Geesvervuld in die Lig
Ds Gert Victor - Pinkster - 24 Mei 2020
DANKOFFERS
Elektroniese Oorbetalings:
NG Kerk Harrismith
ABSA (334633).
Tjekrek. Nr. 910580019
Pinkster 2020 – Geesvervuld in die Lig
Skriflesing: Efesiërs 5:8-14
Volgelinge van Christus is anders as mense wat Jesus nie ken nie. Ons sien dit in die eerste sewe verse van Efesiërs 5. In vers 1 kry ons die opdrag om soos Jesus te wees. Vers 2 sê ons moet liefhê soos wat God liefhet. In verse 3 tot 7 sien ons ons moet die wêreld se manier van doen agter laat.
1 Petrus 2:11 sê Christene is vreemdelinge en bywoners hier op aarde, en kan nie leef soos mense van die wêreld, en dink en doen wat die wêreld doen nie. Christus-volgelinge is nie deel van die wêreld nie. Wanneer God jou deur Sy genade red verlos Hy jou van jou ou sondige lewe. Jy kry dan deel aan die nuwe lewe in Christus.
En tog is daar altyd die versoeking om te wees soos die wêreld is. Die toenemende invloed van sosiale media, advertensies en die vermaaklikheids-wêreld plaas druk op gelowiges om te doen wat die wêreld doen. Soms is dit jou naby-mense, mense vir wie jy lief is, wat jou probeer oorreed om te wees soos hulle is. Ook is daar versoekings uit ons eie binneste (menslike natuur), daai stemmetjie wat sê : “Ag, kom nou, dis nie so erg nie – almal doen dit.” Daar is altyd die deel van jou menslike mondering wat wil weerstand bied téén dit wat reg is. En tóg wil die Gees van Christus in jou jou die heeltyd verander om te wees waartoe God jou gered en geroep het.
Galasiërs 5:16+17 – “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheer word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar. Daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.”
Romeine 12:1+2 – “Ek doen ‘n beroep op julle o.g.v. die groot ontferming van God. Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die kern van julle godsdiens. Moenie aan die sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle die wil van God kan onderskei, dit wat goed en aanneemlik en volmaak is.
Ons leef vandag in ‘n harde, donker, ongenaakbare wêreld wat in baie opsigte gedomineer word deur onreg en sonde. En uit hierdie donker het God mense kom red. Mense van wie Hy verwag dat hulle ánders sal wees. Hy gee aan mense wat Hy kom red die mag en vermoë om ánders te wees en te leef.
Kom ons kyk na v.8 – Paulus sê wat ons éérs was, en wat ons noú ís. “Vroeër was julle die ene duisternis”… Jy en ek was slawe van sonde. Ons het niks anders geken nie, wou niks anders hê en niks anders doen nie. Ons was verlore en verblind deur die god van hierdie wêreld… “maar nou, in die Here, is julle lig”. God verander ons in mense van die lig… om nie meer langer in die donker te leef nie. Romeine 13:12-14 – “lewe welvoeglik soos dit in die daglig hoort. Die nag is byna verby, en dis amper dag. Hou op met die werke van die duisternis. Neem die wapens van die lig op. Julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus.”
Deur die genade van God word ons aangeraak, gered, vrygemaak en verander.1 Petrus 2:9 – “Julle is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God. Julle moet die verlossingsdade verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na Sy wonderbare lig”… en ons leef soos kinders van die lig deur alles wat ons is en het oor te gee aan die Gees van God. Hy sorg dat jy vrugte van geregtigheid dra. Om “heilig” te wees moet vir jou ‘n lewenswyse word.
Verse 9+10 sê as jy gered is en in die lig lewe, sal dit duidelik wees in die lewe wat jy leef en die keuses wat jy elke dag maak. Die lig sal op 3 maniere sigbaar wees in jou…
- Jou lewe sal getuig van goedheid – God se karakter sal sigbaar wees in jou motiewe, gedagtes, dade en optrede teenoor ander. As jy goedheid najaag sal jy lief wees vir mense rondom jou. Jy sal mense hanteer soos God jou in liefde hanteer.
- Jou lewe sal getuig van geregtigheid – Toe God jou gered het het Hy jou regverdig verklaar. Al jou skuld is in Christus weggeneem. Daarom sal jou lewe getuig daarvan dat jy vry is en nie meer ‘n gevangene nie omdat jy aan Christus behoort.
- Jou lewe sal getuig van waarheid – En dit het te doen met eerbaarheid, getrouheid en betroubaarheid. Die waarheid van God staan in duidelike kontras met die skynheilige, geveinsde, oneerlike, slinkse, bedrieglike, misleidende karakter van ‘n wêreld wat God níe ken nie.
