Die Stil Lydende Kneg
Ds Gert Victor - 10 April 2020 (Paas Vrydag)DIE STIL LYDENDE KNEG
Goeie Vrydag 10 April 2020 – Ds.GD Victor
Skriflesing : Jesaja 53:7-9 en 1 Petrus 2:21-25
Die lewe bestaan uit seisoene… daar is winters en somers, lente en herfs, tye van voorspoed en teleurstelling, goeie en slegte tye. En dalk is ons geneig om te dink dat dit áltyd somer sal wees en altyd nét goed sal gaan. Ons is nie regtig goed voorbereid op negatiewe omstandighede nie…
Dikwels gee ons ook té maklike antwoorde op moeilike vrae. Ons is te gemaklik en gerieflik. Ons bou maklik ons sekerhede op sukses en geluk, op voorspoed, finansies, gesondheid, die moderne wetenskap, menslike intellek en tegnologie. Baie mense het ‘n happy-go-lucky uitkyk op die lewe. Ons het verseker báie méér nodig as ‘n voorspoed-Christus.
Dit is vandag Goeie Vrydag, en ons dink oor lyding. Dalk wil jy dadelik sê “ag nee! hoekom dít? Praat eerder met my oor die somer, oor goeie dinge en lekker tye. Vertel my hoe om die lewe te geniet. Kom ons dink oor dit wat sinvol en positief is.”
Dalk het jy duisende redes om positief te wees vandag. Jy is jonk, met baie ideale en drome. Die toekoms en die lewe lê oop voor jou. As jy kan kies kies jy sukses en voorspoed en vrede… ek dink ons sal dit almal eerder kies… Hoekom sal ons dan op 10 April 2020 wil hoor van lyding, dood en begrafnis? Kyk hoe lyk die wêreld rondom ons.
Voorspoed hou nie vir altyd in die lewe nie, en as jy jou hoop nét vestig op ‘n voorspoed-Christus, as dit ál is wat jy het, gaan jy baie alleen wees wanneer die winter en ontnugterings van die lewe jou tref. En dit kan gebeur wanneer jy dit die minste verwag.
Ons moet mekaar herinner hoe om ook te oorleef en te floreer in die winters van die lewe. Mekaar help om te weet : “As alles rondom jou in duie stort bly Christus jou hulp en krag”… Die ou bekende halleluja-lied sê dit vir my so mooi : “As vrede my pad deur die wêreld verlig, of as smarte dreig om my te verniel… dan antwoord ek vry, watter lot my ook tref… dit is wel, ja dit is wel met my siel”… ons moet mekaar help met dit. Om te weet dit is wel met my siel. Kan jý vandag regtig met oortuiging sê dat dit wel is met jou siel omdat Christus jou enigste hoop en redding is?
Daarvoor het ons méér nodig as maklike goedkoop antwoorde. Ja, meer as ‘n “voorspoed Christus”
Nêrens in die hele Ou Testament kry ons die Evangelie só duidelik soos in Jesaja 53 nie. Dit is só helder dat die Jood Rich Gantz aanstoot geneem het toe hy dit hoor, omdat hy gedink het dit is die Nuwe Testament. Ons kry hier ‘n detail beskrywing van wat Jesus vir ons kom doen het as die ware beloofde Messias.
Kom, dink ‘n bietjie – Wat is eerste ding wat jy doen as iemand jou beskuldig? … jy verdedig jouself. En as hulle jou vals beskuldig, dan verdedig jy jouself nóg méér. Maar Jesus was nie so nie. Hulle het Hom verhoor, vals beskuldig, mishandel en veroordeel, en Hy was stil, soos ‘n lam wat na die slagpale gelei word, en soos ‘n skaap wat geskeer word. Hy het Homself nie verdedig nie. Hy was stil, sagmoedig en nederig toe Hy geslag word. As Hy Homself moes verdedig en verontskuldig, het Hy nie gesterf nie, en was die hel ons voorland.
Drie keer hoor ons dit in vers 7… Hy was verdruk, geteister, beproef en mishandel… maar Hy het nie gekla nie. Hy was stil. Hy het nie gepraat nie. Hy het nie Sy mond oopgemaak nie.
