Wat is die Waarheid?

Ds Ulrich Ohlhoff - 19 April 2020
Ek is die weg, die waarheid en die lewe

 

Inleiding

Wat is die waarheid? Vir duisende jare word die vraag al gevra; wat is die waarheid? Filosowe het honderde boeke hieroor geskryf. Wetenskaplikes het verskeie wetenskaplike metodes ontwikkel om seker te maak hulle kom by die waarheid uit.  Baie braaivleisvure is bederf agv hewige debat en gestryery oor wat die waarheid is.

 

Mens sou dink dat dit vandag makliker is om te onderskei tussen die waarheid en ‘n leuen. Ons is immers die generasie wat die meeste inligting tot ons beskikking het en die maklikste toegang tot hierdie inligting het. Ongelukkig wil dit voorkom asof hierdie feit dit nie makliker maak om die waarheid van die leuen te onderskei nie. Dit maak dit net nog meer ingewikkeld.

 

Daar is hoofsaaklik twee redes. ‘n Baie groot deel van al die inligting is nie waar nie. Ons leef in ‘n tyd waar die grootste hoeveelheid fopnuus versprei word. Dit is vandag te maklik vir iemand om sy eie inligting te versprei, of dit waar is of nie.

 

Daarmee saam leef ons in ‘n post-modernistiese wêreld wat die konsep van relatiwisme erg bevorder het. Onder relatiwisme word verstaan dat waarheid nie absoluut is nie, maar verbind is aan elke individu. Elke mens moet vir hom of haarself hulle eie waarheid ontdek. Hierdie maak die soeke na waarheid nog meer gekompliseerd.

 

Wanner ons Johannes lees dan kry ons egter ‘n baie unieke verstaaan van wat die Waarheid is. In Johannes is waarheid nie ‘n stelling of ‘n teorie of ‘n opinie nie, dit is ‘n mens!! Jesus is die waarheid!!

 

Ons lees dit raak in hierdie bekende stelling wat Jesus oor Homself maak: “EK IS die Weg en die Waarheid en die Lewe.”

 

Vir Christene behoort die konsep of idee van waarheid dus eintlik eenvoudig te wees. Jesus is die waarheid!

 

Maar ongelukkig het fopnuus en relatiwisme nie die teologie en geestelike gesprekke of inligting vrygespring nie. Inteendeel dit is waar ek dit op die oomblik die ergste ervaar. Sien die gevaar in fopnuus lê nie vir my so sterk op ‘n artikel wat beweer daar is ‘n genesingsmiddel vir Corona ontdek nie, meeste mense sien deur daardie leuen. Die gevaar lê in wat mense alles nou oor God sê. Daar is basies vier hooftemas wat meeste van die geestelike boodskappe dek:

 

  1. Hierdie is God se straf.
  2. Jy sal deur God beskerm word – Psalm 91.
  3. Dit is nou die eindtyd.
  4. God soek jou aandag.

 

Alhoewel mens op ‘n eerste oogopslag nie dadelik fout gaan vind met baie van die boodskappe nie, sien ons dit wel raak as ons bietjie dieper gaan lees en kyk. CJ Langenhoven het immers gesê die beste leuen is 99% waar. Ons moet dus baie versugtig wees vir die 1% binne die boodskappe wat nie is nie.

 

Meeste van hierdie boodskappe is op een of ander manier manupilerend. Dit wil jou laat skuldig voel, dit wil jou bang maak en jou amper tot bekering dwing. IS dit waar van God? Is dit ‘n God wat jou so liefhet dat Hy vir jou gesterf het? Gesterf het, sodat jy juis nie gestraf hoef te word nie? Hierdie boodskappe is ook dikwels besig om een of ander seën te beloof wat net nie waar is nie. Julle ken die stuur aan 10 mense en jy sal goeie nuus ontvang – tipe boodskappe.

 

Daar is egter voorspoedboodskappe wat die rondte doen wat moeiliker is om as leuen raak te sien. Ek gaan een voorbeeld gee. Psalm 91 het die laaste paar weke baie die rondte gedoen, veral oor die vers wat sê geen siekte of pes sal jou tref nie. Die gedagte was dat God dus al sy kinders en gelowiges sal beskerm en ons sal nie siek word nie. Hierdie boodskappe ontvang ek terwyl 3 van ons lidmate siek is. Hoe nou gemaak? Kom ek wys vir jou die leuen uit. Ons kan nie die Bybel so gebruik of eerder misbruik nie. Jesus word 3 keer deur die Satan versoek (die Vader van leuens). Een van hierdie kere sê hy vir Jesus spring af by die tempel, die Bybel sê mos God sal jou beskerm en sy Engele Opdrag gee, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie. Raai watter Psalm gebruik hy?

 

Psalm 91.

 

Jy sien ons kan die gevaar staan om die Bybel te misbruik soos die satan gedoen het deur sommer net boodskappe aan te stuur, sonder om mooi daaroor te dink. God is nie ‘n God wat net voorspoed beloof nie, wat ons weerhou van alle siektes nie, indien dit die geval was, moet jy my asb laat weet wie van julle was nog nooit siek nie of het nog nooit jou voet teen ‘n klip gestamp nie. As dit is hoe ons met die Bybel wil omgaan, mis ons die punt. Ek gaan egter nie vanoggend hierop ingaan nie, want ek het in Desember oor Psalm 91 gepreek.

 

Baie ander beweer dit is nou die eindtyd. Ook hieroor gaan ek nie te veel sê nie. Ds. Org het ‘n baie mooi boodskap hieroor uitgestuur, maar eenvoudig gestel ons weet nie. Ons kan nie en niemand kan met absoluut sekerheid sê dit is nou die einde nie. Daar is geen manier, al doen wie ook al dit hoe oortuigend, om vandag of enige spesifieke gebeure aan Openbaring of die eindtyd te koppel nie. Die beste wiskundige somme of lyne wat getrek word kan nie met absolute sekerheid as die waarheid oorgedra word nie. Indien iemand maak of hulle kan, lieg hulle! Dit is regtig so eenvoudig.

 

Die laaste punt is oor God wat jou aandag soek. Hierdie is natuurlik waar. God wil altyd met ons tyd spandeer, maar wat is die leuen. Dink mooi oor wat die implikasies van hierdie stelling is in die konteks van ‘n pandemie. God is dus iemand wat so graag met jou tyd wil spandeer dat Hy ander mense deur  ‘n siekte sal laat ly en doodgaan. Dit klink vir my meer soos ‘n psigopatiese obsesiewe tienerliefde as ‘n volwasse God van liefde. Oordeel jy self.

 

Ons moet mooi dink oor wat ons van God sê en versprei in hierdie tyd en daarom gaan vanoggend oor die waarheid. Dat wat ons van God sal verkondig waar sal wees.

 

Vanoggend gaan oor die Waarheid, oor Jesus as die Waarheid!!

 

As ons mooi na die uitspraak van Jesus kyk sien ons die volgende:

  1. Die stelling begin met EK IS – wat natuurlik ons herinner aan God wat vir Moses gesê het EK IS wat EK IS. Jesus sê dus Hy is God.
  2. Die weg- Om mooi te verstaan wat Jesus hier bedoel is dit nodig om te verstaan hoe dissipelskap in Jesus se tyd  gewerk het. ‘n Dissipel het eerstens by ‘n Rabbi ‘n klomp kennis geleer, maar dit was nie die eintlike doel van dissipelskap nie. Die doel was om hierdie kennis prakties te begin toepas en in ‘n bepaalde manier uit te leef. As Jesus sê Hy is die weg, dan bedoel Hy ons moet Hom volg (soos enige dissipel sou). Wat egter hierdie stelling in hierdie konteks nog soveel beter maak is die waarheen? Dissipels het gewoonlik ‘n Rabbi gevolg om so goed as moontlik ‘n lewe te leef op aarde in gehoorsaamheid aan God se Woord. Jesus sê Sy weg is egter veel meer as dit. Dit is die weg na die Vader self. Dit is nie net die weg van gehoorsaamheid aan die Vader nie. Ons moet dus Jesus volg in hoe Hy geleef het. Ons kan baie hieroor sê, maar ek dink vandag is net twee dinge nodig. Liefde vir God en liefde vir jou medemens. Dit som Jesus se weg, Jesus se manier van doen op. Doen dit, leef dit.

 

  1. Waarheid– Jesus sê Hy is die waarheid. Hierdie sluit natuurlik baie aan by die weg. Die enigste weg na die Vader is deur Jesus te volg en sodoende is Hy die enigste Waarheid wat jou by die Vader sal kry. Daar is egter ook ‘n belangrike terugverwysing na die Ou-Testament. Deut 32:4 sê God is ‘n God van waarheid. Jesus maak dit dus weer baie duidelik dat Hy God is. God = waarheid, Jesus = waarheid, Jesus = God. Ons moet op hierdie waarheid, op God self, op Jesus self fokus.

 

 

  1. Lewe – Jesus is die lewe. Hierdie twee eerste stellings, Jesus as die weg en die waarheid, lei ons tot by die lewe. Jesus is die enigste een wat Lewe vir jou kan gee. Jy moet dit egter aanneem deur die weg en die waarheid, naamlik Jesus te volg. As jy dit doen sal jy lewe kry.

 

Ek wil op jou as gelowige ‘n beroep doen om van vandag net hierop te fokus. Die eindtyd, voorspoedboodskappe of wat ook al anders is nie van belang nie. Fokus jy daarop om Jesus te volg deur God en jou medemens lief te hê. As jy voel jy wil of moet ‘n boodskap stuur, laat dit dan wees oor God wat die persoon liefhet en vir Hom lewe wil gee, sonder manupilasie, sonder leëbeloftes. Net soos dit is, in sy eenvoudigste vorm. Dit is genoeg.

 

Mag jy vandag weer die lewe in Jesus ervaar, mag jy leer om Hom in Sy weg en Waarheid te volg.

Amen. 

EREDIENSE

Nuutste Preke

Gefokus op die Gees

Gefokus op die Gees

As jy vandag in jou lewe ‘n foto moes neem, hoe sou dit lyk? Is dit in fokus of is dit ‘n blur?

Pinkster Vrydag, 29 Mei 2020

Pinkster Vrydag, 29 Mei 2020

Paulus begin hierdie gedeelte in vers 10 met die woord “uiteindelik!” In werklikheid is dit ‘n uitroep waarmee hy bedoel : “die uiteinde van alles, of die slotsom van alles.”

Pinkster Donderdag, 28 Mei 2020

Pinkster Donderdag, 28 Mei 2020

Die Here is besig om met ons te praat oor ‘n geesvervulde lewe. In vers18 sê Hy “Laat die Gees julle vervul” Dit beteken dat jy die Gees van God toelaat…