Die koninkryk van God is 'n skat
Ds Ulrich Ohlhoff - 15 Maart 2020Skriflesing – Matteus 13:44-50.
Jesus het bykans altyd die koninkryk van God aan Sy dissipels verduidelik deur gelykenisse (stories) te vertel. In Matteus 13:44-50 kry ons drie kort gelykenisse wat saam ‘n baie kosbare boodskap oor die Koninkryk van God aan ons wil oordra. Hierdie drie gelykenisse wil vir ons die vraag antwoord oor wie in die Koninkryk van God gaan wees en wie nie. Ons lei dit af na aanleiding van die derde gelykenis wat vertel word oor vissers wat ‘n treknet vol vis gevang het en dan die goeie vis skei an die slegte visse. Om te verstaan wie die goeie en wie die slegte visse is, is dit nodig om die eerste twee stories mooi te lees en daaruit af te lei wie gaan deel aan die Koninkryk en wie nie. Die eerste storie gaan oor iemand wat besig is om in ‘n land te werk. Terwyl die persoon skoffel ontdek hy ‘n skat. Hy is dan met groot blydskap vervul, gaan verkoop alles wat hy het, koop die grond en verkry so die skat.
In die tweede storie kry ons ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels, wanneer hy ‘n baie kosbare pêrel kry, gaan verkoop ook hy alles wat hy het en koop daardie pêrel. Uit beide verhale is dit dus duidelik dat wanneer iemand die koninkryk van God ontdek dit werklik ‘n baie groot skat is van baie groot waarde. Dit is so waardevol dat beide hierdie persone alles wat hulle het verkoop om dit te kan bekom. Die twee persone verskil egter heelwat in terme van wat hulle verdien het. Die man wat in die land gewerk het, was waarskynlik ‘n arm man, ‘n dagloner wat nie veel gehad het om te verkoop nie. Die handelaar daarteenoor was waarskynlik ‘n ryk man, wat deur sy handel heelwat besitting gehad het, heelwat voorraad gehad en ook hy gaan verkoop alles wat hy gehad het om die koninkryk te kan kry. Dit gaan dus hier nie soseer oor besittings en die afstand doen van rykdom nie, so waaroor gaan dit dan?
Die arm man was waarskynlik in ‘n sisteem gedompel waar hy deur die wat hom gehuur het uitgebuit was en hy eintlik amper as slaaf moes voortbestaan. Die ontdekking van die skat (die koninkryk) maak dit egter vir hom moontlik om uit hierdie sisteem te kan ontspan – want dinge werk anders in God se koninkryk. In God se koninkryk sal mense nie uitgebeuit word nie. Hy word deel van God se koninkryk deur dit aan te gryp met alles wat Hy het. Hy gee sy lewe oor aan God.
Die handelaar daarteenoor was aan die ander kant van hierdie sisteem en het waarskynlik baie mense uitgebuit deur sy handel. Hy het immers ‘n bestaan gevoer deur iets te koop en weer dit teen ‘n aansienlik wins te probeer verkoop. Wanneer hy egter die koninkryk ontdek, besef hy daar is nie iets meer waardevol as God se Koninkryk nie en daarom verkoop hy alles om dit te kan kry. Met ander woorde hy doen afstand van sy oneerlike bestaan om deel te kan word van God se koninkryk wat nie uitbuit nie.
Uiteindelik sal beide hierdie persone wanneer die treknet uit die water gehaal word deel wees van die goeie vis. Nie op grond van wat hulle gedoen het of wie hulle was voor hulle die skat van die koninkryk gesien het nie, maar oor wat hulle gedoen het toe hulle die Koninkryk ontmoet het. Hulle het hulle hele lewe, bestaan daaraan oorgegee. So behoort ek en jy ook God se koninkryk met alles wat ons is aan te gryp en ons hele menswees oor gee aan God.
God se koninkryk is soos ‘n skat, wat ons nie altyd sommer in die alledaagse lewe gaan raaksien nie, maar soos met enige skat moet ons dit soek. Jesus self het gesê soek allereers die koninkryk van God. Hierdie behoort dus ook ons eerste prioriteit te wees. Wanneer ons dan die skat ontdek, gaan dit niks help as ons dit net daar los nie, ons moet reageer. Ons moet dit ons eie maak en ons kan dit net doen deur onsself tot God te bekeer. Daarna kan ons deel wees van God se koninkryk en behoort ons hierdie skat te egbruik deur elke dag daaruit te leef. Hierdie skat is egter so waardevol dat ons nie dit vir onsself kan hou nie en daarom behoort ons dit met ander te gaan deel. Mag jy die waardevolle skat van God se koninkryk vandag in jou lewe ontdek en amg dit jou lewe verander. Mag jy deel word van SY Koninkryk waar dinge anders werk as die wêreld waarin ons leef.
Amen.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Skryf met jou tone in die sand
Vandag is “Belydenis-Sondag”. Dit is deel van ‘n lang tradisie wanneer jong gelowiges geleentheid het om belydenis te doen van hulle verhouding met Jesus Christus en..
Gelykenis van die Saaier – Sigbaarheid van die Koninkryk
Verbeel jou vir ’n oomblik die volgende land. ’n Land waar die regering sy eie burgers onderdruk. ’n Land waar daar belasting op belasting
Die gelykenis van die Saaier
Die laaste week of wat het die saaiboere in ons omgewing begin plant, of hulle is ten minste besig om gereed te maak om te plant. Die reën moet nou net kom

