Die Gelykenis van die Saaier - Sigbaarheid van die Koninkryk
Ds Ulrich Ohlhoff - 1 November 2020DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Die Gelykenis van die Saaier – Die Sigbaarheid van die Koninkryk
Sondag 1 November 2020 – Ds Ulrich Ohlhoff
Skriflesing: Markus 4:1-20
Verbeel jou vir ’n oomblik die volgende land. ’n Land waar die regering sy eie burgers onderdruk. ’n Land waar daar belasting op belasting op belasting gehef word. ’n Land waar mense se grond en eiendom op onetiese en onregverdige maniere gevat word. ’n Land waar armoede net vererger en vererger. ’n Land wat godsdienstig al meer agteruit gaan en minder en minder die Here dien. Kan jy raai van watter land ek praat?
Meeste mense sal raai Suid-Afrika en toegegee dit is inderdaad ook die geval in Suid-Afrika, maar ek het nie vandag in hierdie konteks in die eerste plek van Suid-Afrika gepraat nie. Ek praat van die eerste eeuse Israel. En ek het juis die agtergond kortliks geskets sodat ons sal verstaan in watter konteks Jesus se bediening plaasgevind het en meer spesifiek vir vandag se preek in watter konteks Hy die gelykenis van die saaier vertel.
Hoe het dit gebeur dat Israel hulle in hierdie posisie bevind het?
Hierdie situasie in Israel kan grootliks toegeskryf word aan drie vlakke van regering.
Die eerste vlak – Die Romeinse Ryk.
Antieke Israel het in die tyd wat Jesus geleef het, onder die Romeinse Ryk geval. Met ander woorde die Romeinse Ryk was die primêre regering. Hulle was nie baie besorg oor Israel nie, solank Israel in vrede met Romeinse owerhede gewerk het en hulle belasting betaal het. ’n Kwota van watter inkomste daar ook al in Israel was, moes direk aan die Keiser betaal word. Indien daar vrede was en belasting betaal was het Rome, Israel toegelaat om hulle eie wette te maak en hulle eie godsdiens te beoefen.
Die tweede vlak – Streeks regeerdes.
Rome het wel nog een vereiste gehad en dit was dat daar ’n tipe van ’n streeks regeerder sou wees wat namens Rome seker moes maak alles in die streek verloop volgens plan. Twee voorbeelde van hierdie tipe regeerders in Jesus se tyd was Herodus en Pilatus. Hulle het bykomend tot die belasting wat die Keiser aangevra het, ook belasting aangevra sodat hulle hulleself daarmee kon onderhou, maar eintlik sodat hulle lekker luuks kon leef.
Die derde vlak – Die plaaslike regering (Joodse Raad).
Laastens in Israel was daar die plaaslike regering, wat bekend was as die Joodse Raad en het hoofsaaklik uit die priesters, skrifgleerdes en ’n paar familiehoofde bestaan. Ook hulle het dmv offers by die tempel en tempelbelasting ’n verdere finansiële las op die volk geplaas. Hiermee saam het die tempel so korrup geword dat, soos julle weet Jesus die tempel moes reinig. Die tempel was nie meer besig om die doel en die funksie van ’n gebedshuis en opregte offers tot God te verrig nie, maar het ’n samekoms vir korruptes geword om die volk verder uit te buit.
Ek vermoed soos jy geluister het sou jy besef het dat ’n persoon wat ’n oes gehad het, maar ’n deel vir die Keiser moes gee, ’n deel vir die streeksregeerder en nog boonop ’n deel vir die tempel uiteindelik self nie veel oorgehad het nie. Hierdie het gelei tot die verarming van die mense (wat meestal landbouers was). Die wat hulle eie grond gehad het, sou in droeë jare nie hulle belastingverpligtinge kon nakom nie. Gelukkig sou een van die vlakke van regering hulle genadig wees, deur vir hulle ’n lening te gee. Die rente hierop het egter so hoog geloop dat hulle nie hulle skuld kon terug betaal nie en uiteindelik het hulle hulle grond verloor. Gelukkig sou die skuldeiser verder genadig wees deur die grond terug te verhuur aan die persoon. Ongelukkig moes die persoon nou sy gewone belastings betaal, maar bykomend nog huur ook. Die deel van die oes wat vir homself gehou kon word het dus kleiner en kleiner geword. Uiteindelik het meeste persone as dagloners of slawe vir wie ook al dan al hulle skuld moes afskryf gewerk.
Dit is dan hoofsaaklik met hierdie mense wat Jesus praat wanneer Hy die gelykenis van die saaier vertel. Vanoggend gaan ons luister hoe hulle hierdie gelykenis sou hoor en wat hulle deur die gelykenis sou verstaan.
Ons gaan dit vanoggend saamlees uit Markus 4:1-9.
Ons het laasweek gehoor hoe die gelykenis van die saaier, ons herhinner dat ons reaksie op die evangelie reg moet wees. Ons lewensgrond moet gereed wees dat die Koninkryk in ons kan groei. Vanoggend fokus ons egter op die sosio-historiese konteks van hierdie gelykenis.
