om in een van die nou gange te drup…

Die tyd – Middernag. Die stilste uur van die dag… die donkerste uur van die nag… diéuur van die nag wat ‘n mens mos die verste van alles en almal af voel…

Die predikers – Eenvoudige manne; Paulus en Silas is hulle name… Apostels van die Here Jesus Christus, die gekruisigde…

Die koor/Die Voorsangers – hierdie éinste twee vervolgde apostels, wat tenspyte van hul beproewings en lyding steeds lofliedere tot eer van hulle God laat opruis in die verlate stiltes van die gevangenis…

Die gehoor – mede-gevangenes. Misdadigers. Wetsoortreders. Moordenaars en Rowers; almal wagtend op die volvoering van hulle vonis…

Hierdie vreedsaamheid word egter deur ‘n die eienaardigste en bonatuurlike gebeure versteur…

Want; terwyl hierdie seldsame erediens aan die gang is kom daar skielik ‘n aarbewing… só sterk dat die fondamente van die tonk stukkend geskud word… Die boeie van elke misdadiger kom los en val af… Die deure van tronkselle swaai oop en skielik is almal vry… los en vry om te gaan…

Die tronkbewaarder skrik egter wakker en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop staan, is sy eerste gedagte dat al hierdie gevangenes waarvoor hy verantwoordelik was nou ontsnap het!?

Hy as dit die geval is; besef hy skielik; is dit verby met hom, want sy owerstes is genadelose en ongenaakbare manne wat niks en niemand ontsien nie… en ook hy boet virhierdie fiasco… hulle sal hom beslis nie lig daarvan laat afkom nie… en hy trek sy sward met die doel om homself om die lewe te bring!!!

Paulus sien egter wat aan die gebeur is en keer hom en skreeu:

                 “Nee! Moet jouself nie kwaad aandoen nie! Ons is almal nog hier…”

 

Dis natuurlik pikdonker en stil na die skudding… en die bewaarder vra vir ‘n ‘lig’ – om beter te kan sien wat aan die gang is en natuurlik te sien wie dit is wat met hom praat… min wetende dat die ewige LIG dáárdie nag ook in sý lewe sou vlamvat…

Hy val voor Paulus en Silas neer terwyl hy in angs vra: “Wat moet ek doen om gered te word?”

Nou kan ‘n mens begin wonder wat alles in hiérdié vraag van die arme wag opgesluit lê?

Want; jy sien, waarskynlik het hierdie man méér van Paulus en Silas en hul prediking geweet as wat die Bybelteks vir ons sê… Hy sou ten minste geweet van die opskudding wat hulle veroorsaak het wat uiteindelik aanleiding gegee het tot hulle inhegtenisname… (brei uit: vers 16-24)

Hy het geweet dat dieselfde owerstes waarvoor hy op daardie oomblik só bang was hierdie twee mans swaar laat gesel het en dat hý; die bewaarder; pertinent opdrag gekry het om juis hiérdie twee mans só sorgvuldig moontlik te bewaar…

Voeg nou nog hierby hierdie bonatuurlike gebeure wat die trondeure laat oopswaai en alles wat eers vas was laat losruk het – en dat almal wat nou los is nogsteeds net daar is waar hy hulle gelos het voor hy aan die slaap geraak het… én die feit dat Paulus, wat alle rede gehad het om ‘n Romeinse offesier te laat begaan in sy selfmoordpoging, steeds sy lewe help red…

Dan kan ‘n mens verstaan dat dit ‘n baie verwarde en vreesgevulde man is wat voor hulle neerval en in doodsangs vra wat hy moet doen om  gered te word – waarskynlik nie net van tydelike en aardse vernedering nie, maar ook vanweë die feit dat hy in daardie nag met iets Groter as hy sélf tedoen gekry het…

Hy vra ook juis hierdie twee mans; want die slavin met die waarsêersgees het tog gesêdat hulle vertel van hóé mens gered kan word… maar; dat hy in daardie middernagtelike uur van aangesig tot aangesig met die lewende God wat Paulus en Silas verkondig het in aanraking sou kom het nog nie tot hom deurgedring nie…

Die antwoord wat Paulus hom gee is – sonder huiwering en in baie duidelike terme –

                       “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word…”

En dit is uit hierdie antwoord duidelik dat redding (in die eerste plek en) by uitstek ‘n saak van geloof is!

Geloof is egter ‘n ingewikkelde ding as jy eers daaroor begin dink – want; as goeie gereformeerdes glo ons dat die saligmakende geloof ‘n gawe uit Godshand is… niet iets is wat uit onsself kom nie, maar van God. Ef. 2:8 sê tog: “want, uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit is nie uit jullesélf nie, dit is ‘n gawe van God.”

 

Geloof is dus nie ‘n menslike prestasie nie. Dis ‘n gawe van God. Dit word deur die Heilige Gees in ons harte gewerk… Tog; en hier raak dit ‘n bietjie ingewikkeld; sluit dit nie ons verantwoordelikheid uit nie… Aan die tronkbewaarder – en aan elkeen van ons – kom die duidelike opdrag:

                                          “Glo in die Here Jesus Christus”

Dit gaan, met ander woorde; oor jou reaksie op die gawe van geloof – hóé jy reageer op die gawe wat jou aangebied word…

Slide: Kyk gou na hierdie prent… Dit is ‘n foto van die bekende skildery van Holman Hunt “Light of the World”. Dit is Christus wat uitgebeeld word waar Hy ‘n lantern vashou en aan ‘n deur klop… máár; let nou mooi op… wat is fout in die skildery?