Jesus het gely omdat Hy gely het vir ander. Sy dood bring lewe vir ander. Sy pyn bring vir jou en my genesing. Sy straf is die straf wat ons verdien. v.6 – “Ons het álmal gedwaal soos skape, maar die Here het ons almal se sonde op Hóm laat afkom.”
Die prentjie wat die Bybel van ons as mense skets is dat ons altyd soos dwalende verlore skape is. Ons is geneig tot sonde. Ons rebelleer en volg ons eie kop. Dis hoe ons is. Daarom moet ons altyd leer van berou en om terug te draai na God toe deur die Verlosser wat God vir ons voorsien het.
As ons nié terugkom nie is ons verlore in ons verlorenheid. Verlore in ons wonde wat nie wil genees nie. Dan word ons gestraf vir ons eie oortredings.
Ons is die verlore skape, maar Jesus, die leidende Kneg van God, kom staan as offer in ons plek om ons na God toe te bring. God lê ons en die wêreld se ongeregtighede op Jesus se skouers. En Hy het nie gekla nie. Hy was die stil Lam van God. Hy het nie Sy mond oopgemaak nie…
Ons leef vandag in ‘n wêreld vol lyding en onreg. ‘n Wêreld en samelewing wat in baie opsigte ontaard het. ‘n Wêreld wat die prys betaal vir ongeloof en ongeërgdheid. Jesaja sê “Hy het ons lyding op Hom geneem, en ons siektes gedra. Oor ons oortredings is Hy deurboor. Oor ons sondes is Hy verbrysel. Die straf wat vir ons vrede moes bring was op Hom. Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Dit is die Evangelie. Die stil lydende Kneg van God staan in ons plek. Ons het méér nodig as ‘n voorspoed ideologie.
Petrus skryf in sy 1ste brief…Gelowige volgelinge van Jesus Christus is vreemdelinge in die wêreld. Ons het ‘n lewende hoop en ewige erfenis deur dít wat Christus gedoen het. En te midde van beproewings en lyding moet ons heilig en gelowig lewe todat Jesus weer kom, en todat ons by Hom is.
In 1 Petrus 2:21-25 lees ons – “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in Sy voetspore kan volg. Hy het geen sonde gedoen nie, en uit Sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie. Toe Hy beledig is het Hy nie terug beledig nie ; toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan God wat regverdig oordeel. Hy het self ons sondes in Sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur Sy wonde is julle genees. Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na die Herder en die Bewaker van julle lewe.”
Die ouer garde sal die tweede vers van die ou beryming van Psalm 23 goed onthou : “En is ek soos ‘n skaap in doodsgevare, wat in die velde as ‘n prooi van wolwe gaan ; en moet ek in die doodsdal, diep en donker, van alle hulp ontbloot, in my alleenheid staan… dán nóg ken ek geen doodsvrees of verskrikking, omdat U staf my troos is en verkwikking.”
Die kruis van Goeie Vrydag sê daar is ‘n ander soort Verlossing. ‘n Ander soort Christus – Die Stil Lydende Kneg van God.
Ek wil jou aanmoedig om iewers tyd te maak om die volgende gedeeltes in die Bybel rustig deur te lees… gaan sit iewers waar dit stil is, of lees dit saam as gesin : Psalm 23 ; Jesaja 53 ; Johannes 10 en Openbaring 5.
Geseënd is jy, wat weet hoe afhanklik jy van God is,
want aan jou behoort die Koninkryk van die hemel.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Die Wonderwerk van jou Doop
Dalk ken jy die verhaal van die Hollander Corrie ten Boom en haar Christelike familie. Haar oupa Wilhelm te Boom het in 1844 naby Amsterdam
Oorlewing 101
Verbeel jouself vir ’n oomblik jy het gaan stap en so erg verdwaal dat jy in ’n woestyn opgeïndig het. Die bottel water…
Onselfsugtige Weerlose Lewe
Kom ons dink vir ‘n paar oomblikke oor weerloosheid. Hoe sou jy weerloosheid beskryf, en hoe dink jy daaroor?
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


