Ek verstaan nie Genade nie
Ds Ulrich Ohlhoff - 5 April 2020Ek verstaan nie genade nie. Hierdie is die refrein van ‘n liedjie wat Straatligkinders in my eerste jaar op universiteit uitgebring het. Vir ‘n teologie student wat studeer om genade te probeer verstaan het hierdie liedjie my baie laat dink.
Onse Vader ek’s lief vir Jou!
Sukkel ook soms om Jou te vertrou!
Ek verdien nie wat my toekom nie!
Ek verstaan nie genade nie!
Ek verstaan nie genade nie!
Ek wou probeer om God te verstaan, ek wou verstaan hoe Hy werk. Ek is nou al jare klaar geswot en op ‘n manier is ek nogsteeds elke dag besig met hierdie vraag, sodat ek iets van wie God is kan verwoord, sodat mense in hierdie wêreld in ‘n verhouding met Hom kan leef.
Vandag is palmsondag. Julle ken die storie…Jesus wat op ‘n donkie Jerusalem binnegery kom, waar Hy as Koning ontvang word. Waar ‘n skare jubel en juig oor hulle nuwe koning, hulle klere vir hom in die pad gooi, palmblare waai (van daar die naam, palmsondag). ‘n Wonderlike dag in Jesus se lewe, behalwe vir een ding…die mense verstaan nie hoekom Hy eintlik daar is nie. Hulle verstaan nie Sy genade nie. Hulle verstaan nie dat Hy ‘n baie groter prentjie in gedagte het as net hulle hier en nou nie. Hulle verstaan nie, dat Hy in hulle plek moet sterf nie. Hulle verstaan dit nie en dan kruisig hulle hom daarvoor. (Heel ironies ne?) Hulle wou eerder ‘n koning vir hulle hier en nou gehad het en nie ‘n ewige Koning nie.
Ons lees vandag uit 2 Korintiërs 12:6-10.
Paulus is hier aan die woord en vertel van ‘n worsteling wat hy deurgaan, ‘n doring in sy vlees. Iets wat ons nie weet wat dit is nie, maar iets wat ernstig was. Ernstig genoeg dat Paulus 3 keer die Here smeek om dit weg te vat. Die Here se antwoord aan Hom was: “My genade is genoeg vir jou…”. Wat is hierdie genade? Hoe lyk dit? Hoekom is dit genoeg? Is genade nie juis om die swaarkry weg te vat nie? Hierdie is die vrae wat by my opgekom het en dan begin ek weer besef, ek verstaan nie genade nie.
Daarom het ek verder gaan lees en soek om hierdie vrae te probeer beantwoord en hier is wat ek ontdek het. Paulus gebruik genade op verskillende maniere in al sy briewe, maar die primêre verstaan van genade by Paulus en reg deur die Nuwe-Testament is Jesus aan die kruis. Genade = ‘n Gekruisigde Jesus. Dit is deur hierdie liefdesdaad dat ons vrygespreek is en lewe gekry het en dit is die grootste genade wat enige iemand kan ontvang.
Jesus sê dit is genoeg vir Paulus.
Is dit genoeg vir jou?
Dit voel vir my of ons in ‘n tyd leef waar mense dink God skuld hulle iets. Waar ons as mense dink ons kan God gebruik vir ons behoeftes en begeertes, waar ons God kan manupileer om te doen wat ons wil, daar moet net genoeg mense op een tyd bid, of daar moet net aan een psalm vasgehou word, dan sal God jou seën en jou beskerm. Ons leef nog vasgevang in ‘n gedagte van seën en straf. Leef reg en God sal jou seën, leef verkeerd en Hy sal jou straf! Verstaan ons genade? Is dit werklik hoe God werk na Hy in ons plek gesterf het? Is ons nie maar soos die skare wat iets van Jesus wou gehad het, en as ons dit nie kry nie is ons kwaad?
‘n Vraag wat ek glo elke gelowige vir hulleself moet afvra is:
Glo jy vir wat God vir jou kan doen of vir wie Hy is?
Ek vermoed heeltemal te veel gelowiges glo ter wille van wat Hy kan doen en nie wie Hy is nie. Natuurlik hou die twee verband met mekaar. God is liefde en daarom is Hy lief vir ons. God is genade en daarom is Hy genadig met ons. Maar ons kan Hom nie ter wille van die dade dien nie. Dit is so goed soos iemand wat met iemand trou omdat hulle ryk is en nie vir wie hulle is nie.
Paulus kry ‘n antwoord van God af oor Sy genade wat genoeg is. Jesus aan die kruis. Hoekom is dit genoeg? Want niks meer is nodig nie. Jesus het self aan die kruis gesê dit is volbring. Ons wese is veilig in die ewige lewe deur God se genade. Ons het nie nodig dat God swaarkry weg moet vat nie, ons het nie nodig dat God ons verder moet seën met rykdom of gemaklikheid nie, Sy genade is genoeg. Dit is genoeg dat Hy reeds vir ons die ewige lewe gegee het. Niks meer is nodig nie. Is dit genoeg vir jou?
Miskien maak vandag nog nie vir jou sin nie en miskien is dit goed. My grootste ontdekking in my soeke om genade te verstaan, is dat ons dit nie hoef te verstaan nie, ons moet dit beleef. Dit is die ervaring van genade wat jou lewe verander. Dit is die ervaring van vryspraak en vergifnis wat jou anders laat leef. Dit is die gevoel van genade en liefde wanneer ons nou in hierdie week Jesus aan die kruis sien wat genade ‘n werklikheid in ons lewe maak. Ons hoef dit nie te verstaan nie, maar ons moet dit beleef.
Paulus het genade ervaar deur Jesus wat op die Damaskus pad aan hom verskyn het. Dit was genoeg vir hom vir die res van sy lewe, want hierdie ervaring van genade het by hom gebly. Ons ervaar elke dag genade, partykeer kyk ons dit mis. Partykeer vergeet ons van Jesus aan die kruis, wat opgestaan het en leef en lewe vir ons moontlik maak. Genade kan juis gesien word in die alledaagse lewe, wat God vir ons gee. Waar beleef jy God se genade?
Mag jy vandag weer God as ‘n Genadige en Barmhartige God leer ken, wat geduldig met baie Liefde vir jou wag.
Amen.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Vrede waar geloof vrees verdryf
Wat beteken “vrede” regtig? Vrede is nié ‘n oppervlakkige gemoedelikheid of welwillendheid ter wille van die vrede nie.
Wat die meeste saak maak vir God
Die afgelope week gesêls ons by ‘n geleentheid oor die jaar wat byna verby is. In baie opsigte was dit ‘n uitdagende jaar, en vir baie mense ‘n moeilike tyd.
Die Heilige Gees
Die afgelope week was ek in die oggendoordenkings besig om te fokus op wie God is. Ek het kortliks die drie persone waardeur God Hom aan ons geopenbaar…