As jy mooi kyk sal jy sien dat die deur géén knop of handvatsel aan die buitekant nie…Dit is nou nie omdat Hunt per ongeluk vergeet het om die knop in te verf nie… Hy wou juis daarmee ‘n baie belangrike teologiese waarheid aandui… waarskynlik geïnspireer uit die Openbaring teks wat lui, “Kyk, ek staan by jou deur en ek klop…”

Die betekenis daarvan is duidelik: Christus klop en Hy wag vir ons om oop te maak. Die deurknop sit aan die binnekant. Om oop te maak is ons verantwoordelikheid…

Nou ja, toe ek tot hierdie besef kom toe word ek só bietjie uit my gemaksugtigheid, my gemaksone oor my saligheid geruk… en ek begin myself die vraag afvra: “het ek nou al regtig die keuse van geloof uitgeoefen?”

Maar; die ander kant – het on sook vir mekaar vanoggend reeds gesê- is ook waar. Geloof is inderdaad ‘n gawe want; uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit is nie uit julle self nie, dit is ‘n gawe van God; sê dieselfde Paulus in Ef. 2:8…

Ons kan dus die skildery van Hunt dus ook kan verander en die deurknop juis aan die buitekant sit… Ook dan sou die skildery ‘n Bybelse waarheid illustreer! Want; om te kan glo in die waarheid van Christus; is ook aan ons gegee…

Dit sou dan uitbeeld dat die mens vanweë sy sonde agter slot en grendel sit… Hy kan dus homself nie bevry nie. Alle hulp om te ontsnap moet van buite kom – iets wat ook sterk in ons teks uitgebeeld word vanoggend… Die God wat ingryp en die tronkdeure laat oopswaai, is ook die God wat die deure van sonde wat jou vashou kom oopsluit!

Die impak van geloof word egter pragtig in ons verhaal uitgebeeld… Hier is ‘n man wat gekonfronteer is met die Almagtigheid van die God wat Paulus en Silas verkondig het. En in die lig daarvan vra hy wat hy moet doen om gered te word…

Mens kan nou natuurlik wonder wat agter die man se aanvanklike vraag skuil… vanuit sy benoudheid en angs vir die owerhede is sy vraag dalk bloot om vanuit die aardse ellendes bevry te word wat moontlik op hom wag na die aand se gebeure…

Maar; Paulus en Silas antwoord hom: “Glo in Jesus Christus en jy sal gered word!!!”

Daar is egter ook ‘n 2de belangrike element in Paulus se antwoord aan hierdie tronkbewaarder… Hy sê: “…glo in die HERE JESUS en jy sal gered word…” Die objek van die geloof is Jesus Christus! Hy wat gely het; gesterf het, begrawe is, ter helle neergedaal het; maar wat ook die magte van die doderyk oorwin het en opgestaan het uit die dood… Ons moet glo in Hom wat aan die kruis op Golgota van God verlate was; sodat ek en jy vandag in Sy ewige Lig en wonderlike teenwoordigheid kan lee fen wandel… In Hom wat die mag van sonde gebreek het en vir ons vryspraak, vergifnis, oorwinning en LEWE kom moontlik maak het!

En hierdie man neem toe die stap om die gawe van geloof, wat aan hom aangebied word, aan te neem. Hy maak as’t ware die deur van die binnekant af oop, want Christus het nou gekom en reeds die sleutel in die slot aan die buitekant kom draai!

Meer nog, hy en sy hele huisgesin het daardie aand tot geloof gekom en dit het hulle met VREUGDE gevul (v34).

Die VRUGTE wat by die bekering pas, kon mens ook dadelik in sy handelinge raaksien. Dáárdie aand nog het hy Paulus en Silas se wonde gewas en vir hulle ‘n ete voorgesit… ‘n Man wat voorheen dalk, soos sy owerstes, NIKS GOEDS tesê gehad het of géén goeie daad teenoor ‘n ander bewys het nie… se lewe is nou radikaal verander deur die gawe van geloof en die doelbewuste keuse om dit aan te neem en sy eie te maak!

Vra jouself vanoggend af: “Is my geloof die ware saligmakende geloof? Is dit ‘n geloof wat nuwe betekenis en inhoud aan my lewe gee? Is dit ‘n geloof wat my waarlik verbind aan Jesus Christus en die vrug daarvan laat uitspruit in my doen en late?” Soos in die geval van hierdie Romeinse offesier…  Wat moet ek doen om gered te word? Die antwoord is eenvoudig: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word.

Amen

EREDIENSE

Nuutste Preke

ABBA Vader

ABBA Vader

Wat is die een herhinnering van jou pa wat jou altyd sal bybly? Dalk ‘n gesprek, iets wat hy gesê het of iets wat julle saam gedoen het?

Hongersnood

Hongersnood

Het jy al ‘n tjek van ‘n miljoen rand gesien? As jy het is jy baie gelukkig… Stel jouself voor – ‘n getekende tjek ter waarde van R1 miljoen, gewaarborg, wettig , geteken deur een van die bekendste biljoenêrs ter wêreld.