Hierdie goedheid het te doen met jou verhouding met ander. Geregtigheid het te doen met jou verhouding met God. Waarheid het te doen met jou persoonlike integriteit.
As jy die Here ken sal hierdie 3 karaktertrekke deel van jou lewe wees. Jy sal wees soos Hy is. Dit sal die goeie vrug wees van jou verhouding met Jesus. Paulus sê in v.11 – “dán sal jy nie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie” Jou lewe sal die vrug dra van Goddelike goedheid, geregtigheid en waarheid.
Daarom sal Christene dit wat sleg is probeer vermy. 1 Tessalonisense 5:22 – “Bly weg van alles wat sleg is.” As ons nié in die wêreld is nie kan ons nie doen wat God van ons vra en ons roeping uitleef nie. Maar ons moet waak om nie versoek te word deur die wêreld se manier van doen en dink nie. Ons moet ánders wees, heilig en toegewy aan die eer van God. Hou wag oor jou hart en gedagtes en liggaam. Die Gees van God sal jou daarmee help. 1 Johannes 4:4 – “Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hý wat ín julle is (Heilige Gees) gróter is as die duiwel wat in die wêreld is.”
Paulus gaan in vers11 nog verder. Ons moenie net nié sonde doen en ‘n voorbeeldige lewe leef nie… “stel die sonde aan die kaak”… die woord wat hy gebruik beteken “om te berispe of te bestraf.” As ons maar net stilbly oor sonde is ons mede-verantwoordelik en net so skuldig. Ons moet sê wat die Woord sê wat reg en verkeerd is. Doen as Christus-volgeling die teenoorgestelde van wat die wêreld doen. As die wêreld selfsugtig is, is ons ruimhartig. As die wêreld vloek, dan seën ons. As die wêreld selfgerig leef, dan leef ons vir God en mekaar. As mense van die wêreld lieg en bedrieg, dan praat Jesus-volgelinge die waarheid. Die probleem is dat ons sonde nie hanteer vir wat dit is nie. Ons knik vir mekaar daaroor, lag daaroor, en spreek mekaar nie aan nie. Ons verdra dikwels sonde t.w.v. die vrede.
Geesvervuldheid beteken dat die Woord van God die riglyn bly vir jou lewe. En dit is eenvoudig waar dat as jy in die lig is sal jy maklik die bose rondom jou herken vir wat en wie dit is. Ek wil afsluit met 2 Skrifgedeeltes :
Matteus 5:14-16 (Jesus) – “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê kan nie weggesteek word nie. Laat julle lig só voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien.” Romeine 13:11-14 (Paulus) – “En dit is alles nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Dit is die uur dat julle uit die slaap wakker moet word. Die nag is byna verby, dit is amper dag. Laat ons ophou met die werke van die duisternis, laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort.”
Christene oor die algemeen was vir té lank slaapwandelaars in hierdie wêreld van ons. Dit is tyd om wakker te word en om die Here se werk te begin doen. Wees ‘n lig vir mense vasgevang in donker. Laat jou lig helder skyn waar mense seer het, of verward is en verkeerde keuses maak. Dit mag dalk net wees dat God joú lig gebruik om iemand te red wat in die donker vasgevang sit.
‘n Paar jaar gelede breek ‘n vuur uit in groot gebou in Skotland. Mense het geskarrel om uit gebou te ontsnap deur ‘n enkele gang wat na die straat gelei het. Die groot groep mense was letterlik ‘n paar meter van veiligheid af toe hulle oorweldig is deur ‘n dik rookwolk wat van buite-af in die gang ingewaai het. Rook het die lig van die straat afgesper en verhoed dat hulle die uitgang net 4 of 5 meter verder kon sien. In die donker het hulle nie geweet dat veiligheid net hier reg voor hulle was nie. I.p.v. om reguit deur die rook te hardloop na veiligheid, is hulle by ‘n sydeur in ‘n kamer in wat redelik veilig gelyk het. Binne ‘n paar minute is al die suurstof opgebruik en het hulle almal versmoor. As hulle net die lig gesien het sou hulle kon bly lewe.
Die wêreld het nodig om te weet dat daar lig is, en om die lig te sien. Die lig wat jy en ek moet uitdra. Dit is God se wil… dat Sy kinders lig sal wees in ‘n donker wêreld wat daarna soek. Sy lig maak die groot verskil. Mag jy lig wees vir Hom, en vir almal rondom jou. Mag Sy Gees jou help om dit te wees.
EREDIENSE
Nuutste Preke
Verloën jouself
Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …
Tussen-tyd-mense roep Maranatha!
Ds Gert preek uit Matteus 34:36-44
Bedaar en erken dat Ek God is
Ds Ulrich preek uit Psalm 46 en Handelinge 7:54-60
Meer oor ons
Media
Kontak
Privacy Policy