Jesus het gelykenisse vertel om die Koninkryk van God aan Sy hoorders bekend te maak. Die Koninkryk van God wat anders gefunksioneer het as die van die bestaande regerings.
Wanneer Jesus dan hierdie gelykenis vertel en dit begin deur te sê luister hier, eendag was daar ‘n saaier, moet ons onmiddelik besef wie hierdie saaier was. Dit is iemand wat probeer het om ’n bestaan te maak. Waar gaan saai hy? Nie meer net in goeie vrugbare grond nie, want hy het dit reeds verloor, hy huur waarskynlik al minder goeie grond. Daarom wanneer hy saai val van die saad op die pad, ander tussen klippe en ander in dele waar die onkruid buite beheer is, gelukkig is daar ook nog hier en daar goeie grond tussen hierdie dele waar hy moet sukkel. En dit is met hierdie dele wat hy wel ’n oes kan kry en ’n bestaan kan voer. Maar wat is die vergelyking? Wat probeer Jesus hierdeur sê? Wat hoor die mense wat na Hom luister?
- Die saad wat op die pad val
Daar is saad wat op die pad val. ’n Pad wat iets simbolies van die romeinse ryk verteenwoordig wat reg deur die ryk handelsroetes gevestig het, soldate op gemasser het, en belasting deur ingevorder was. Die saaier saai en ‘n deel van sy saad val op die pad, met ander woorde ‘n deel van sy oes moet direk na die romeinse ryk gaan. Wat hierdie nog verder bevestig is die voëls wat kom en die saad oppik. Die Romeinse ryk wat se bekendste simbool ’n voël is. Die voëls, die tollenaars kom en vat ‘n deel van die oes as belasting vir die Romeinse ryk en die handelsnetwerke van die Ryk.
- Die saad wat op die klipbanke val
Nog ’n deel val tussen die klipbanke. Hier word die klipbank die simbool van die plaaslike regering wat ook weereens hulle deel van die oes as belasting wil eis. Hulle is medeverantwoordelik vir die verlies van goeie grond en nou moet die saaier tevrede wees om te saai, selfs daar waar daar klippe is.
- Die saad in die onkruid
Die derde deel van die saad val tussen onkruid. Onkruid wat gereeld in die Ou-Testament gebruik was as simbool vir die heidene. Maar in hierdie geval verwys dit na die tempel wat onrien geword het. Wat soos onkruid die suiwer evangelie en Koninkryk van God verstik. Die tempel wat korrup geword het en ook hulle deel van die oes eis, maar nie hulle kant bring om te sorg vir hulle eie mense nie.
Die saad wat elke keer verlore gaan is dus simbolies vir die oes wat deur ‘n saaier verloor word aan die verskeie belastings wat betaal moes word en ekonomiese uitbuiting van die mense.
Tot en met hier sou die wat na Jesus geluister het besef het dit is presies die situasie waarbinne hulle hulleself bevind, maar dan kom Jesus, soos amper altyd met sy gelykenisse met ’n verassing.
- Die goeie grond.
Gelukkig is daar ’n deel van die saad wat nog in vrugbare grond val en wat wel ’n oes oplewer. ’n Oes wat kan vermenigvuldig, 30, 60 of hondervoudig.
Daar is ‘n deel van die oes wat wel behoue kan bly vir die saaier, maar nou is die vraag wat gaan die saaier daarmee doen? Jesus kom en sê in God se koninkryk moet hierdie met ander gedeel word, sodat almal genoeg kan hê. God se koninkryk raak dus sigbaar wanneer mense vir mekaar sorg en vir mekaar omgee. Wanneer elke saaier saamkom en vir mekaar sorg, sal die oes vermenigvuldig, sodat God se Koninkryk daardeur sigbaar kan word. Met ander woorde alhoewel daar net uitbuiting in die wêreldse regerings is, is God se Koninkryk wat nie uitbuit nie, maar vrygewig deel en vir mekaar gesorg word.
Ek glo dat meeste alreeds baie lyne getrek het van antieke Israel na die Suid-Afrika van vandag. En daarom glo ek dat hierdie gelykenis vir ons net so relevante boodskap het as vir die persone wat die eerste keer daarna geluister het. God se koninkryk word sigbaar wanneer ons vir mekaar sorg en vir mekaar omgee.
Wanneer ons ten midde van die eff se belaglike uitsprake, die polisie wat korrup is, die anc wat wette wil maak om eindom te kan bekom sonder vergoeding, vir mekaar sorg en omgee, dan word God se koninkryk in hierdie wêreld sigbaar.
Wanneer korruptes kom en velde afbrand en mense kom afbreek, dan gee ons vrywilliglik en bou weer mense op. Dit is die verskil tussen die wêreld en God se Koninkryk. Suid-Afrika het nou meer as ooit nodig dat God se Koninkryk sigbaar sal word, dat mense sal sien daar is ’n ander manier van doen en ’n ander manier van regeer, regeer deur te dien en nie uit te buit nie.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Verloën jouself
Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …
Tussen-tyd-mense roep Maranatha!
Ds Gert preek uit Matteus 34:36-44
Bedaar en erken dat Ek God is
Ds Ulrich preek uit Psalm 46 en Handelinge 7:54-60
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy